Appèlaansoek misluk vir vermoorde se man

Vicki Terblanche (Foto: Facebook / Lala Fourie)

Vicki Terblanche se vervreemde man en vermeende moordenaar kon nie daarin slaag om appèl teen ’n vorige borgtoguitspraak aan te teken nie.

Regter Glen Goosen het Dinsdag in die hooggeregshof in Gqeberha gesê hy kan geen fout vind nie met landdros Kriban Pillay se vroeëre bevinding toe hy Arnold Terblanche (53) borgtog geweier het.

Terblanche bly dus nes sy medebeskuldigdes, wat vroeër hul borgtogaansoeke laat vaar het, in aanhouding.

Pillay het in Januarie Terblanche se aansoek om borgtog in die plaaslike landdroshof van die hand gewys nadat hy geen buitengewone omstandighede aan die hof kon voorlê waarom hy vrygelaat moet word nie. Pillay het voorts bevind dat daar ’n sterk moontlikheid is dat Terblanche met bewyse sal inmeng, sou hy borgtog toegestaan word.

Terblanche word saam met Reinhardt Leach, Vicki se kêrel ten tyde van haar dood, en Dylan Cullis, ’n vriend van Leach, van haar moord aangekla.

Daar word beweer dat hulle saamgesweer het om haar te vermoor.

Arnold Terblanche (Foto: Facebook)

Leach en Cullis is in hegtenis geneem kort nadat Vicki se liggaam op 23 Oktober verlede jaar in ʼn vlak graf in ʼn oop veld in Greenbushes gevind is. Terblanche is meer as drie weke later by sy huis in Mill Park, Gqeberha, in hegtenis geneem.

Leach was ten tyde van die moord in ʼn verhouding met Vicki en het saam met haar gewoon.

Daar word beweer dat Vicki op 18 Oktober met ’n skedule 6-medikasie bedwelm is voordat sy met ’n kussing versmoor is. Sy is ook van verskeie items, waaronder bankkaarte, juweliersware en ’n selfoon beroof.

Daar is glo dwelms en ander verdowingsmiddels by haar huis in Newton Park geplant waar al die beweerde misdade plaasgevind het. Daar word beweer dat die dwelms geplant is om ’n indruk te skep dat Vicki ’n oordosis dwelms geneem het.

Lees al Maroela Media se berigte oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Burt ·

Mooi vrou vs “Leach was ten tyde van die moord in ʼn verhouding met Vicki en het saam met haar gewoon”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.