Antonio stappie nader aan lewe buite hospitaal

Antonio Hechter in die hospitaal. Foto: Verskaf

Antonio Hechter, die matriekleerder van Hoërskool Zwartkop in Centurion wat dae lank aan ʼn ventilator gekoppel was nadat hy in ʼn ernstige motorfietsongeluk betrokke was, is nou nog ʼn stappie nader daaraan om sy lewe buite die hospitaal te hervat.

Antonio (17) is Donderdagaand uit die hoësorgeenheid na ʼn ortopediese saal in die Kalafong-staatshospitaal oorgeplaas. “Vir die eerste keer in twee weke kon hy weer die son en wolke sien. Hy was baie dankbaar daarvoor,” sê Berna Seddon, ʼn Hoërskool Zwartkop-ouer wat as woordvoerder vir Antonio se familie optree.

Dit is nog nie duidelik wanneer Antonio uit die hospitaal ontslaan word nie, maar dié dag is nou meer in die vooruitsig as vantevore. “Sy suurstofvlakke lyk goed en hy ontvang nie meer heeltyd suurstof nie. Hy moet net self longoefeninge doen.”

Seddon sê Antonio is ook nou sterk genoeg om ʼn operasie te ondergaan om sy been te herstel wat ernstig in die ongeluk beskadig is, maar noodsaaklike toerusting in die operasieteater wat tydens die operasie gebruik moet word, is tans buite werking en dit is nie duidelik wanneer dit herstel gaan word nie.

Sy sê die verwagting is dat hy Dinsdag geopereer sal word, maar dit is nie gewaarborg nie.

“Sy versorging in die ortopediese saal is nie so goed soos dit was by die waakeenheid en hoërsorgeenheid nie. Hier is daar een suster vir elke ses pasiënte. Ons hoop en vertrou dit sal gou tot ʼn einde kom en dat Antonio ontslaan sal word na ʼn step down-fasiliteit om weer sterk te word.”

Sy sê Antonio se mediese rekeninge is egter steeds ʼn bron van kommer vir die gesin aangesien die tienerseun nie ʼn mediese fonds het nie. “Ons kort nog heelwat geld om sy mediese rekeninge vir die eerste tien dae in die step down-fasiliteit te betaal wanneer hy ontslaan word. Ons is ongeveer 70% daar met die fonds wat dit sal moontlik maak dat hy tien dae lank daar aansterk waar hy elke dag twee fisioterapiesessies sal ontvang,” sê Seddon.

Maroela Media het vroeër berig Antonio en ʼn gr. 10-leerder, ook van Hoërskool Zwartkop, was saam op ʼn motorfiets toe hulle op 8 Februarie omstreeks 22:00 in ʼn ongeluk op die Ou Johannesburg-pad betrokke was. Daar word beweer ʼn motor het ʼn U-draai in die middel van die pad gemaak en die motorfiets het die motor getref.

Albei Antonio se arms en ʼn paar ribbebene is gebreek, en hy het erge beserings aan een been opgedoen. Hy het ook ʼn haarlynfraktuur in sy bekken.

“Die familie is so dankbaar vir die ondersteuning wat hulle tot dusver ontvang het – die boodskappe, omgee en geldskenkings. Hulle is regtig oorweldig deur al die goedheid,” sê Seddon.

Enigiemand wat tot Antonio se mediese sorg kan bydra, word versoek om Seddon te bel by 079 492 2916 of ʼn e-pos te stuur na [email protected].

Lees alle vorige berigte oor Antonio Hechter op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Elsabie ·

Wonderlike nuus!! So bly jy voel beter seun!! Sterkte met die operasie, jy bly in my gebede!!

Louise ·

Ons is baie bly dit gaan beter met Antonio. Enige nuus op die meisie wat ook in die ongeluk was, hoe gaan dit met haar?

Jaap ·

Hoe de hel werk hospitaal se teater toerusting nie.
Klomp narre in mediese afdelings en instandhoudings werk.
Sterkte ou bul,bly jy beter

NET EK ·

Dis staats hospitaal. Ek het so ruk terug daar gele die Dr die suster vra vir IV LINES …. toe het die suster gese daar is nie meer nie???? Sy moes rond loop van saal tot saal tot sy gekry het

Nadia ·

Dis goeie nuus… ek is bly hy sterk aan,.. Maroela kan ons ‘n opvolg berig oor die meisie kry asb!

Bikecrash ·

Ai ouers dink mooi voordat julle motorfietse vir kinders gee. Ek verstaan en besef die rationaal. Maar dan moet jy voorsiening maak in terme van mediese sorg. My medies is nie top notch nie maar ek weet sou my kind in krisis wees is daar versorging. Ek het motorfietse verban, omrede die risiko so groot is. Nie omrede my kinders roekeloos is nie. Omrede padverbruikers nie omgee nie.

Corné ·

Stem volkome saam. Daar is geld vir motorfietse en dstv en sigarette en drank en tuindienste en huishulp maar nie vir mediese fonds nie. En ek praat nou oordie algemeen, ek bedoel niks oor hierdie familie. Ek sien dit ongelukkig te dikwels en dis hartseer.

Jani ·

Baie sterkte aan die seun, maar mens kan sien dit is ‘n Staats hospitaal die manier hoe die verbande aan sy arms lyk. Hulle kon darm dit netjies aangesit het. Hoop jy word gou beter sodat jy daar uit kan kom….

susan ·

As daar nie geld is vir rehab versorg hom self ek doen dit noual 3 maande en my man was 100 dae in ICU waar dasr ‘n wil is is daar ‘n weg

Richard de Klerk ·

In 1972 ook 17 jaar oud was ek ook in n baie ernstige motorfiets ongeluk. Ek was ook in n coma .Na n paar maande en n paar operasies is ek ontslaan uit die Joburg Gen, So jy het my innige meegevoel

Annie ·

Ag nee wat. Mens kan sien dit gaan stukke beter. Tik al selfs iets op die selfoon! Sterkte boeta!

Vra maar net ·

Vra maar net waarvoor is daar so baie finansows nodig aa dit ‘n profinsiale hospitaal is. Ek was daar vir ‘n galblaas operasie wn sit hwt my nie 1c gekos nie

Jojo ·

Ek is so bly hy is beter. Baie dankie Here. Ten spyte van ‘n staatshospitaal is hy oppad om te herstel vir die beter. So baie dankbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.