Apie gered ná advertensie op Facebook

Die apie in die selfgemaakte hokkie (Foto: Bloemfontein SPCA)

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein het tot ʼn blouapie se redding gekom wat vir R5 000 op Facebook te koop aangebied is.

Duan Matthee, ʼn inspekteur van die DBV in Bloemfontein, sê die advertensie het Dinsdagoggend onder die DBV se aandag gekom en dat hulle met behulp van die publiek en die polisie die verkoper in Tweespruit, sowat 150 km van Bloemfontein, opgespoor het.

Die man, in sy vroeë 20’s, het die apie gevang en eers aan tradisionele genesers vir moetie probeer verkoop.

Die advertensie op Facebook (Foto: Bloemfontein SPCA)

“Hy het toe die apie op Facebook geadverteer omdat sy prys glo te hoog vir die tradisionele genesers was.”

Met die DBV se aankoms by die man se huis het die polisie die deur oopgemaak en daarop aangedring dat die man die apie vir hulle wys.

“Die apie is in ʼn selfgemaakte, geroeste hokkie gevind. Hy het ook nie kos of water gehad nie.”

Volgens Matthee is dit nie bekend of die jong man al voorheen apies gevang en probeer verkoop het nie.

Die DBV het die apie in hul sorg geneem en beoog om ’n saak van dieremishandeling teen die man aanhangig te maak.

“Dis ondenkbaar om te dink dat iemand so ʼn mooi dier sal vang en op Facebook probeer verkoop. Dit was vir ons ʼn groot skok om die advertensie te sien.”

Die DBV doen ʼn beroep op die publiek om enige soort wreedheid of dieremishandeling, soos gesien op plasings op Facebook, by hul naaste DBV aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.