Apie uit selfoontoring gered

Die apie sit bo in die selfoontoring. (Foto: Facebook)

’n Apie is die naweek uit ’n selfoontoring in ’n informele nedersetting buite Bloemfontein in die Vrystaat gered.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein het Vrydag in ’n verklaring gesê hy het op die eerste dag van die algehele landwye afsondering ’n oproep ontvang van ’n apie wat in ’n selfoontoring vasgekeer is. Inwoners het klippe na die dier gegooi.

Luidens die verklaring het die apie sowat 50 m hoog in die selfoontoring gesit ten tyde van beamptes se aankoms op die toneel. Sowat 300 inwoners het in dié stadium rondom die selfoontoring gestaan.

“Ons het vir die inwoners gesê dat hulle in hul huise behoort te wees weens die afsondering, maar hulle het ons geïgnoreer. Ons kon gelukkig toegang tot die skoolterrein kry om ’n veilige afstand van die mense te staan en ook nader aan die apie te kom,” het ’n beampte in die verklaring gesê.

Luidens die verklaring het drie beamptes noodgedwonge die toring met ’n net opgeklim. Die apie het egter in dié stadium op die toring rondgespring.

Beamptes klim die selfoontoring op om die apie te vang. (Foto: Facebook)

Volgens die beampte is die apie eindelik ná ’n gespook van sowat twee uur lank gevang en na veiligheid geneem. Die beamptes moes egter bontstaan om die apie te beskerm aangesien talle inwoners die apie as ’n bedreiging beskou het. Drie polisievoertuie het egter opgedaag waarna die beamptes met die dier kon terugkeer na die DBV in Bloemfontein waar daar vasgestel is dat hy geen beserings opgedoen het nie. Die apie sal binnekort na ’n veilige hawe vir diere geneem word.

Die DBV doen ’n beroep op skenkings, byvoorbeeld kos, vir die apie. Maak hier kontak met die DBV.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

Mens sou dink die beamptes kon darem vir die apie iets uit hul huise gee om te eet. Dit kos darem rerig bitter min.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.