Apple bloos oor iPhone-sagteware en #bendgate

Die foto van 'n gebuigde iPhone 6 Plus word op sosiale media versprei

Die foto van ‘n gebuigde iPhone 6 Plus word op sosiale media versprei

Apple moes die week met die bekendstelling van sy nuwe iPhones bontstaan om vrae te antwoord oor sy nuutste sagteware wat veroorsaak het dat sommige verbruikers sein verloor en die nuwe iPhone 6 wat glo buig.

Die rits negatiewe blootstelling het ʼn skerp daling in Apple-aandele tot gevolg gehad. Apple het toegegee dat daar probleme was met sy nuwe sagteware – iOS 8.0.1 – en het dit onmiddellik teruggetrek.

Apple het egter berigte dat sy nuwe iPhone 6 Plus buig as daar druk op geplaas word, ligtelik probeer afmaak deur te sê hulle het sover slegs nege klagtes ontvang oor die saak.

“Ons iPhones word ontwerp en vervaardig om pragtig sowel as stewig te wees,” het ‘n woordvoerder van Apple in ‘n e-pos aan AFP gesê. “Daar word van vlekvrye staal en titanium gebruik gemaak om hoëstres-plekke te versterk. Daar word ook gebruik gemaak van die sterkste glas wat in die slimfoon-industrie beskikbaar is.”

Volgens Apple is dit onwaarskynlik dat die iPhone sal buig wanneer dit normaal gebruik word. Die maatskappy het gesê daar is slegs nege klagtes ontvang in die eerste ses dae sedert die nuwe iPhones bekend gestel is.

Gebruikers op sosiale media het egter uitgevaar teen Apple en gesê die iPhone 6 Plus buig wanneer dit in ʼn broeksak gedra word. Die hutsmerk #BendGate is op Twitter gebruik om na die gebuigde fone te verwys.

Volgens Apple is meer as 10 miljoen iPhone 6 en iPhone 6 Plus-slimfone in die eerste drie dae verkoop nadat dit bekend gestel is.

Die nuwe iPhones is reeds in Amerika, Brittanje, Australië, Kanada, Frankryk, Duitsland, Hong Kong, Japan, Puerto Rico en Singapoer beskikbaar. Die fone was teen Vrydag ook in 20 ander lande beskikbaar en sal teen die einde van die jaar in 115 ander lande beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.