Appèl teen sleutelpunte-uitspraak

geheim 2Die ministerie van polisie het ʼn aansoek by die Johannesburgse hooggeregshof ingedien om die hof se uitspraak, dat 200 nasionale sleutelpunte bekend gemaak moet word, te daag.

“ʼn Appèlaansoek is gebring teen die uitspraak oor die nasionale sleutelpunte, aangesien ons glo dat ʼn ander hof ʼn ander uitspraak sou lewer,” het Musa Zondi, woordvoerder van die ministerie, gesê. “Die dokumente is al verlede week by die hof ingedien.”

Die hooggeregshof het op 3 Desember ten gunste van die Right2Know (R2K)-veldtog en die Suid-Afrikaanse Argief (Saha) beslis en die Suid-Afrikaanse Polisiediens beveel om binne 30 dae die lys van die beskermde gebiede bekend te maak.

Die hofgeding het begin nadat die polisie twee jaar gelede geweier het om ʼn lys van sleutelpunte vry te stel. Tydens die hofverrigtinge in November het die staat aangevoer dat dit die land se veiligheid en verdediging in gevaar kan stel indien die sleutelpunte uitgewys word.

R2K en Saha se saak is egter hoofsaaklik gebaseer op die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia). R2K het gesê burgerlike organisasies het gekla dat die geheimhouding rondom nasionale sleutelpunte gebruik word om die reg om te weet te ondermyn en om in openbare plekke te betoog.

Nasionale sleutelpunte mag nie afgeneem word of uitgeken word as ʼn nasionale sleutelpunt nie en sluit glo ook weermaginstallasies en dienste of aanlegte in wat as strategies beskou word.

Regter Roland Sutherland het in sy uitspraak gesê dit is “onwettig en ongrondwetlik” om nie die sleutelpunte bekend te maak nie. Hy het die polisie aangesê om die regskoste van die groepe te betaal. Hy het nie enige verdere besonderhede verskaf hoe hy tot sy besluit gekom het nie.

Lees alle vorige berigte oor Nasionale Sleutelpunte op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Joe64 ·

Mens wil veral weet of mens langs ‘n kern materiaal opslag plek van China bly, of die gevaar loop om in militere aanval raakgeskiet te word.
Hulle kan sommer kaart ook uitreik dat mens kan sien waar is die 200 plekke.

zahn ·

Mens sou kon aanvaar dat dit eintlik nie vir almal se oë bedoel is nie, maar wat my onmiddelik twee keer laat dink, is hule rede wat hulle aanvoer hoekom die lys nie gepubliseer moet word nie, te wete dit veiligheid en verdediging in gevaar kan stel. Ek meen, ons is mos dié land in Afrika wat veiligheid betref, ons is mos almal se pel in elk geval, en ons weermag se grootste vyand is net hyself, so die lys kan maar bekend gemaak word, tereg sodat ons kan weet wat die spul korrupte amptenare aanvang hier reg langs ons woonareas, soos Joe opmerk hierbo.

Coenraad ·

Die doel van die wetgewing destyds was om die staat toe te laat om punte in privaatbesit (wat in nasionale belang geag is) te help beveilig met staatsgeld. Met staatsbates was dit in elk geval binne die regime se magte en verantwoordelikheid om dit te beskerm. ‘n Voorbeeld sal bv ‘n BP olie-opslagplek wees. Dit behoort aan BP en die weermag ens kan slegs betrek word as dit deur wetgewing gemagtig word. Ek verwonder my aan al die veroordeling wat teen die destydse regime uitgespreek word oor ‘n stuk wetgewing wat toe broodnodig was in ‘n oorlogsituasie. Ek twyfel egter of dit tans nog behoort te bestaan en in elk geval nie ten opsigte van staatseiendom waar die huidige regime in elk geval kan maak soos hy wil nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.