Apie ná maande van paal gered

Foto: DBV

ʼn Blouapie wat maande lank aan ʼn paal drie meter bo die grond vasgekluister was, is uiteindelik in veilige hande nadat hy deur beamptes van die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) gered is.

Reinet Meyer, senior inspekteur by die DBV, het aan Maroela Media gesê die apie is uit ʼn nedersetting buite Koffiefontein in die Vrystaat gered. Die aap is aan ʼn staalpyp vasgemaak wat drie meter bo die grond tussen ʼn plakkershut en ʼn staalpaal vasgemaak is. Volgens Meyer moes die aap dus noodgedwonge vir maande lank dag en nag aan die paal vasklou en was daar geen plek vir hom om te lê of af te klim grond toe nie.

Foto: DBV

“Maak nie saak of dit winter of somer is nie, ʼn staalpaal wat heeldag in die son bak word warm. So die apie se hande en voetjies het op die paal stukkend gebrand. Hy was ook erg vermaer toe ons hom gekry het, want die eienaar van die plakkershut het hom net pap gevoer wat nie genoegsame voeding vir ʼn aap is nie. Met ons aankoms daar was daar geen kos of water vir die aap beskikbaar nie,” het Meyer gesê.

Sy het gesê die eienaar het die aap maande gelede by ʼn nabygeleë rivier gevang nadat sy voorvadergeeste glo vir hom gesê het hy sal rykdom ontvang indien hy die aap aanhou. Met die DBV se aankoms by sy huis het hy eers die voorvadergeeste “geraadpleeg” voordat hy die aap aan die inspekteurs oorhandig het.

Foto: DBV

Volgens Meyer het die aap nog nie slagtande nie en is hy nie meer as ʼn jaar oud nie. Die inspekteurs by die DBV vermoed dat hy nog ʼn baba-aap was toe hy gevang is.

Meyer het gesê die aap moet nou na ʼn veearts in Gauteng geskuif word wat spesifiek toegerus is om na wilde diere om te sien. Daarna sal die aap na ʼn rehabilitasiesentrum in ʼn wildreservaat in Limpopo geskuif word.

“Die apie het nou mak geword en is nou gewoond aan mense. Hy moet nou eers weer in sy natuurlike omgewing aanpas en weer leer om self vir hom kos te kry en so aan. So daar is nog ʼn lang pad wat voorlê,” het sy verduidelik.

Foto: DBV

Sy het gesê die koste om die aap te behandel en na die wildreservaat te laat oorplaas, sal ongeveer R4 000 beloop. “Ons doen ʼn beroep op mense om asseblief te oorweeg om by te dra tot die koste van die apie se versorging,” het Meyer gesê.

Donasies kan direk by die DBV se bankrekening inbetaal word:

Rekeningnaam: SPCA
Bank: ABSA
Rekeningnommer: 9279102644
Takkode: 632005

Mense kan ook DONATESPCA na 40580 SMS om R20 by te dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

wicus ·

EK LEES NIKS WAT DIE SPCA GAAN DOEN OOR DIE KNAP WAT HOM VASGEMAAK HET NIE ,

Domvraag ·

Het die DBV n klagte ingedien en is die eienaar aangekla of geld hier weer ander reels en standaarde??

Jakkalas ·

Wat van die idee om ‘n gedeelte van die bedrag te verhaal van die eienaar of die se “voorvaders”. Sal die DBV rerig ernstig optree teen oortreders ongeag wie hulle is of watse redes of geloof hulle voorhou.

Cherokee ·

“as dit nou ‘n blanke was……..” het nou een van die nuutste rympies geword. Een van daardie wat gaan aanhou en aanhou.
Niks word gesê mbt vervolging van die dieremishandelaar. Onbeskaafdheid kan hom tog nie vryskeld nie. Vanmôre om tienuur het ‘n vrou met ‘n baba op haar rug my besoek in my kantoor en hulp gevra om ‘n ambulans te bestel vir haar siek kleindogter. Sy kan geen Engels praat maar slegs Zulu en toe ek haar om haar besonderhede vra is sy ‘n Zuma vanaf Nkandla. Toe sy die trek van afkeur raaksien het sy gesê haar man is Jacop Zuma se broer. Sy het darem nie voorvadergeeste om raad gevra nie maar ‘n moderne ambulans het haar kleindogter na ‘n hospitaal vervoer. Hierdie is Afrika.

Thersia ·

Kyk onder aan berig en stuur tog sms na daardie nommer om R20.00 te gee, ons land se diere het elke sent nodig!!

Geld makni krom reguit ·

Die Aap sal in die natuur vir homself kan sorg waar hy hoort vat hom soontoe. Daar is baie kinders wat beter versorging benodig. Geld vir opvoeding en kennis vir beter samelewing begin by die mens (huis) en diere sal maw ook hul waardige bestaansreg dan ontvang.

Nadia ·

“The greatness of a nation and its moral progress can be judged by the way its animals are treated.”

Ilze ·

En in tussen moet die diere suffer tot mens genoeg opvoeding en kennis gekry het. Asb tog! Te min mense help diere organisasies, want dit is mos net diere. Maar ons bemors hulle habitat ons bou en breek sonder om twee keer te dink oor die ekosisteem wat ons op neuk, ons vat die diere uit hulle natuur.
Nou moet ons slegs geld eerder insamel vir die mens? Dit is die mens se verantwoordlikheid om na die aarde om te sien. En as ek rond kyk lyk dit vir my ons doen n baie swak taak daarvan.

Ek stem saam daar moet geld ingesamel word vir kinders, en minder bevooregtes en tog gee mense waar hulle kan, hetsy dit is deur middle van ‘n sms te stuur of aan die kerk te gee ens. Maar daar moet n balaans wees waar diere ook ‘n deel van die “pie” kry.

Niekie ·

So so verskriik wreed. Daai apie of enige ander dier verdien dit nie. Mense dink diere het nie gevoelens nie maar hulle is deur dieselfde God as ons geskape so ja hulle het n gevoel. Hoop almal betrokke word baaaaaaaaaaie swaar gestraf??

FRED ·

Geld Makni – ens ens. Glo my hy het nie gevra om gevang te word en van sy natuurlike lewe ontneem te word nie – en so wreed behandel te word nie. Jy weet nie waarvan jy praat nie – ongevoelige mens. So n pragtige klein dietjie. Vat daardie persoon en sit hom op die paal vir jare.. Gevoellose mens. Dank die Here – laat ek maar liewer stil bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.