Appèl teen Modise se dierebeskermingsaak aangeteken

Thandi Modise, minister van verdediging. (Argieffoto: Phando Jikelo/ANA)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandeesweek geappelleer teen die Potchefstroomse streekhof se ontslag van Thandi Modise, minister van verdediging.

Landdros Ben Mtebele het Modise verlede jaar onskuldig bevind op klagte van dieremishandeling nadat haar regsverteenwoordiger, adv. Dali Mpofu, ʼn aansoek om ontslag in die saak teen haar ingedien het.

Ingevolge artikel 174 van die Strafproseswet kan die verdediging so ʼn aansoek indien nadat die vervolging sy saak afgesluit het.

Die eenheid het Dinsdag die hofstukke vir die appèl beteken en dit sal nou volgende jaar op 10 Maart in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, aangehoor word.

Indien die appèl in die hooggeregshof sou slaag, sal die saak terugverwys word na die streekhof waar Modise se regspan haar saak ter verdediging voor Mtebele moet stel.

AfriForum vervolg Modise privaat namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) op ses aanklagte van dieremishandeling en -verwaarlosing.

Modise het die afgelope paar jaar af en toe in die hof verskyn nadat meer as 200 diere in 2014 op haar plaas Modderfontein in Noordwes gevrek het. Die saak het egter vir ʼn geruime tyd gesloer omdat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Modise nie wou vervolg nie.

“Hierdie appèl benadruk die feit dat ons sal aanhou om die stryd vir geregtigheid voort te sit en privaat vervolging sal inspan om te verseker dat almal gelyk is voor die reg,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Die privaatvervolgingseenheid is oortuig dat die beginsels van toepassing by ʼn ontslagaansoek foutiewelik toegepas is. Daar is volgens ons ʼn goeie saak daargestel en Modise behoort die geleentheid te kry om haar kant van die saak te stel.”

Die eenheid het die aansoek om appèl in terme van artikel 310 van die Strafproseswet ingedien wat behels dat die voorsittende beampte in die streekhof, dus Mtebele, sy saak aan die hooggeregshof moet stel oor die bevinding wat hy jeens Modise gemaak het.

Die privaatvervolgingseenheid en die NDBV voer in hul stukke aan dat die landdros fouteer het in sy bevinding deurdat hy getuienis oorweeg het wat nie deel was van die hofrekord nie en ook nie behoorlik die relevante getuienis wat voor die hof geplaas is, in aanmerking geneem het nie. Dit sluit in dat die streekhof nie die bevindinge van deskundige getuies in ag geneem het nie en terselfdertyd te veel waarde geheg het aan die mening van ʼn lekegetuie ten opsigte van die hoeveelheid voer wat vir die diere beskikbaar was.

Die organisasies voer verder aan dat Mtebele fouteer het deur te bevind dat die bestuur van die plaas oorgegee is aan die “werknemers” van Modise, terwyl sy volgens die hof in Kaapstad was.

“Hierdie bevinding is nie gegrond op getuienis wat deur die vervolging gelei is nie en dit word ook deur die beskuldigde ontken dat hierdie persone ooit in haar diens was. Daar is ook geen bewyse voor die hof geplaas dat Modise wel vir hierdie tydperk in Kaapstad was nie,” sê Leask.

“Verder het die streekhof ook nie oorweging geskenk aan die feit dat Modise se regspan geen pleitverduideliking verskaf het nie en haar weergawe van gebeure is ook nooit aan die getuies voorgehou nie.”

Volgens Leask het die hof nie net vir Modise ontslaan nie, maar ook die sogenaamde plaaswerkers as sondebokke geïdentifiseer “al dui die getuienis daarop dat hulle geen manier gehad het om die diere te voer nie”.

“Ons lei hieruit af dat die hof wel aanvaar dat die diere verwaarloos was en gevrek het weens ʼn tekort aan voer en water. Die hof het staatgemaak op die redelike afwesigheid van die beskuldigde, maar geen getuienis is ooit gelei om dit te bewys nie.”

Marcelle Meredith, uitvoerende hoof van die NDBV, sê dit is tragies dat hierdie saak voortdurend vertraag is.

“In Maart, wanneer ons terugkeer na die hof vir hierdie saak, sal dit byna nege jaar wees sedert die NDBV se stryd om geregtigheid vir hierdie diere begin het. Dit is ʼn baie duidelike aanduiding van ons vasbeslotenheid om te verseker dat geregtigheid geskied vir die lyding van daardie diere – maak nie saak hoe lank dit neem nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Christine ·

O liewe genade, kan jy glo dat die regter in die saak na die verkeerde getuienisse luister en aandag gee aan die verkeerde feite. Hoe de duiwel het die regter sy opleiding geslaag? Ondersoek maar sy kwalifikasie, want dis die fondasie van die saak wat hy verkeerd geoordeel het. Nee kyk, ek gooi my hande in die lug vir die onkundiges wat die poste beklee in ons land. Almal omgekoop, korrup, geen morele kodes om hul werk te doen nie. Afrika is ‘n gemors.

Danie ·

Die regstelsel is lankal gekaap.Kom ons bestee eerder ons geld op iets voorkomend en beweeg aan.Al daai diere is reeds stof.Hulle wil almal boer maar die bewys is soos daglig.

Marelize ·

Minister van verdediging nê? Sissie as jy ‘n plaas wil hê moet jy jou diere voer – het jy nie geweet nie?

SjN ·

Hul wil mos almal boer, hul is geldhonger en nie grondhonger nie, hoe het sy gekwalifiseer vir n lening om die grond te bekom in die eerste plek? Kan nie eens na diere omsien nie.

Roek ·

Baie swak, hoop nie hy/sy moet beslis oor die Bojaan wat geskied is nie, dit maak ‘n baie groter ophef as die blatante nalatigheid !!

JAN ·

Hofsake word net nie afgehandel nie. Uitstel, uitstel en nogmaals uitgestel. Ons regsstels is ‘n grap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.