Appèlhof sê oor identifisering van kinders

hof-hamer

Argieffoto

Die Sentrum vir Kinderreg (CCL) het sy stryd om die beskerming van die identiteit van kinderslagoffers van misdaad gewen, maar het laat hoor dat hy teleurgesteld is dat dié beskerming nie geld as die kind ouer as 18 jaar is nie.

Die appèlhof het Vrydag in Bloemfontein gelas slagoffers van misdaad wat minderjarig is se persoonlike besonderhede mag nie in die media bekend gemaak word nie. Dié uitspraak geld nou ook vir kindergetuies en kinderoortreders.

William Bird van Media Monitoring Africa het in ʼn verklaring gesê dié kwessie was sterk ter sprake in die Zephany Nurse-saak, die meisie wat op 17-jarige ouderdom agtergekom het dat sy as baba ontvoer is. Nurse was bang dat die identiteit waarmee sy grootgeword het, onthul sou word en het haar tot die CCL gewend vir bystand.

“ʼn Dringende aansoek in die hooggeregshof het tot ʼn bevel gelei wat in April 2015 toegestaan is. Dit het haar identiteit beskerm en dit bly beskerm totdat alle appèlaansoeke in die saak klaar aangehoor is.”

Nurse, wat in April 2015 18 jaar oud geword het, is twee dae ná haar geboorte in 1997 ontvoer uit die hospitaal. Die vrou wat sy as haar ma geken en by wie sy grootgeword het, is in hegtenis geneem en aangekla van ontvoering.

Terwyl die CCL gehoop het dat die identiteit van die kinderslagoffers ná die ouderdom van 18 ook beskerm sal word, is dié aansoek van die hand gewys weens die beperkings wat dit op die media plaas om inligting oor te dra, asook die indringing wat dit maak op die beginsel van ope geregtigheid.

Die appèlhof het wel gelas dat artikel 154 (3) grondwetlik nie geldig is nie aangesien dit nie die identiteit van kinderslagoffers tydens strafregtelike verrigtinge beskerm nie.

Die appèlhof het die parlement twee jaar gegee om die artikel te wysig en intussen sal die afdeling lui: “Geen persoon sal op enige manier enige inligting hoegenaamd publiseer wat die identiteit van ʼn getuie, oortreder of slagoffer onder die ouderdom van 18 in strafregtelike verrigtinge bekend maak of kan bekend maak nie; toegegee dat die waarnemende regter of regsbeampte die publikasie van sulke inligting kan magtig sou hy dit gepas vind as die publikasie daarvan na sy mening regverdig en billik sal wees en in die belang van enige mens.”

Die CCL glo egter die beskerming moet verder strek as 18 jaar oud om noemenswaardige en lewenslange skade te voorkom.

“Die bewyse wat aan die hof voorgehou is, wys dat die bekendmaking van kinders se identiteit ʼn katastrofiese uitwerking op hul lewe kan hê. Die volgende kan gevolge wees: trauma en regressie, stigma, skaamte asook die vrees om dalk geïdentifiseer te word. Die sentrum wil nie die media ontmoedig om oor sake verslag te doen nie – dit ontmoedig net die publikasie van die identiteit van kinderslagoffers, -getuies en -oortreders voor en ná hulle 18 jaar oud word aangesien sulke beriggewing langdurige negatiewe gevolge inhou,” het die CCL gesê.

Die CCL het aangedui dat hy van plan is om hom tot die konstitusionele hof te wend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elsa ·

Asseblief. Op 18 het kinders dan stemreg, mag hul alkohol gebruik, n motor lisensie hê. So hul betree die grootmens wêreld. Nou moet beskerming gegee word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.