Aprilgek: het ons jou gevang?

Die voorgestelde trui vir die nuwe span, die Red Bulls (Grafika: Lilanie Greyling)

Die voorgestelde trui vir die nuwe span, die Red Bulls (Grafika: Lilanie Greyling)

Maroela Media het vandag op Aprilgekkedag ʼn paar artikels op die webwerf gepubliseer waarmee ons lesers om die bos wou lei.

Meeste lesers het egter vinnig die kloutjie by die oor gekry en uitgeblaker: Aprilgek!

Hier is die wolhaarstories wat vandag op Maroela Media gepubliseer is:
Rugby-unies moet saamsmelt; só lyk nuwe truie
E-tol: Só gaan hulle jou laat betaal en
Ongelukkigheid oor ontbytkos

Herman Toerien se Nuuskommentaar was ook nie die volle waarheid nie. “Al is die storie ʼn Aprilgek-storie, bly dit steeds ʼn nuuskommentaar, waar daar na werklike problematiek verwys word,” het Toerien gesê. Hy het verduidelik die Bain-verskuiwingsvlak bestaan werklik, maar op die kaart sal dit gewoonlik in die omgewing van Marion-eiland aangetref word (sommige bronne bring dit tot by die omgewing van Oos-Londen, en maak dit ʼn deel van die Oos-Afrika-skeuring). “Die meer waarskynlike is dat die Oos-Afrika verskuiwingsvlak na die Malawi-meer in die rigting van die Mosambiekkaneel uitswaai. Die argitek en ander beplanners het wel na ʼn verskuiwingsvlak in die omgewing van Nkandla verwys, wat die potensiaal het om aardbewings in die orde van 5 te veroorsaak. Ander geoloë wys egter daarop dat KZN self ʼn baie stabiele geskiedenis het, en dat waarskynlik die meeste aardbewings wat in die provinsie gevoel is, elders gegenereer is, soos in Swaziland of Mosambiek.”

Een van ons lesers, Willie du Plessis, het ook sy stuiwer in die armbeurs gegooi oor die Nuuskommentaar. “Dit is nogal ʼn probleem dat in SA daar nie altyd maklik tussen ʼn grap en die werklikheid onderskei kan word nie,” skryf Du Plessis onderaan die berig in die kommentaarblokkie. “Hierdie stuk is nogal heel oorspronklik geskryf. Die oorgewig mense wat nie meer trappe kan klim, asook kleinhuisie putte wat oorloop, klink nogal heel geloofwaardig. Ek sal nie verbaas wees as iemand vir Zuma van Herman Toerien se artikel vertel en dit idees in sy koop aan die gang sit nie. Hy moet een of ander tyd nuwe planne maak om terugbetaling van die geld te stuit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.