Antwoorde geëis ná verhoorafwagtendes ontsnap

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die VF Plus het vrae gerig aan Mpumalanga se LUR vir gemeenskapsveiligheid om die omstandighede te verduidelik rakende die ontsnapping van nege verhoorafwagtende gevangenes uit polisie-aanhouding in Badplaas/eManzana.

Werner Weber, VF Plus-LPW en die party se leier in Mpumalanga, het gesê die nege gevangenes is op verskillende aanklagte, insluitend moord, by die polisiestasie in die Albert Luthuli-munisipaliteit aangehou.

“Die beskuldigdes het verlede week glo ongesiens ʼn gat in die dak gemaak en komberse aanmekaar gebind wat as ʼn tou gebruik is om te ontsnap. Een voortvlugtende is intussen in hegtenis geneem, maar die ander agt is nog op vrye voet.”

Weber meen dit is kommerwekkend dat hierdie soort ontsnappings slaag. “Die VF Plus wil weet watter maatreëls getref is om dit te voorkom. Die LUR, Vusi Shongwe, sal moet verduidelik of die departement se bestuurspraktyke en sekuriteitstelsels geld.”

Die VF Plus het ook verlede week tydens ʼn sitting van die Noordwes-wetgewer geëis dat die omstandighede rondom die ontsnapping van vyf gevaarlike misdadigers uit polisie-aanhouding in Zeerust dringend ondersoek word.

Die vyf ontsnaptes het reeds vorige veroordelings en is aangehou op aanklag van moord, roof en verkragting.

De Wet Nel, VF Plus-LPW in Noordwes, het gesê dit is veral kommerwekkend dat die mans ontsnap het nadat boere-organisasies en lede van die gemeenskap die polisie herhaaldelik versoek het om doeltreffende maatreëls te tref om dit te voorkom.

“Dit is bekend dat die persone vantevore reeds uit aanhouding ontsnap het. Dit is belangrik dat die provinsiale regering homself sterk uitspreek teen sulke voorvalle en die hoë voorkoms van geweldsmisdaad in Noordwes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

Inside job! Iemand is omgekoop om hulle te help ontsnap! Raak ontslae van al die korrupte polisielede dan sal dinge beter gaan in die land. MEERDERHEID van die polisielede is KORRUPTE SKELMS wat self aandeel het in al die misdaad.

Burgermeester ·

Ek was ‘n baie groot aanhanger van Vyfster, en het altyd gehoop Skollie verwerf sy ‘Springbok-klere’. Ek is bevrees dat vandag se kriminele, Skollie se volstrekte pogings om te ontsnap maar amateuragtig laat lyk.

Anel ·

Pleks hulle hou die verhoorafwagtendes in die tronk aan en nie die polisieselle nie. Polusieselle was nog altyd net vir tydelike aanhouding.

Nie Verbaas ·

Ongesiens n gat in die dak gemaak en kaders het lekker op diens geslaap. Kyk maar net na die toestand van die polisie opleiding sentrum in Pretoria dan weet mens hoekom alles wat ANC is ten gronde gaan. Gee mens n goeie insig van huidige dissipline en trots.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.