Appèlhof lewer uitspraak oor al-Basjir

Omar al-Basjir, president van Soedan

Omar al-Basjir, president van Soedan

Die hoogste hof van appèl het die Suid-Afrikaanse regering se appèl, teen ʼn vorige hofbeslissing oor pres. Omar al-Basjir van Soedan, van die hand gewys.

Die regering het geappelleer teen die Noord-Gautengse hooggeregshof se beslissing dat hy die grondwet oortree het deur te versuim om al-Basjir in hegtenis te neem tydens sy besoek aan Suid-Afrika.

Die minister van justisie en 11 ander regeringsinstellings het aangevoer al-Basjir het, volgens internasionale gewoontereg, immuniteit as staatshoof en daarom kon Suid-Afrika hom nie in hegtenis neem toe hy die Afrika-unie se beraad in Junie verlede jaar bygewoon het nie.

Die Southern African Litigation Centre (SALC) het aangevoer Suid-Afrika, as ʼn ondertekenaar van die Statuut van Rome, wat die Internasionale Strafhof tot stand gebring het, was verplig om al-Basjir in hegtenis te neem nadat die Strafhof ʼn lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik het.

Die appèlhof het bevind Suid-Afrika se goedkeuring van die implementering van die Statuut van Rome in 2002, het in wese alle vorme van immuniteit, wat immuniteit vir staatshoofde insluit, nietig verklaar.

Die staat se regspan het verder aangevoer geen hof in die wêreld het, sover bekend, gelas dat ʼn staatshoof, in sy of haar amp, in hegtenis geneem moet word nie. Hulle het daarop gewys dat die Noord-Gautengse hooggeregshof se uitspraak verreikende gevolge vir al-Basjir inhou, aangesien dit hom nou verhoed om na of deur Suid-Afrika te reis.

Die staat se regspan het geargumenteer Suid-Afrika was onder geen wetlike verpligting om al-Basjir in hegtenis te neem nie en Suid-Afrika was eerder wetlik verplig om sy immuniteit te beskerm terwyl hy as Soedan se president dien.

Lees alle vorige berigte oor Omar al-Basjir op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Manie ·

Nouja toe! Die Appel is van die hand gewys en wie moet nou verantwoordelikheid daarvoor aanvaar??
Of gaan dit ook nou toegesmeer word soos al die ander sake.

avrilS ·

Nee, seker nou weer by die wereld hof apel gaan aanteken ???

GES ·

Die hofbeslissings neem so lank dat niemand meer kan onthou waaroor dit gegaan het nie. Al-Basjir is lankal terug in sy nes en niemand kan ‘n vinger op hom lê nie. Die positiewe sy van die saak is, dat ‘n klompie regsgeleerdes bietjie werk gehad het om te doen.

Wat-ek-lees ·

En ons het vir die oefening betaal. Nogal lekker né?

Dee ·

Wat nou? Gaan Zuma nou opdrag kry om Basjir te gaan haal en op te sluit? Alles dit is net teorie en beteken niks in werklikheid behalwe vir die feit dat Basjir dit nie sal waag om weer ‘n voet te sit in SA.

Gert ·

Die een wat hom laat gaan het uit S.A. moet in hegtenis geneem word sodra hy in die buiteland aankom!!!Hy het mos n misdaad gepleeg, sluit toe!!!

Sarie ·

Dit is nou alles goed en wel, die staat het die saak verloor, hulle waarskynlik in die konstitusionele hof verder voer maar wat kan tog in werklikheid gebeur? Die man was nou hier hy het soos ‘n dief in die nag uit die land gevlug met die hulp van ons president en sy kabinet maar almal wat by sy vlugtog betrokke was kan tog nie tronk toe gestuur word nie! Of moet Suid-Afrika die man nou in sy eie land gaan haal en hom hier kom toesluit! Hierdie is ‘n nuttelose vermorsing van belastingbetalers se geld en Zuma, Basjir n almal daarby betrokke wys weereens vir nog ‘n hof ‘n middelvinger en dit is waar dit gaan eindig. Dit is so ‘n patetiese toestand die wereld lag ons uit as ‘n spul narre maar Basjir is steeds vry en glo my die ANC sal hom nog weer ‘n keer die land in smokkel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.