Apartheidsgeld: Absa moet miljarde terugbetaal, sê OB

absa 01

Argieffoto.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), het aanbeveel dat die Spesiale Ondersoekeenheid die R1,125 miljard moet verhaal wat Absa, voorheen Bankorp, in die 80’s van die Suid-Afrikaanse Reserwebank ontvang het.

Sy het ook in die verslag aanbeveel dat die saak na die parlementêre portefeuljekomitee vir justisie en korrektiewe dienste verwys word om die Grondwet aan te pas om die primêre doel van die Reserwebank te wysig. Sy het voorgestel dat die mandaat van die Reserwebank verander word sodat die hoofdoel van die bank nou ook is om die sosio-ekonomiese welstand van Suid-Afrikaanse burgers te beskerm en dat daar gereeld oorlegpleging tussen die bank en parlement is om betekenisvolle sosio-ekonomiese transformasie te bewerkstelling.

Mkhwebane het dié aankondigings Maandag tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria gedoen waar sy terugvoer oor die werksaamhede en verskeie verslae uit haar kantoor verskaf het.

ʼn Voorlopige verslag het in Januarie vanjaar uitgelek waarin aangevoer is dat Absa gedwing kan word om R2,25 miljard staatshulp wat hulle in 1985 ontvang het, terug te betaal. Die verslag het ook voorgestel dat pres. Jacob Zuma ʼn kommissie van ondersoek moet instel na die beweerde plundering van die staatskas tydens die apartheidsjare. Die ondersoek is onder die toesig van adv. Thuli Madonsela, die vorige OB, voltooi.

Mkhwebane het nou in haar verslag aanbeveel dat ʼn ondersoek van stapel gestuur word na die beweerde wanbesteding van openbare fondse wat aan verskeie instellings gegee is soos vermeld in die CIEX-verslag.

CIEX, ʼn koverte Britse intelligensie-agentskap, het die verslag onder leiding van die MI6-agent Michael Oatley saamgestel. Die agentskap het van 1997 tot 1998 forensiese ondersoek insake apartheidskorrupsie namens die Suid-Afrikaanse regering gedoen. CIEX het onder meer aantygings ondersoek dat die destydse Bankorp-groep, wat in 1992 deur Absa gekoop is, R3,2 miljard deur die Reserwebank aangebied is onder die voorwendsel van ʼn reddingsaksie voor die aanvang van demokrasie.

Mkhwebane het bevind dat R1,125 miljard die bedrag is wat onwettig aan Bankorp geskenk is en nou van Absa verhaal moet word.

Sy het verder ook gesê CIEX is 600 000 Britse pond vir sy dienste betaal, maar die geld is vermors omdat die verslag inderwaarheid nooit gebruik of opgevolg is nie. Sy het die Suid-Afrikaanse regering en Reserwebank in haar verslag beskuldig van wanadministrasie en gesê hulle het versuim om hulle verpligtinge na te kom om sosiale onregte te herstel en doeltreffendheid te bevorder.

Meer agtergrond oor die CIEX-verslag

Adv. Paul Hoffmann het in 2012 die voormalige OB oortuig om die beweerde mislukte pogings van die demokratiese regering om die geld te verhaal wat Bankorp (nou Absa) van die apartheidsregering geleen het, te ondersoek.

Madonsela het vier jaar lank met alle partye beraadslaag. Sy het die erns van die aanklagte erken, maar toe gesê sy beskik nie oor die hulpmiddele om dit grondig en na behore te ondersoek nie. Hoffmann het sy begrip daarvoor uitgespreek.

Sy het wel later ʼn ondersoek van stapel gestuur, maar haar finale verslag is nie voor die einde van haar termyn afgehandel en onderteken nie. Sy het die konsepverslag aan Mkhwebane oorgelaat en dit is op 21 Desember 2016 aan al die betrokke partye gestuur vir kennisname.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
B-man

Vat so, ABSA (of eerder: “Gee terug, ABSA”?). Hoe gaan dit werk? Terug staatskas toe, waar Zuma-semels en Gupta-varke dit kan opvreet? OB verdien ook ten minste sekerlik ‘n bietjie kommisie, sodat haar kantoor sy verpligtinge kan nakom.

Jaco

En so begin die wiele draai om die fokus van Zuma en die Guptas se staatskaping en diefstal van fondse wat vir opbou gebruik kon word af te haal en op ABSA te fokus…. Gee hulle meer tyd om die land en nou die mynbedryf te plunder en blameer sommer weer die apartheidsregering vir hul mislukkings

foxi

Dis tyd om te ontrek van ABSA ……jy weet nooit wat die gevolge gaan wees nie.

Leendert

Wat ek wil weet, en dit sal ek graag van ekonome soos bv Dawie Rood ens wil hoor. Dit wat sy ondersoek het, as dit gebeur het, is dertig jaar gelede, ons lees mos nou al so ‘n tyd daarvan, en dit is sommer tjoef tjaf afgehandel, dit wel deur Madonsela. Ek sal ook graag wil sien of die banke daarteen gaan appeleer. As ek reg het, en die ekonome voorheen reg gelees het, was dit in die bubliek se belang dat ‘n reddingsboei aan Bankkorp uitgegooi is. Kom ons sien wat die eksperte oor hierdie bevinding te sê het.… Lees meer »

Isabel

Hierdie ouens weet nie waarvan hulle praat nie, as hulle diep genoeg krap sal hulle sien dat van daardie geld ondermeer gebruik is om die Lesotho hoogland projek te finansier, sal weet, ek het vir Bankorp gewerk