Antwoorde nog gesoek vir taverne-tragedie wat 21 tieners eis

Ondersoekers op die toneel (Foto: AFP)

Die polisie was Maandag steeds besig om die township-taverne in die Oos-Kaap te fynkam waar 21 tieners onder geheimsinnige omstandighede dood is.

Volgens die polisie is 17 tieners in die Enyobeni-taverne in Scenery Park in Oos-Londen dood en die ander vier op pad na of in hospitale in die omgewing. Nege meisies en 12 seuns, tussen 13 en 17 jaar oud, is in die treurspel dood.

Talle tieners is in die hospitaal opgeneem met simptome wat onder meer insluit rugpyn, ʼn toegetrekte bors, braking en kopseer. Die oorledenes het geen sigbare beserings gehad nie.

“Die vermoede is dat dit iets is wat hulle óf deur drankies óf kos ingeneem het óf iets wat hulle ingeasem het,” het Unathi Binqose, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid, gesê.

‘Ons versmoor’

(Foto: AFP)

Sinovuyo Monyane (19), wat deur die kroeg gehuur is om ʼn alkoholhandelsmerk te bevorder, het die voorval oorleef. Volgens haar was daar ʼn sterk en verstikkende reuk in die stampvol dubbelverdiepinggebou.

“Ons het deur die skare probeer beweeg en geskree ‘laat ons asseblief deur’ en ander het geskree ‘ons gaan dood’ en ‘ons versmoor’ en ‘daar is mense wat nie kan asemhaal nie’,” het sy aan AFP gesê.

“Ek het op daardie oomblik my bewussyn verloor. Ek was uitasem en daar was ʼn sterk reuk van een of ander soort sproei in die lug. Ons het gedink dit is pepersproei,” het sy gesê. Sy het later haar bewussyn herwin nadat iemand water op haar gespuit het.

“Ek het opgestaan en besef dat daar lyke rondlê. Ek het gesien hoe mense met water gegooi word, maar daardie mense het nie eens beweeg nie.”

ʼn Personeellid by die kroeg, Sifiso Promise Matinise, het aan AFP gesê hy het water op die bewustelose mense gesprinkel om hulle te probeer by kry. “Ek het gesien hoe twee mense ineenstort en sterf,” het hy gesê.

Luhlemela Ulana, ʼn platejoggie, het gesê mense het hul weg in die reeds stampvol lokaal in gedwing.

“Ons het probeer om die deur toe te maak, maar mense het aanhou druk. Die uitsmyters kon nie die skare hanteer wat van buite die ingangsdeur gedruk het nie. Daar was soveel mense.”

Hy het die musiek afgeskakel om die mense in die taverne te probeer ontmoedig, maar tevergeefs. Die skare was net “onbeheersbaar”, het hy gesê.

Moontlike oorsake

Daar word bespiegel dat ʼn gaslekkasie of vergiftiging moontlike oorsake van die tieners se dood kan wees.

Volgens Binqose is lykskouings gedoen om te bepaal of die sterftes met vergiftiging verbind kan word en forensiese ontleding sal ook hierdie week gedoen word.

“Monsters is geneem en is na Kaapstad gestuur, waar die toetse gedoen sal word,” het Binqose gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Casper ·

Julle kan nie” iets” op die doodsertifikate of op die DHA 1663 invul nie,daar moet of onnatuurlike oorsake of natuurlike oorsake ingevul word.Doen ordentlike nadoodse ondersoeke veral van die lugweg en longe.

Amelia ·

Waarom is al die wat dood is tieners? Was daar slegs tieners in die gebou of het hul jong ouderdom hul meer weerloos gemaak teen wat ookal hul dood veroorsaak het? Ek dink nie dit is ‘n geheim dat ‘n ander stel reels in die townships geld vir allerhande dinge vanaf munisipale bywette oor geraas, bouregulasies en onwettige verkoop van alkohol, ens. nie. Hier sien ons nou die gevolge daarvan.

Hendrik ·

Enn nog steeds soek hulle na Charl Kinnear se moord verdagtes . Hoe lank gaan die vat???

Koos 100 ·

My opinie. Gaan soek na die plek se kompetisie. In SA is dit absoluut normaal om enige persoon wat vir jou kompetisie is, eenvoudig uit die weg te ruim. Kyk maar na taxi bedryf.

Annelie ·

Die OUERS is die HOOF skuldiges! Ouers – sien om na jul kinders !

Kobus ·

Hoor oor die nuus dat ‘n 16 jarige oorlewende meisie die SAPD die skuld gee. Volgens haar kon die polisie baie lewens gered het. Nee jong dame, jy is verkeerd. Wat soek julle minderjariges in so ‘n plek? En dan tot 4 uur in die oggend?

VaalDonkie ·

Klink na ‘n chloor bom gegewe die beskrywing. maar dit kan omtrent enigiets wees.

Perdeby ·

Soek antwoorde shame, wonder of hulle weet monsters is geneem , en is by tox lab.

Henri ·

“Antwoorde nog gesoek”? Ek dink dis ‘n kwessie van die verkeerde vrae word gevra. Cele huil, maar geen haan kraai van die polisie, en regering, oor dertienjariges wat in die vroeë oggendure suip in ‘n stampvol kroeg nie. Dis blykbaar die reël Cele, en nie die uitsondering nie. Vra die regte vrae, dan kom die antwoode makliker.

Kobus ·

Cele se sterk punt is om dames op die strand sonder maskers te arresteer. Verder maak hy net lawaai en is ‘n uitmuntende akteur.

Cecilia ·

Kinders van die ouderdom 13 tot 17 Jaar in n Taverne, is die ouderdom nie nog 18jaar nie. Sluit die eienaar toe wat sukkel jong kinders in n taverne toegang gee? Dis onverantwoordelike ouers wat toe laat dat hul kinders van daar ouderdom na n Taverne laat gaan. Hoop hul kry die antwoord vir die tragedie!!!!!

Julius ·

Ek dink dit kan die uitlaat gasse van ‘n kragopwekker wees, aangesien daar gereeld beurtkrag is. Die simtome lyk soos vergiftigging van lug in ‘n geslote vertrek.

Hennie ·

Die ware tragedie is waarom was daar tieners in die drinkplek.

Chillipepper ·

Wat soek kinders van 13 -17 in elk geval in ‘n tavern en hoe word hulle daar toegelaat? Eienaar/bestuur moet ook toegesluit word.

Maritza ·

My hart gaan uit na die familie maar waar was die ouers wat toegelaat het dat hulle minderjarige kinders na ‘n taverne toe gaan? Nou soek hulle antwoorde

Manie ·

Dit klink asof vertrapping (stampeding) moontlik die oorsaak was.

Namgrl ·

geen sigbare beserings was opgelet nie. so, moes iets wees wat hul ingeasem het, of ingeneem het. vraag is, hoekom word net sekeres daardeur geafekteer en ander nie, was dit ‘n ‘select few’ – ons sal maar baie bespiegel hieroor. hoop net die waarheid kom uit. Dis nog steeds ‘n tragedie wat vermy kon gewees het. Ai toggies.

Swerwer ·

Kan nie sien dat die Eienaar van ‘n Tarverne so iets sou doen nie. Die moet iemand wees wat iets teen die eienaar het. Maar hoekom net jong kinders, is die plek net vir kinders gewees?

Niklaas ·

Die enigste of beklangrikste vraag wat beantwoord moet word is , wat het die jong kinders in die kuier gaan soek en hoekom daar toegelaat ?

Eden ·

Na drie dae van rondval het die mense nou uiteindelik besluit hoeveel dood is. Maar nog nie waaraan nie. Snaaks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.