Appèl oor Wynland-tolprojek geweier; nuwe oplossings gesoek

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het Sondag gesê hy is nou op soek na ʼn nuwe oplossing vir die groeiende verkeerskrisis in die Wynland-gebied in die Wes-Kaap nadat sy mees onlangse aansoek om verlof tot appèl in die Wynland-tolsage Vrydag deur die konstitusionele hof geweier is.

Sanral het die konstitusionele hof genader om te versoek dat vorige beslissings deur die Wes-Kaapse hooggeregshof en die appèlhof ter syde gestel word. Die twee howe het voorheen beslis dat Sanral se planne om tolhekke op paaie in die Wynland-gebied en in Kaapstad op te rig ongeldig is.

Die konstitusionele hof se beslissing beteken dat Sanral nou met ʼn proses van openbare deelname moet begin indien hy wil voortgaan met sy planne om tolhekke op die N1 en N2 in die Wes-Kaap op te rig.

Vusi Mona, Sanral se woordvoerder, het Sondag in ʼn verklaring gesê die agentskap het reeds oor die afgelope twee maande ʼn “nuwe raadplegende benadering gevolg” om ʼn oplossing te vind vir die groeiende verkeerskrisis in die gebied.

Volgens Mona is Sanral reeds in gesprek met die Stad Kaapstad, asook met ander munisipaliteite en provinsies soos eThekwini, Gauteng, KwaZulu-Natal en die Vrystaat om “ekonomiese groeipotensiaal te ontsluit en by te dra tot streeksontwikkeling”.

Intussen het Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, gesê meer as R20 miljoen van belastingbetalers se geld is in ʼn vyf jaar lange hofgeding gebruik om die tolprojek te keer. “[Die tolprojek] sou ernstige ekonomiese gevolge vir alle padgebruikers, maar veral die armes, gehad het,” het De Lille in ʼn verklaring gesê.

“In die belang van die voorsiening van infrastruktuur van goeie gehalte, doen ek weereens ʼn beroep op Sanral om saam met die Stad te sit sodat ons kan bepaal wat die behoeftes is en kan saamwerk ter wille van ons stad se paaie. Ek het hierdie aanbod reeds in 2015 aan Sanral gemaak. My aanbod is steeds geldig en ek versoek Sanral dat ons ons hulpbronne saamspan om ʼn manier te kry om noodsaaklike padinstandhoudingsprojekte te finansier,” het sy gesê.

“Soos ek voorheen gesê het, is die Stad bereid om ʼn vennootskap met Sanral aan te gaan en ʼn gedeelte van die finansiering vir die nodige projekte te voorsien.”

Lees alle vorige berigte oor die Wynland-tolprojek op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Bertie Vorster ·

SANRAL moet my bel, sal vir hulle graag persoonlik se waar hulle, hulle tolhek kan oprig. Voel nie hierdie is die regte platform om dit te noem nie.

Cherokee ·

Bertie, jy wil seker ‘n Nkandla-tolhek voorstel. Ek sou graag wou hê die regering moet ‘n uitleg doen rakende die inkomste uit heffings op brandstofpryse en wat met daardie geld gedoen word.

Bertie Vorster ·

Nee Cherokee, die oup plekkie wat ek ingedagte het, is ‘n plek waar die son nie skyn nie.

Johann ·

Die hele Wes Kaap is oorbevolk, daar is nie meer vir ‘n muis plek nie. Mens kan nerens heen beweeg nie, of jy beland in ‘n verkeersknoop. Geen plesier om op die paaie te ry nie, dit vat jou ure om by jou bestemming uit te kom.

Connie ·

Dis maar oral oor so. Net te veel motors. Nie net innie Kaap nie.

Beertjie ·

Verbeter die busdienste in Kaapse Metropool veral na noordelike voorstede. Loods n projek waar bestuurders aangemoedig word om meer saamry klubs te vorm. Kyk maar hoeveel mense ry een een in motors en veral in spitsverkeer. Indien mens elke 4de voertuig se bestuurder by ‘n saamryklub laat inval haal jy ‘n kwart van die spitsverkeer se voertuie uit. Verhoog ook miskien brandstofheffing en of lisensiegelde ten gunste van Sanral. Dan is dit nie nodig om miljoene te spandeer op tolhek infrastrukture en salarisse nie en almal betaal daarvoor. Verminder korrupsie en onnodige uitgawes wat tans na privaat instansies toe gaan. Haal munisipale verkeersbeamptes van nasionale paaie af en laat Provinsiale verkeer meer wetstoepassing op nasionale paaie doen. Dan gaan boetes na die regte instansies en nie na munisipaliteite toe nie.

kowyn ·

ag asb beertjie. waar betaal ons nog nie vir paaie nie? inkomstelasting, btw, petrolprys, voertuig lisensies. mens kan net soveel gee. ons werk swaar vir n inkomste, indien jy dalk n afgetrede lotto miljoener is.

Anoniem ·

E-Tol het net die “steel koffers” voller gemaak en hou geen voordeel vir die pad gebruikers in nie. Dit het nie in Gauteng gewerk nie en sal ook nie hier in die Kaap werk nie. Uiteindelik het iemand dit raakgesien, vandaar die afkeuring in die Hof.

Deon ·

Dankie tog, e-tol is beslis nie vir die padgebruikers se voordeel nie. Raai tot wie se voordeel dit is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.