APC mik vir miljoen stemme by stembus

Themba Godi, leier van die African People’s Convention. (Foto: ANA)

Die African People’s Convention (APC) mik om oor net meer as drie weke minstens een miljoen stemme uit die 26 miljoen geregistreerde kiesers by die stembus te kry, het Themba Godi, leier van dié party, Saterdag gesê.

“Die besluit om te mik vir ʼn miljoen stemme kom van die sentrale uitvoerende komitee van die APC af. Met ʼn miljoen stemme sal ons minstens 25 setels in die nasionale vergadering en verteenwoordiging in al nege provinsies hê,” het Godi gesê. “Ons glo dit sal ʼn groot genoeg getal wees vir ons om ʼn ingrypende impak op regeringsbeleid en regeringskwessies te hê.”

Godi het dié uitsprake gemaak tydens ʼn steunwerwingsveldtog in Motlhabe, sowat 83 km van Rustenburg in die Moses Kotane-munisipaliteit.

Die ACP het in 2014 altesaam 30 676 stemme gekry wat die party een setel in die nasionale vergadering gegee het. Dit was minder as die 35 867 stemme wat die party in die 2009 algemene verkiesing gekry het. In Noordwes het die APC egter daarin geslaag om sy steun uit te brei, van 3 744 stemme in 2009 tot 4 398 in 2014.

Godi het Saterdag aan ondersteuners in Motlhabe gesê swart mense het nie voordeel getrek uit die demokrasie van die afgelope 25 jaar nie. “Die ekonomiese trajek van die land het nie verander nie. Die meerderheidsparty kon nie daarin slaag om die ekonomie te transformeer nie. Vir die afgelope 25 jaar het die meerderheidsparty net probeer om wit mense te paai en wat gebeur het, is dat Indiërs hoofsaaklik munt geslaan het uit die demokratiese ruimte om met die ekonomiese leer op te beweeg.

“Dit is hierdie twee groeperings wat ongeveer 10% van die bevolking uitmaak wat die meeste voordeel uit die demokrasie getrek het,” het hy aangevoer.

In sy 2019-verkiesingsmanifes wy die ACP hom toe aan beter regeringsbestuur, die stryd teen korrupsie, transformasie van die ekonomie, werkskepping en die lewering van basiese dienste aan mense.

Godi het ook gister by die Moruleng- en Boitekong-winkelsentrums rondgeloop om kiesers te ontmoet. Hy sal vandag ʼn kerkdiens in Itsoseng naby Lichtenburg bywoon voordat hy sy deur-tot-deur-veldtog in Tlhabologang in Coligny sal voortsit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Stem ·

Hoe is dit moontlik dat our people nou nog nie werk vir hulself kan skep nie? Na 25 jaar glo hulle nog die politici se beloftes. ‘Vote for fools and suffer” , die stuggle sal nooit einde kry nie!

Adam ·

Stem, hoe dink jy vaar ons Afrikaner “people” met die skep van werk vir ons eie mense? Ek kry die idee ons draai maar net ons koppe weg vir ons medemens wie werkloos is. Ongelukkig is ons wat werkskepping aanbetref in dieselfde boot weens ons vrotsige regering se onderdrukking van entrepeneurskap.

fred ·

onregstreeks gee hulle toe dat ondanks BEE en grootskaalse staatskaping hulle nog meer beskerming nodig het om te kompeteer met die 10% van die bevolking….wonder wie is hierdie 10%??

Johan ·

Wit bevoorregting in die Nuwe Suid-Afrika is ‘n mite. Die Blankes het lankal nie meer die politieke beheer nie en werksgeleenthede bestaan amper nie meer vir die Blankes nie. Mense vergelyk graag die middelklas en gegoede klas Blankes met die armste Swartmense… Draai die situasie om en vergelyk die armste Blankes met die die middelklas en gegoede klas Swartes. Dan lyk die prentjie dieselfde!

fred ·

jy is reg Johan,ek bly in Midrand en sien die BEE elite elke oggend,nie te vroe nie,so tussen 8u30 en 9u30 na die “werk” ry. Amper almal van hulle in duur duitse karre,bly in golf estates ,en glo nie hulle is ouer dan 30 jaar.Met die ekonomie wat nie groei nie wat is hulle bydraë tot hierdie kand?

Jan ·

Maar dis mos wat julle wou gehad het.was julle al die jare blind vir die geweldige swart bevolkingsaanwas….

Hennie ·

Ai siestog man. Nog ‘n skadu-agtige gedaantes wat glo ‘n regering moet iets vir sy mense vermag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.