Apostoliese priester doodgeskiet

Argieffoto: SAPD

ʼn Deeltydse priester (59) van Kaapstad is vandeesweek koelbloedig doodgeskiet terwyl hy vroegoggend op pad na sy werk as veiligheidsbeampte was.

Manuel Jansen is Dinsdag omstreeks 05:20 in Merrydalelaan, Lentegeur, deur onbekende aanvallers genader wat hom glo wou beroof, sê kapt. Hein Hendricks, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder.

“ʼn Worsteling het ontstaan tussen die verdagtes en die oorledene, waarna laasgenoemde noodlottig gewond is,” sê Hendricks. “Die verdagtes het op die vlug geslaan nadat ʼn polisieman wat van diens af was, tussenbeide getree het.”

Die polisie het ʼn vuurwapen op die toneel gekry en ondersoek ʼn moordsaak.

Die Daily Voice berig Jansen is oorval terwyl hy op ʼn bus gewag het. Volgens dié dagblad is een van die verdagtes kort ná die aanval aangekeer.

Jansen het voltyds as veiligheidsgewag gewerk, maar was ook bekend in die plaaslike gemeenskap as ʼn priester van die Nuwe Apostoliese gemeente Hazeldene.

ʼn Ooggetuie het aan die koerant gesê sy was op pad werk toe, toe sy sien hoe drie mans Jansen probeer beroof.

“ʼn Polisieman wat hier naby woon, het ʼn waarskuwingskoot afgevuur en een van die ouens het weggehol,” het sy gesê. “Die ander twee het gebly en die man beroof en hom toe geskiet.”

Die vrou het nader gegaan en gesien Jansen leef nog. “Hy was sterk en het nog asemgehaal, maar dit was nie lank nie, toe sterf hy.”

Jansen is eers in die kop geskiet en daarna in die maag terwyl hy met sy aanvallers geworstel het.

Hendricks vra enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, moet speursers. Francois Jordaan by 082 411 2382 bel of Stop Misdaad by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Skroef ·

Watter amateur beroof n sekuriteitswag? Nee man. Dit was moord.

Eddy ·

Dis baie tragies.Dis daai luiaarde wat net so wil teer op hardwerkende mense.Ek was self in 2012 een oggend oppad werk toe ,beroof van my selfoon.deur gewapende rowers.Later die middag vra ek n plaaslike smous of iemand dalk by hom probeer het om n selfoon te verkoop.Hy sê toe nee maar indien iemand kom met die foon,sal hy dit koop en ek kan dan dit dan weer by hom koop ten duurste.So misdaad is n bose kringloop.

Se maar net ·

@Skroef – Daar is n verskil tussen n veiligheidsbeampte (Safety Officer) en sekuriteitswag (Security Officer). Net my eiertjie…

P ·

Dit was koelbloedige moord nog n onskuldige mens is so siek en sat vir wetteloosheid

Pitbul ·

Jansen het voltyds as ñ veiligheidsgewag gewerk.. berstaan nie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.