Antonio ‘vasbeslote om lewe terug te kry’ ná ongeluk

Antonio Hechter. Foto: Facebook

Antonio Hechter, die matriekleerder van Hoërskool Zwartkop wat verlede maand ernstige beserings in ʼn motorfietsongeluk opgedoen het, het Dinsdag met rehabilitasie begin, ʼn dag nadat hy uit die hospitaal ontslaan is.

Antonio is Maandag uit die Kalafong-staatshospitaal ontslaan waar hy sowat ʼn maand lank behandeling moes ontvang. Albei Antonio se arms en ʼn paar ribbebene is in die ongeluk gebreek en hy het erge beserings aan een been opgedoen. Hy het ook ʼn haarlynfraktuur in sy bekken opgedoen.

Ná die intensiewe behandeling in die hospitaal lê daar nou na verwagting nóg drie maande van rehabilitasie vir Antonio voor.

Berna Seddon, ʼn Hoërskool Zwartkop-ouer wat as woordvoerder vir Antonio se familie optree, het Woensdag aan Maroela Media gesê hoewel die rehabilitasie soos ʼn berg voor hom lê, is Antonio gretig om met die behandeling te begin.

Antonio Hechter in die hospitaal. Foto: Verskaf

“Hy wil dit net oor en verby kry,” verduidelik Seddon.

Antonio het ná sy ontslag uit die hospitaal eers ʼn aand by die huis deurgebring om in sy eie bed te slaap en sy ma se kos te eet voordat hy na ʼn rehabilitasiesentrum wat deur die Padongelukkefonds goedgekeur is, sou gaan.

Volgens Seddon is dokters hoopvol dat Antonio ten volle sal herstel. “Hy het Sondag al twee treë gegee,” vertel sy.

Sy sê wel dat Antonio baie emosioneel is. “Dit vang hom. Hy is maar moedeloos en dit is moeilik om hom op te beur. Maar hy doen getrou sy oefeninge. Hy is vasbeslote om die uitdagings te pak en sy lewe terug te kry.”

Antonio en ʼn gr. 10-leerder, ook van Hoërskool Zwartkop, was saam op ʼn motorfiets toe hulle op 8 Februarie omstreeks 22:00 in ʼn ongeluk op die Ou Johannesburg-pad betrokke was. Daar word beweer ʼn motor het ʼn U-draai in die middel van die pad gemaak en die motorfiets het die motor getref. Volgens berigte is die ander leerder ʼn paar dae ná die ongeluk uit die hospitaal ontslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nurse ·

Sterkte Antonio en familie! Spoedige herstel en byt vas die volgende paar weke.

Ma ·

Ek het baie vir jou gebid. Jy het dit gemaak. Wat stukkend is sal weer aangroei. Druk deur. Jy is voorwaar gelukkig om te lewe.

OudZwarrie ·

Vasbyt perd!

My Pa was toe hy in matriek was deur ‘n groentelorrie getrap en sou ‘n volle jaar vat voor hy weer kon loop. Twee jaar later het hy militêre diensplig gedoen!

Jy kan dit doen! Werk hard, maar wees geduldig!

Ouma ·

Jy is geseënd om te lewe, en die hoop op herstel te kan hê my kind! Almal is nie so gelukkig nie. . . Kyk OP en stap vorentoe! JY LEWE!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.