Antwoorde gesoek oor metropolisie-hoë se aanstelling

Argieffoto: tshwane.gov.za

Argieffoto: tshwane.gov.za

Die munisipale vakbond Samwu het die Tshwane-metroraad versoek om te verduidelik hoe ʼn senior metropolisiebeampte aangestel is nadat sy na bewering haar kwalifikasies vervals het.

“Ons het binnekort ʼn vergadering met Jason Ngobeni, die stadsbestuurder, rakende die aanstelling,” het Nkhetheni Muthavhi, Samwu se streeksvoorsitter, aan Sapa gesê. “Ons wil weet hoekom die stad nie haar kwalifikasies geverifieer het voor sy in ʼn senior posisie aangestel is nie.”

Johanna “Trish” Armstrong word deur die metropolisie ondersoek vir bedrog. Armstrong kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Die metropolisie het Donderdag aangekondig dat hy vir Armstrong ʼn brief gestuur het waarin sy ingelig is van die voorneme om haar te skors. Senior superintendent Isaac Mahamba het gesê daar is ʼn moontlikheid dat Armstrong ook krimineel vervolg kan word.

Mahamba sê Armstrong, direkteur van navorsing en hulpbron-ontwikkeling, word ondersoek nadat sy glo dokumente vervals het om in haar posisie aangestel te word. Sy is sedert Mei 2013 in die posisie en verdien ʼn jaarlikse salaris van R704 650.

Volgens Armstrong se posbeskrywing is sy verantwoordelik vir die bestuur en oorsien van navorsing en ontwikkeling, vuurwapenbestuur, werknemers se welstand, en ander interne sake.

Armstrong word daarvan beskuldig dat sy haar verkeersdiploma en polisie-opleidingsertifikaat vervals het.

Mothavhi sê die paneel wat betrokke was by Armstrong se onderhoud en gevolglike aanstelling is onder meer van die kwessies wat tydens die vergadering bespreek sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theresa ·

Goeie magtig. Is daar GEEN eerlike aar in die spul se lywe nie….??????????????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.