Appèl teen skaliegasregulasies môre in hof

Argieffoto

Die hofstryd oor skaliegasregulasies begin môre in die appèlhof in Bloemfontein.

Die burgerregtegroep AfriForum en Treasure the Karoo Action Group (TKAG) sê dán die ministers van minerale hulpbronne en omgewingsake die stryd aan oor hidrobrekingregulasies.

Morné Mostert, hoof van omgewingsake by AfriForum, het gesê hulle vra die hof dat die regulasies oor petroleumeksplorasie en -produksie, wat in 2015 afgekondig is en voorsiening maak vir hidrobreking in Suid-Afrika, tersyde gestel word.

“Die alliansie (AfriForum en TKAG) hou vol dat die regulasies op verskeie gronde onwettig is. Daar is tans teenstrydige uitsprake van die Oos-Kaapse hooggeregshof en die Noord-Gautengse hooggeregshof oor die wettigheid van hierdie regulasies. Die appèlaansoek gaan dus regsekerheid bied oor die regulasies,” het Mostert gesê.

Jonathan Deal, uitvoerende hoof van TKAG, sê die staat moenie kortsigtige besluite neem nie en moet alle risiko’s van skaliegasontginning oorweeg.

“Ons het in die res van die wêreld gesien wat die langdurige impak van skaliegasontginning is. Ander lande, soos die VSA, het die voordeel dat baie water vir hierdie soort mynbedrywighede beskikbaar is. Suid-Afrika het net nie genoeg hulpbronne om dié bedryf te kan hanteer nie – water is nie ’n hulpbron waarmee ons kan mors nie,” het Deal gesê.

Mostert het gesê die departement van minerale hulpbronne het ʼn groot verpligting om te verseker dat waar mynboubedrywighede plaasvind, dit wettig gedoen word. “Indien dit nié gebeur nie, moet die departement wetgewing gebruik om swaar strawwe vir oortreders te verseker. Ons sien nie dat hy in die praktyk só optree nie.”

Hy het gesê die regulasies oor hidrobreking kan ʼn verwoestende uitwerking op die watertafel van die Karoo hê, as dit nie behoorlik nagekom word nie.

“Ons moet verantwoordelik met hulpbronne soos water omgaan en ek glo nie die departement het die vermoë om dit te verseker nie,” het Mostert gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dieter ·

Dis eintlik so maklik om onwettige mynbedrywighede hier en in ander lande te stop.
Verpligte doodstraf vir die besturende direkteur van die maatskappy.
Verpligte doodstraf sal eintlik ‘n hele spul misdade wêreldwyd in die kiem smoor.
Ek bied aan om die straf te voltrek. Gratis en verniet.

marous ·

Gevoel vir medemens , dier of natuur bestaan nie in diegene wat geld aanbid se harte of verstand nie . Dis hoekom dit so eenvoudig is vir die boelies van die wereld om lande te omskep in as hope bloot deur ‘n paar stukke silwer in omkoopbares se hand te stop . Ons regeerders het reeds besluit dat hulle die land gaan omdolwe , en niemand gaan hulle keer nie .

Jerry ·

Die revolusionere idee oor minerale hulpbronne en werkskepping, is om alle grond, ingesluit landbougrond wat minerale bevat, in mynbou te omskep. So word daar geredeneer, soos by monde van n voormalige minister van minerale en waterwese (dieselfde minister wat gese het dat die ANC sal die rand laat val en die ANC sal weer die rand optel), dat daar genoeg geld sal wees om voedsel in te voer. Grond vir landbou of bewaring is dus allermins n prioriteit binne die denkraamwerk van revolusionere idees! Indien die departement van minerale hulpbronne (failed state) hul sin kry, sal SA opeindig in een groot mynhoop met geen skoon drinkwater of plante wat weer sal groei nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.