Antwoorde gesoek oor Chinese ‘spioenasieskip’ in Kaap  

Die Yuan Wang 5 (Foto: The Yomiuri Shimbun /AFP)

Die DA het die regering versoek om antwoorde te verskaf oor die Chinese navorsingskip wat in Kaapstad se hawe aangekom het nadat dit voorheen in Durban vasgemeer was.

“Hierdie sogenaamde navorsingskip beskik oor die modernste tegnologie en toerusting om inligting in te samel en kan eintlik as ʼn spioenasieskip geklassifiseer word,” sê Kobus Marais, DA-LP en die party se woordvoerder oor verdediging.

Die skip het vroeg in April Durban se hawe aangedoen om brandstof aan te vul en daar was toe reeds kommer oor wat die vaartuig hier aan die suidpunt van Afrika kom doen. Dit het ook gevolg kort ná gesamentlike militêre oefeninge tussen Suid-Afrika, China en Rusland langs die KwaZulu-Natalse kus. Kenners het dié oefeninge beskryf is as ʼn “diplomatieke misstap” wat die land later duur te staan kan kom.

“Ons weet die Chinese het ʼn sterk doel om uit te brei, veral in Afrika. So lank as wat die skip ongesiens en onbelemmerd langs ons kus kan vaar weet ons hulle het toegang tot geweldig baie inligting uit Suid-Afrika uit. Wat is die doel daarmee? Dit is ons bekommernis en ʼn mens sou verwag dat die departement van verdediging en ook die regering in dié stadium al kommentaar hieroor sou gelewer het.”

So lank as wat die regering en ministers stilbly daaroor vergroot dit die kanse vir spekulasie en persepsies oor wat die skip hier doen, meen Marais. “Wat is so belangrik daaraan en hoekom mag ons nie weet daarvan nie? Ons dring daarop aan dat die regering moet oop kaarte speel en dat hulle nie verder ons uitvoer- en beleggingsmoontlikhede daardeur belemmer nie.”

Daar is vroeër berig dat die Yuan Wang 5 die vermoë het om die lansering van missiele en vuurpyle te kan monitor. Transnet het vroeër aan Bloomberg gesê die skip word vir navorsing gebruik, maar kon nie uitbrei oor die doel van die vaartuig se missie in Suid-Afrikaanse waters nie, aangesien hy nie ʼn mandaat het om sulke inligting aan te vra nie.

“Dit is belangrik dat daar oop kaarte gespeel moet word, vir ons eie toekoms en veral oor wat nou gebeur het rondom Rusland en persepsies van inmenging, beheer en invloed oor ons regering,” sê Marais.

Reuben Brigety, die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, het onlangs ʼn opskudding veroorsaak nadat hy beweer het dat Suid-Afrika einde verlede jaar wapens en ammunisie aan boord van die Lady R, wat in Desember in Simonstad vasgemeer het, na Rusland gestuur het.

AFP het verlede jaar berig die Yuan Wang 5 word deur Indië en die VSA van spioenasie-aktiwiteite verdink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.