Appèl op gesondheidsberoepe om ‘drakoniese’ regulasies te beveg

Solidariteit sê hy gaan die regulasies teenstaan. (Argieffoto: Ibrahim Boran/Unsplash)

Solidariteit gaan die voorgestelde regulasies vir die inwerkingstelling van sogenaamde behoeftesertifikaat (“Certificate of Need”) vir gesondheidspraktisyns teenstaan.

Die regulasies is vroeër in die Staatskoerant afgekondig en die tydperk vir kommentaar daarop is intussen tot 15 Augustus verleng.

Ingevolge die nuwe regulasies moet alle gesondheidspraktisyns aansoek doen vir ’n sertifikaat wat hulle sal toelaat om te praktiseer.

Solidariteit meen die regulasies gaan ook aan praktisyns voorskryf waar en hoe hulle mag praktiseer, en sê dit maak inbreuk op die regte van praktisyns en hul pasiënte. Volgens die organisasie gaan dit ook die lewering van gesondheidsdienste ernstig inperk.

“Hierdie sertifikaat is niks minder nie as die effektiewe oorname van gesondheidspraktisyns se praktyke. Deur gesondheidspraktisyns aan hierdie regulasies te onderwerp dwing dit hulle om hulself aan die staat uit te lewer om dan soos pionne slegs te mag praktiseer, soos en waar hulle deur die staat voorgeskryf en voorgesê word,” sê Henru Krüger, sektorhoof van die professionele gilde by Solidariteit.

“Die regulasies is ’n blatante uitbuiting van kennis en vaardighede om die staat se eie agenda te dryf. Dit is tot nadeel van gesondheidspraktisyns en pasiënte wie se grondwetlike regte van vryheid van professie én vryheid van assosiasie misken word.”

Die organisasie sê die regering probeer om met die regulasies die weg baan vir die inwerkingstelling van die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering.

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, waarsku ook dat die private sektor waaksaam moet wees teen regulasies wat die regering met moontlike voorbedagte rade bekend stel om versterking en uitvoering aan die NGV te gee.

“Die regering kan moontlik sulke regulasies gebruik om die NGV ʼn behoorlike vastrapplek te gee.

“Dit help nie daar word op een front teen die NGV geveg terwyl die regering intussen regulasies publiseer wat uitvoering daaraan kan gee nie.”

Die VF Plus doen ʼn beroep op die private mediese sektor om die voorgestelde regulasies deurlopend met ʼn valkoog dop te hou.

“Daar moet nou op alle fronte geveg word teen die nasionalisering van ons land se private gesondheidsdienste deur ʼn korrupte regering waarvan die minister [van gesondheid] tans weens beweerde korrupsie op spesiale verlof is,” sê Van Staden.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, se versoek om spesiale verlof is in Junie toegestaan ná bewerings van sy betrokkenheid by die toekenning van ʼn R150 miljoen-tender aan die maatskappy Digital Vibes. Mkhize en sy seun Dedani het glo albei noue bande met die sogenaamde baasbreine by die maatskappy.

Solidariteit sê deur die regulasies vereis die staat dat staatsdepartemente en plaaslike owerhede die praktisyns en hul werksaamhede moet goedkeur. Praktisyns moet boonop spesifiseer wie hulle gaan bedien.

“Dit is absoluut belaglik dat ʼn gesondheidspraktisyn nie self kan besluit hoe hy wil praktiseer nie en voorgeskryf moet word in terme van watter pasiënte hy mag behandel. Hy word basies onderwerp aan dwangarbeid wat hom slegs in staat stel om te praktiseer volgens die voorskrifte van die staat,” sê Krüger.

“Hy sal geen beheer meer oor die aard van sy praktyk hê nie. Om ons gesondheidspraktisyns oor te laat aan die staat wat dan besluit of hulle mag praktiseer al dan nie, is iets wat ons nie kan toelaat nie.”

Solidariteit glo die gevolge vir mediese sorg én die mediese beroep is verreikend en sê die staat het nie die vermoë om die mediese beroep in die hele land te beheer nie.

“Die regering beskik nie oor die vaardighede of finansiële hulpbronne nie. Ons het reeds tydens Covid-19 gesien tot watter mate die staat se onbevoegdheid en korrupsie strek. Ons moet alles in ons vermoë doen om verdere oorname van die ganse mediese bedryf deur die staat te stuit,” sê Krüger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Deon

Sal dit ook geld vir tradisionele dokters?

Tiptol

Die ander dokters kan en wil nie werk nie. Hulle wil ligte dokters in ander hospitale sit en seker kubbaanse dokters inbring vir ligte hospitale.

Carel Aaron

Ek lees kommunisme geskryf oor die regulasies. Sentralisering en ontneming van vryheid van reg en beweging. Alle regte van dokters word weggeneem en hulle is dan staatsbesit.

Swerwer

Belaglik verby! Sò Kommunisties soos kan kom!

Jackie

Is daar nie dalk n grondwetlike wet wat hierdie beoogde regulasie vebied nie.