Anni Dewani se moordenaar oorlede

Anni Dewani Foto: Facebook (Bron: dailymail.co.uk)

Anni Dewani Foto: Facebook (Bron: dailymail.co.uk)

Een van Anni Dewani se veroordeelde moordenaars is Saterdagmiddag in die Goodwood-gevangenis in Kaapstad oorlede.

Volgens Delekile Klaas, die departement van korrektiewe dienste se kommissaris in die Wes-Kaap, is Xolile Mngeni omstreeks 14:30 Saterdagmiddag in die Goodwood-gevangenis se hospitaal oorlede.

“Dit is jammer dat Xolile Mngeni oorlede is terwyl ons sy mediese toestand gemonitor het. Ons wil graag ons meegevoel betuig met sy familie en naasbestaandes,” het Michael Masuthu, minister van korrektiewe dienste, gesê.

Mngeni het in Junie vanjaar om mediese parool aansoek gedoen maar dit is afgekeur. Die adviesraad oor mediese parool het vroeër aanbeveel dat Mngeni op mediese parool vrygelaat moet word, nadat hy in 2011 met ʼn breingewas gediagnoseer is. Mngeni is ook in Julie in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad opgeneem.

Mngeni en sy medebeskuldigdes Zola Tongo en Mziwamadoda Qwabe is in 2012 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir Dewani se moord. Mngeni is ook 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede, en tot vyf jaar vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Die vonnisse word gelyktydig uitgedien.

Anni (28) is op 13 November 2010 tydens haar wittebrood in Gugulethu doodgeskiet. Haar liggaam is die volgende dag opgespoor. Haar man Shrien is in April uit Engeland aan Suid-Afrika uitgelewer en hy staan tans tereg op aanklag dat hy haar moord beplan het. Hy moet weer Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn.

Klik hier om alle vorige berigte oor die saak te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.