Antwoorde gesoek oor nuwe uitvoerkwota vir leeubene

eeu-mannetjie-tande-maanhare

Foto: Guy Roberts/Unsplash.com

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Woensdag ʼn aansoek gebring om die departement van omgewingsake (DOS) te verplig om inligting bekend te maak oor hul besluit om die uitvoerkwota van leeugeraamtes te verhoog.

Dit volg nadat dié departement Maandag bekendgemaak het dat die uitvoerkwota van leeugeraamtes van 800 na 1 500 per jaar verhoog is. Die omstrede besluit het talle omgewingsaktiviste woedend gehad.

Maroela Media het berig Edna Molewa, die minister van omgewingsake, het gesê die nuwe uitvoerkwota sal terugwerkend met ingang van 7 Junie geld.

Luidens ʼn mediaverklaring van die DOS is die besluit op bewyse uit ʼn navorsingsprojek gebaseer wat die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) in samewerking met die Universiteit van die Witwatersrand, en die Universiteite van Oxford en Kent gedoen het.

Die navorsing het bevind daar is ʼn toenemende groei in die hoeveelheid opgepotte leeubeendere in Suid-Afrika omdat uitvoerkwotas streng gereguleer word. Die studie het verder bevind daar is min bewys dat wilde leeus gestroop word, maar die stropery van leeus wat in aanhouding geteel word, is aan die toeneem.

“AfriForum wil verseker die DOS het ʼn deursigtige besluit met die verhoging van die uitvoerkwotas geneem. Die besluit moet ook tot voordeel van Suid-Afrika se biodiversiteit vir almal wees.

“Ons wil seker maak dat die regte besluit wel in dié geval geneem is en die konvensie op die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) is wel tydig in kennis gestel van die DOS se besluit oor die kwotas,” het Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder van omgewingsake, gesê.

Volgens Boshoff het AfriForum die aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (WBTI) gedoen om die volgende inligting te bekom:

  1. Volledige afskrifte van die navorsingsprojekte waarop die besluit gebaseer is om uitvoerkwotas te verhoog;
  2. Inligting oor waarheen die leeugeraamtes uitgevoer word, asook waaraan die geld toegewys word wat daaruit gegenereer word;
  3. Bewyse dat die departement Cites van hul besluit in kennis gestel het;
  4. Inligting oor hoe die uitvoer van leeugeraamtes gereguleer word, asook boekstawings van die oorsprong van die beendere; en
  5. Bewyse dat die handel in leeugeraamtes tot die bewaring van leeus

Boshoff het aan Maroela Media gesê alhoewel die departement nog nie die ontvangs van AfriForum se WBTI-aansoek erken het nie, glo hy dit behoort teen vroeg volgende week te gebeur en dan moet die DOS binne dertig dae terugvoering op die aansoek verskaf.

Hy het benadruk dat AfriForum nie die leeutelers wil benadeel deur hul aansoek nie, maar eerder wil verseker dat enige besluite wat deur die DOS se geneem word altyd met wetenskaplike navorsing gesteun word en sonder die invloed van enige bymotiewe is.

leeu-mannetjie-wyfie-leeus

Foto: Wade Lambert/Unsplash.com

Omgewingsaktiviste steeds woedend

Intussen het Will Travers, die president en medestigter van Born Free, ʼn internasionale stigting wat hulself vir die bewaring van leeus beywer, in ʼn sterk bewoorde verklaring die DOS se verhoogde uitvoerkwota as ʼn siniese skuif beskryf wat “duidelik ontwerp is om kommersiële leeutelers te paai”.

Travers het aangevoer leeutelers het onlangs inkomste verloor na Amerika ʼn moratorium op die invoere van jagtrofeë van sogenaamde geblikte leeus geplaas het.

“Talle mak leeus is toe doodgemaak en hul geraamtes is opgeberg waarna telers druk op die plaaslike owerhede geplaas het om die uitvoerkwota te verhoog,” het die organisasie in die verklaring gesê.

Leeus se bene en liggaamsdele word dikwels as ʼn gewilde plaasvervanger vir tierbene gebruik. Dit word opgekook en verander in lym, koek of wyn en in winsgewende markte in Viëtnam, Laos of China verkoop as ʼn kuur vir talle kwale.

Born Free het vroeër vanjaar ʼn verslag getiteld “Cash before Conservation” gepubliseer wat die soeklig op die teel van leeus in Suid-Afrika en die geblikte jag en beenhandel van die roofdiere werp.

Die verslag beklemtoon die nadele van ʼn toenemende staatsgeborgde industrialisasie van wilde diereproduksie in Suid-Afrika en die gevare daarvan om wilde diere aan te hou bloot op grond van hulle winsgewendheid.

Traves glo ʼn wettige handel in die bene van geteelde leeus kan die produk se gebruik regverdig in die oë van verbruikers, ʼn toename in aanvraag veroorsaak en dit nog moeilik maak om stropers en handelaars se onwettige bedrywe hok te slaan.

Argieffoto ter illustrasie van leeus by Madikwe-natuurreservaat (Junie 2014) Foto: AP Photo/Kevin Anderson, File

Aktiviste kraak webblad in protes

Die presidensie se amptelike webblad is Donderdagmiddag tydelik gesluit nadat kuberkrakers wat hulself beywer vir leeus se belange, glo op dié blad toegeslaan het.

Thepresidency.gov.za was teen Vrydagmiddag om 13:30 steeds nie bereikbaar nie.

Paladin, wat glo in Afghanistan woon en die Twitter-naam @VirusSec het, het verantwoordelikheid hiervoor aanvaar en gesê webblad is verwyder omdat die regering gierig is en die geblikte leeubedryf in Suid-Afrika “walglik” is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Sien… hacking kan ook ‘n goeie doel dien. Die definisie van kuberkraak is.

Koos ·

Dis niks anders as opportunisme van AfriForum nie. Wat het leeubene met hulle te doen? Hier is oor as genoeg leeuplase in die land. Solank die leeus nie mishandel word en die ouens belasting betaal het dit niks met julle uit te waai nie.

Lerato ·

Die bleeding hart liberals het leeujag feitlik geknak. Nou sit leeuboere met groot getalle leeus wat vleis eet en niks inbring nie.

Goed so vir die leeuboere

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.