Antonio ondergaan uitmergelende operasie

Antonio Hechter in die hospitaal. Foto: Verskaf

Antonio Hechter, die matriekleerder van Hoërskool Zwartkop wat vroeër die maand ernstige beserings in ʼn motorfietsongeluk opgedoen het, het ʼn operasie van byna tien uur agter die blad waartydens dokters sy gebreekte arms geheg het.

“Hy is in verskriklike pyn,” het Berna Seddon, ʼn Hoërskool Zwartkop-ouer wat as woordvoerder vir Antonio se familie optree, Donderdag aan Maroela Media gesê ná dié operasie.

Seddon verduidelik dat die operasie nege en ʼn half uur geduur het om die been in sy regterarm met drade te heg. “Die arm was glo só beskadig dat dit lyk of die been gesplinter het.”

Antonio is ná afloop van die operasie terug geskuif na die hoësorgeenheid van die Kalafong-staatshospitaal waar hy weer suurstof en morfien ontvang het.

Volgens Seddon was Antonio veronderstel om Woensdag nog ʼn operasie aan sy been te ondergaan. Dit is egter nog onduidelik wanneer dié operasie gaan plaasvind nie aangesien noodsaaklike toerusting in die operasieteater wat tydens die operasie gebruik moet word, tans buite werking is en dit nie duidelik is wanneer dit herstel gaan word nie.

Seddon sê die familie is in gesprek met die padongelukkefonds (POF) wat moontlik kan help om Antonio in ʼn private hospitaal te laat opneem.

Sy verduidelik dat die aanvanklike plan was dat Antonio albei sy operasies by Kalafong ondergaan waarna geld wat tot dusver deur donasies ingesamel is, sou voorsien vir ʼn rehabilitasiesentrum waar Antonio kan aansterk. Planne kan egter moontlik verander afhangende of Antonio binnekort sy volgende operasie kan ontvang.

Maroela Media het vroeër berig Antonio en ʼn gr. 10-leerder, ook van Hoërskool Zwartkop, was saam op ʼn motorfiets toe hulle op 8 Februarie omstreeks 22:00 in ʼn ongeluk op die Ou Johannesburg-pad betrokke was. Daar word beweer ʼn motor het ʼn U-draai in die middel van die pad gemaak en die motorfiets het die motor getref.

Albei Antonio se arms en ʼn paar ribbebene is gebreek, en hy het erge beserings aan een been opgedoen. Hy het ook ʼn haarlynfraktuur in sy bekken.

Enigiemand wat tot Antonio se mediese sorg kan bydra, word versoek om Seddon te bel by 079 492 2916 of ʼn e-pos te stuur na [email protected].

Lees alle vorige berigte oor Antonio Hechter op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karolis ·

Maroela hierdie is net ‘n vraag,
maak jy nie eerder ‘n u-draai oor die middel van die pad nie?
Dit klink moeilik om ‘n u-draai in die middel van die pad te maak aangesien die middel gedeelte nie werklik so breed is nie en meeste motors nie so wyd kan draai nie.

Marinda ·

Sterkte, die pyn en ongemak sal ook oor gaan. Wees maar net geduldig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.