Apartheidsgeld: Absa moet miljarde terugbetaal, sê OB

absa 01

Argieffoto.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), het aanbeveel dat die Spesiale Ondersoekeenheid die R1,125 miljard moet verhaal wat Absa, voorheen Bankorp, in die 80’s van die Suid-Afrikaanse Reserwebank ontvang het.

Sy het ook in die verslag aanbeveel dat die saak na die parlementêre portefeuljekomitee vir justisie en korrektiewe dienste verwys word om die Grondwet aan te pas om die primêre doel van die Reserwebank te wysig. Sy het voorgestel dat die mandaat van die Reserwebank verander word sodat die hoofdoel van die bank nou ook is om die sosio-ekonomiese welstand van Suid-Afrikaanse burgers te beskerm en dat daar gereeld oorlegpleging tussen die bank en parlement is om betekenisvolle sosio-ekonomiese transformasie te bewerkstelling.

Mkhwebane het dié aankondigings Maandag tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria gedoen waar sy terugvoer oor die werksaamhede en verskeie verslae uit haar kantoor verskaf het.

ʼn Voorlopige verslag het in Januarie vanjaar uitgelek waarin aangevoer is dat Absa gedwing kan word om R2,25 miljard staatshulp wat hulle in 1985 ontvang het, terug te betaal. Die verslag het ook voorgestel dat pres. Jacob Zuma ʼn kommissie van ondersoek moet instel na die beweerde plundering van die staatskas tydens die apartheidsjare. Die ondersoek is onder die toesig van adv. Thuli Madonsela, die vorige OB, voltooi.

Mkhwebane het nou in haar verslag aanbeveel dat ʼn ondersoek van stapel gestuur word na die beweerde wanbesteding van openbare fondse wat aan verskeie instellings gegee is soos vermeld in die CIEX-verslag.

CIEX, ʼn koverte Britse intelligensie-agentskap, het die verslag onder leiding van die MI6-agent Michael Oatley saamgestel. Die agentskap het van 1997 tot 1998 forensiese ondersoek insake apartheidskorrupsie namens die Suid-Afrikaanse regering gedoen. CIEX het onder meer aantygings ondersoek dat die destydse Bankorp-groep, wat in 1992 deur Absa gekoop is, R3,2 miljard deur die Reserwebank aangebied is onder die voorwendsel van ʼn reddingsaksie voor die aanvang van demokrasie.

Mkhwebane het bevind dat R1,125 miljard die bedrag is wat onwettig aan Bankorp geskenk is en nou van Absa verhaal moet word.

Sy het verder ook gesê CIEX is 600 000 Britse pond vir sy dienste betaal, maar die geld is vermors omdat die verslag inderwaarheid nooit gebruik of opgevolg is nie. Sy het die Suid-Afrikaanse regering en Reserwebank in haar verslag beskuldig van wanadministrasie en gesê hulle het versuim om hulle verpligtinge na te kom om sosiale onregte te herstel en doeltreffendheid te bevorder.

Meer agtergrond oor die CIEX-verslag

Adv. Paul Hoffmann het in 2012 die voormalige OB oortuig om die beweerde mislukte pogings van die demokratiese regering om die geld te verhaal wat Bankorp (nou Absa) van die apartheidsregering geleen het, te ondersoek.

Madonsela het vier jaar lank met alle partye beraadslaag. Sy het die erns van die aanklagte erken, maar toe gesê sy beskik nie oor die hulpmiddele om dit grondig en na behore te ondersoek nie. Hoffmann het sy begrip daarvoor uitgespreek.

Sy het wel later ʼn ondersoek van stapel gestuur, maar haar finale verslag is nie voor die einde van haar termyn afgehandel en onderteken nie. Sy het die konsepverslag aan Mkhwebane oorgelaat en dit is op 21 Desember 2016 aan al die betrokke partye gestuur vir kennisname.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

B-man ·

Vat so, ABSA (of eerder: “Gee terug, ABSA”?). Hoe gaan dit werk? Terug staatskas toe, waar Zuma-semels en Gupta-varke dit kan opvreet? OB verdien ook ten minste sekerlik ‘n bietjie kommisie, sodat haar kantoor sy verpligtinge kan nakom.

Jaco ·

En so begin die wiele draai om die fokus van Zuma en die Guptas se staatskaping en diefstal van fondse wat vir opbou gebruik kon word af te haal en op ABSA te fokus…. Gee hulle meer tyd om die land en nou die mynbedryf te plunder en blameer sommer weer die apartheidsregering vir hul mislukkings

foxi ·

Dis tyd om te ontrek van ABSA ……jy weet nooit wat die gevolge gaan wees nie.

Leendert ·

Wat ek wil weet, en dit sal ek graag van ekonome soos bv Dawie Rood ens wil hoor. Dit wat sy ondersoek het, as dit gebeur het, is dertig jaar gelede, ons lees mos nou al so ‘n tyd daarvan, en dit is sommer tjoef tjaf afgehandel, dit wel deur Madonsela. Ek sal ook graag wil sien of die banke daarteen gaan appeleer. As ek reg het, en die ekonome voorheen reg gelees het, was dit in die bubliek se belang dat ‘n reddingsboei aan Bankkorp uitgegooi is. Kom ons sien wat die eksperte oor hierdie bevinding te sê het. Ek dink hierdie is als ‘n poging om die ANC regering nie die enigste vark in die verhaal te maak nie. Hulle gaan als in hul vermoë doen om die die Faraos op te grawe.

Isabel ·

Hierdie ouens weet nie waarvan hulle praat nie, as hulle diep genoeg krap sal hulle sien dat van daardie geld ondermeer gebruik is om die Lesotho hoogland projek te finansier, sal weet, ek het vir Bankorp gewerk

Adam ·

Korrek Isabel en wat verder ook nie deur lesers in ag geneem word nie, is dat Absa eers veel later in die begin van die negentigerjare gestig is. Destyds was Bankorp besit deur Sankorp, die “beleggingsarm” van Sanlam. Ek sidder om te dink aan die miljarde wat semi staatsintellings SA kos. Dit is veel meer as wat Bankorp destyds ontvang het en dit is ook nie destyds weggesteel nie. Hoe dit ook al sy, ‘n bietjie moeilkheid vir Absa sal my nie laat wakker le nie, daavoor tree hulle heeltemal te minagtend teenoor hul kliente op.

Johann ·

Kyk mooi hoe sing en dans die Zumaikie handpoppe orals waar hulle kan om aandag af te trek van die blatante leegdra en besteel van SA se staatskaste!!!!!!!

Johann Marx ·

En uiteindelik is ek reg. Daar is nie ‘n woord soos “amalgemeerde banke Suid Afrika” (ABSA) nie. Dit is “GE-Amalgemeerde Banke Suid Afrika”….en dus is dit? GABSA!!

Nic ·

Die akroniem “ABSA” kom van die Engelse benaming “Amalgamated Banks Southern Africa” wat deur die destydse Hoof Uitvoerende Beampte van United Buiding Society op aangedring is en waarby Volkskas ingestem het op voorwaarde dat die voertaal van die nuwe bank 60% Afrikaans sal wees! Allied Bouvereniging het toe tot die ABSA Groep toegetree en heelwat later (‘n hele klompie jare later) Bankorp wat bestaan het uit Trust Bank en Santambank.

al ·

Wat van African Bank? Het dit nie ook ñ reddingsboei ontvang van ons huidige regering nie?
Wat is die verskil?

Hans ·

Sosio-ekonomiese aangeleenthede hoort tuis by die betrokke staatsdepartemente en nie by die Reserwebank nie.

Jan ·

Ek dink die mense soos die OB en die kompetisie kommissie soek nou oral vir die regering geld omdat daar nie genoeg belasting ge-in word nie. Ook die myne en die plase word geteiken, daar is een groot heksejag na geld in die land aan die gang. En daar is bykans nie ‘n staatsdepartement wat nie in die moeilikeid is nie.

Elsabe Otto ·

Nou hoe wil sy grondwet aanpas of wysig! Jammer dit kan niemand doen nie behalwe staatstemming met meerderheid stemme. Nee klink nie reg nie. Nou klink die ondersoek ook nie meer reg nie.

Leendert ·

Elsabe, sy stel in haar verslag voor dat die grondwet gewysig moet word dat dit nie die primêre taak van die Reserwebank is om die waarde van land se geldeenheid te beskerm nie, EN DAAR VAL DIE RAND TOE, NA HAAR AANKONDIGING, MET 1,6%.

Nou vra ek, met trane in my oë, wat die ….. dinges weet sy van die ekonomie en die markkragte, die tesourie, of die werking van die reserwebank af, dalk moet sy sommer ‘n verslag skryf oor hoe maak mens ‘n kruiwa, of dalk kan sy skryf oor hoe mens die wiel herontwerp.

Leendert ·

Ja, ek moet byvoeg, so asof daar nie genoeg onbekwame mense in regeringsposte is wat help dat die land afgradeer word nie, blaf hierdie Einstein saam. het nie ‘n idee wat sy doen nie.

Sy het haar nou bewys as magtiger as Zuma, so agter die skerms, en as sy dit kan regkry dat die Grondwet verander word, swaai sy ook vir Hoofregter Mogoeng aan sy stert.

Michael ·

Ek vertrou hierdie openbare beskermer glad nie vinnig om Absa aan te vat traag om Zuma en die Guptas te ondersoek

JoeV ·

Klin ook te vinnig na die een kant toe, niks na die ander kant toe.

al ·

Baie waar! Haar prioriteite is duidelik nie reg nie. Absa bank kan wag, staatskaping is dringender. Staatskaping bring die land op sy knieë.

Heleen ·

Hulle sal alles in hul vermoë doen om die aandag v Zuma en Guptas af te lei…

marous ·

Hoop hulle verstaan dat Absa nou deur Barclays besit word.

Johann ·

Dan wonder ek waar de dinges kom my “persepsies” van hierdie mense vandaan?

Gatvol ·

Elke hond kry sy dag dankie dat GABSA ook nou syne kry. Hulle het destyds skelm meer rente gehef op oortrokke rekeninge. My pa het n oudit laat doen oor 20jaar en daar was oormatige rente gehef van R118 000.00 Toe hy hulle aanvat daaroor roep hulle sy oortrokke rekening op en hy moes noodgedwonge sy plaas verkoop om nie bankrotskap in die gesig te staar nie. Die wiel draai al vat dit 25 jaar hoop GABSA kry wat hulle toekom

Jakobus ·

Dan vra ek, waar grawe die ANC hierdie mense wat hulle aanstel uit? Lyk my dit kom net sommer uit die grond op …….. Die magtigste selfvoldane vrou in Afrika. Wag dat ek liewer my frustrasie op Twitter gaan uithaal.

Scalla ·

Saam gebou, saam gevou, saambou geen staatshulp ontvang, african bank wel, dubbele standaarde, losers

Zirk ·

Die terugeis van baie geld by Absa bank is is een kant van die ondersoek.
Ek stem saam met Hans. Wat de hel het die sosio maatskaplike plig van die Resewebank nou daarmee te doen. Hier is myns insiens ‘n bedekte poging om die grondwet so te verander, oftewel minstens so wollerig te bewoord, dat die Reserwebank omvorm kan word na ‘n “charity institution” waaruit geld geplunder kan word onder die voorwensel van hulp aan verontregte landsburgers.
Die OB moet hom bepaal by die huidige kriminele leegsteel van die staatskas.!!

Isabel ·

Ag dankie tog, ek is nou so verlig, arme Jan van Riebeeck het nie die keer die skuld gekry nie! Ek steur my meeste van die tyd min wat in die parlement aangaan, maar hierdie is belaglik, hulle breek af, ons moet opbou, klomp narre.

Viking ·

CIEX is ‘n koverte Britse instelling wat definiteif kolonialisties moet wees , ek verstaan dan kolonialisme was so ‘n groot euwel maar hulle word gebruik om apartheids vergrype op te spoor

SARIE VAN HEERDEN ·

Absa se dag het aangebreek. ‘n Paar jaar gelede is groot publisiteit verleen aan spesifiek ‘n klomp dames wie geld verloor het agv van een of ander skelmstreek by Absa en weet nie of hulle ooit iets teruggekry het nie. Ongelukkig kan/wil ek nie die enigste oorblywende rekening by Absa sluit nie want doen jy is dit NAG! Waarheen dan? iS DAAR NET EEN PLEK IN HIERDIE LAND NOG OOR WAAR DAAR MENSE MET INTEGRITEIT NOG WERK?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.