Appèluitspraak verwag in waterskeidingsaak oor hantering van verkragtingslagoffers

Annari du Plessis. Foto: Facebook

Annari du Plessis. Foto: Facebook

Die Pretoriase hooggeregshof sal na verwagting Woensdag uitspraak lewer in die appèlaansoek van Annari du Plessis wat skuldig bevind is aan regsverydeling nadat sy ʼn seksslaaf wou red.

Anphia Davies, Du Plessis se prokureur, het gesê haar kliënt gaan nou, na ʼn drie jaar lange hofgeding, weet of haar skuldigbevinding en vonnis omgekeer gaan word.

Du Plessis (46) is ʼn gemeenskapswerker en stigter van Crossroads in Vanderbijlpark, Gauteng. Crossroads is ʼn geregistreerde niewinsgewende organisasie wat hom daarop toespits om kinders, dwelmverslaafdes, prostitute en slagoffers van aanranding en verkraging te help.

Sy is op Vrydag, 12 Augustus 2011 deur 10 gewapende polisiebeamptes by die kerk, waar haar organisasie se kantore geleë is, in hegtenis geneem. Sy is aangekla van regsverydeling nadat sy geweier het om ʼn 13-jarige meisie, wat glo vir twee maande lank as ʼn seksslaaf aangehou is, aan die polisie oor te gee. Sy het egter vroeër daarop aangedring dat die polisie die meisie by Crossroads kom ondervra omdat sy daar veilig voel. Du Plessis is vertroud met die polisie se verkragtingseenheid en was bekommerd hoe die tiener by die stasie behandel sou word.

Du Plessis het drie dae voor haar inhegtenisneming die meisie uit ʼn gehawende huis in Bequerrelstraat gered waar sy vir twee maande lank as ʼn seksslaaf vir ʼn groep Nigeriese mans aangehou is. Haar oom se meisie het haar glo aan die groep verkoop. Die mans het haar herhaaldelik verkrag en as ʼn prostituut uitverhuur totdat Du Plessis tot haar redding gekom het.

Du Plessis het die naweek in die selle spandeer en is die Maandag op R500 borgtog vrygelaat.

Sy is in 2013 skuldig bevind aan regsverydeling en is tot 18 maande tronkstraf gevonnis of ʼn boete van R12 000. Die vonnis is vir vyf jaar opgeskort. Haar regspan het aansoek gedoen om verlof tot appèl wat daarna deur die landdros van die hand gewys is. Die hooggeregshof in Pretoria het egter in Februarie vanjaar vir haar die groen lig gegee om teen haar skuldigbevinding en vonnis te appelleer. Die appèl is op 17 Oktober aangehoor en regter Makgoba het sy uitspraak voorbehou.

Hy het die appèl binne 30 minute en met een vraag opgesom: “Was dit reg vir Du Plessis om aangekeer, skuldig bevind en gevonnis te word nadat sy ʼn meisie gehelp het en alles in haar vermoë gedoen het om haar te help? Twintig polisiebeamptes het geweet waar die kind is, en het niks daaraan gedoen tot die dag wat die swaargewapende beamptes Du Plessis by die kerk in hegtenis geneem het nie.”

Du Plessis was vir 12 jaar lank ʼn polisiebeampte en het as ʼn konstabel in die destydse verkragtingseenheid van die Pretoriase moord-en-roofeenheid gewerk. Sy was ook betrokke by die stigting van die kinderbeskermingseenheid. Sy het as adjudantoffisier uit die polisie bedank en Crossroads gestig.

“Ek hoop regtig dat ek na Woensdag se uitspraak vry kan wees, vry om weer my gemeenskap te dien,” het Du Plessis Dinsdag aan Maroela Media gesê. Sy het gesê haar inhegtenisname het veroorsaak dat die mense vir wie sy veg en help, haar nie wil vertrou nie. “Na drie jaar se spanning, hartseer en trane, hoop ons dat reg en geregtigheid uiteindelik sal geskied.”

As haar appèl suksesvol is, kan daar moontlike aanklagte teen van die polisiebeamptes wat in die saak betrokke was aanhangig gemaak word. Die saak word as ʼn waterskeidingsaak beskou, aangesien die uitspraak ook ʼn invloed kan hê op die manier waarop slagoffers van mishandeling en verkragting in die toekoms deur die polisie behandel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Louise ·

Ons land het van een van die bestes in die werld verval na die kriminele “cesspool” van die wereld. Die SAPD is groter kriminele as die boewe in die skadu. Hulle het die vrou se lewe hel gemaak. Sterkte vorentoe Annari du Plessis!!!

anet ·

Annari, ons staan agter jou. Twintig gewapende polisiebeamptes om een vrou te arresteer ????

V ·

Dit is tipies die nuwe Suid-Afrika onosel verby!Sterkte Annari!

Gerhard Byleveld ·

Ystervrou Annerie! Jy sal jou kroon in die hemel ontvang…verseker!

child of God ·

So sy moes die 13 Jarige kind gelos het!Polisie geweet maar kom neem haar met 13 polisie manne inhegtines hoekom hulled 13 polisie mamma Dan die meisie bevry Van die manner nie?Of is dit minderbelangrik

Natasha ·

‘n Ware leier staan in die gaping (tree in waar ander nie kan of wil nie). Om ‘n ware leier te wees het mens nie nodig om ‘n posisie van leierskap of hoë agtig te hê nie – Annari, jy doen wat jy moet. As dit beteken jy gaan die gereg verkeerd opvryf, goed so. Die “reg” is nie altyd reg nie, en ons het meer mense nodig wat sal opstaan en nie net Tweet, Facebook, comment of bid nie. Ons het leiers nodig. God sal jou gebruik en mense sal jou vertrou wanneer dit saak maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.