Antwoorde geëis oor Emperors Palace-kwarantynfasiliteit

Emperors Palace (Foto: Facebook)

Gerepatrieerde mense, onder kwarantyn in die Emperors Palace-hotel, word glo teen hul sin daar gehou en die fasiliteit voldoen glo nie aan die departement van gesondheid se riglyne vir kwarantynfasiliteite nie.

AfriForum het Woensdag ʼn brief gerig aan Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, waarin dié burgerregteorganisasie antwoorde eis oor inligting wat ontvang is van gerepatrieerde mense wat onder kwarantyn in die Emperors Palace Peermont Metcourt en Mondior Hotel gehou word.

AfriForum oorweeg ook regsaksie in die verband as die minister nie bevredigende antwoorde verskaf nie.

Volgens die aangehoudenes voldoen die fasiliteit nie aan die departement van gesondheid se riglyne vir kwarantynfasiliteite nie. Hulle word ook teen hul sin daar gehou en amptenare skend hul fundamentele regte.

AfriForum het ook ’n verslag oor die ergste van hierdie skendings en oortredings aan die Minister gestuur, wat insluit:

  1. Die fasiliteit word nie behoorlik skoongemaak en ontsmet nie en kamers is onhigiënies.
  2. Die aangehoudenes word nie klinies vir simptome van die virus getoets nie.
  3. Die dieetvereistes van die mense word nie nagekom nie.
  4. Toetsing vir die virus vind op ’n inkonsekwente wyse plaas en mense word nie betyds van hul toetsuitslae voorsien nie.
  5. Die fasiliteit laat mense op ’n inkonsekwente wyse vry. Van sommige groepe wat op dieselfde dag daar aangekom het, kon sekere mense nie die fasiliteit verlaat nie, terwyl ander toegelaat is om huis toe te gaan.
  6. Gesinne word geskei en in verskillende kamers aangehou.
  7. Bejaarde, siek en swanger aangehoudenes ontvang nie die nodige mediese behandeling nie.
  8. Mense word soos gevangenes in hul kamers aangehou. Hulle mag nie dié kamers verlaat nie, buiten vir ’n paar minute per dag.
  9. Fasiliteitsbeamptes behandel aangehoudenes sonder respek en op só ’n wyse dat hul basiese menseregte geskend word.

AfriForum gun die minister ’n week om hierdie bewerings te ondersoek en terug te antwoord.

“As ons nie bevredigende antwoorde op hierdie versoek kry nie, oorweeg ons regstappe om aangehoudenes te help,” sê Monique Taute, hoof van Veldtogte by AfriForum. “AfriForum kan nie toelaat dat mense deur die regering gyselaar gehou word en dat daar inbreuk gemaak word op hul mees basiese menseregte nie.”

AfriForum het ook reeds ’n hofaansoek teen die minister van samewerkende regering en tradisionele sake ingedien om regulasies ongrondwetlik, onwettig en irrasioneel te laat verklaar. Dié regulasies bepaal dat die staat mense wat positief vir die virus toets, kan dwing om in staatsfasiliteite onder kwarantyn geplaas te word – ten spyte van die feit dat hulle doeltreffend kan self-isoleer.

“In die lig van AfriForum se onlangse hofoorwinning dat die Zithabiseni-kwarantynkamp sy deure moes sluit, is ons vol vertroue dat die aanhouding van mense by die Emperors Palace-fasiliteit irrasioneel en onwettig is. Ons kan nie toelaat dat hierdie tipe staatsoptrede in ’n presedent vir die behandeling van mense ontaard nie,” het Taute bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eerlik ·

Dis ten minste n hotel en nie n vervalle klomp grasdak geboue of n TB kliniek nie.

Alexz ·

Klink my na ñ gevangenis. Ek maak die afleiding dat in s.a ñ misdaad is as jy die virus het en dan word jy as geharde krimineel behandel!
Ek wonder hoeveel mense gaan toegesluit word wanneer hulle bloot net ñ verkoue of griep het???

koos10 ·

Maak maar knoop in oor, hulle sal ek nooit weer ondersteun nie.
Baie van die “kwarentyn kampe” het gespring om hulle self te probeer red gedurende die grendel staat, maar hulle het vir hulself soveel neagtiewe publisiteit geskep, dat hulle die onvermydelike net gaan uitstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.