Die apteekgroep Dis-Chem het bevestig dat hy ook nie langer TRESemmé-haarprodukte sal verkoop nie.
“Ons het bevestig dat alle TRESemmé-produkte van ons rakke verwyder is. Die besluit is Dinsdag geneem en is reeds by al ons takke landwyd geïmplementeer.”
Woolworths, Pick n Pay en Shoprite het ook bevestig dat hulle die besluit geneem het om nie meer TRESemmé-haarprodukte te verkoop nie.
Clicks het Dinsdag aangekondig dat hy TRESemmé-haarprodukte van sy winkels se rakke gaan verwyder en eerder sy reeks plaaslike haarversorgingsprodukte gaan uitbrei.
Dié winkelgroep het die afgelope naweek in die sop beland nadat hy ʼn TRESemmé-advertensie op sy webwerf geplaas het waarin na verskillende vroue se verskillende haarsoorte verwys word. In die advertensie word die byskrifte “frizzy & dull” en “dry & damaged” gebruik by die foto’s van swart vroue se natuurlike hare, terwyl die byskrifte “fine & flat” en “normal” by foto’s van wit vroue se natuurlike hare gebruik word.
Die EFF het intussen ’n brief aan Alan Jope, uitvoerende hoof van Unilever, wat die TRESemmé-handelsmerk besit, gerig rakende die omstrede advertensie. Die EFF het die maatskappy 24 uur gegee om die kwessie rakende die advertensie op te klaar.
Verteenwoordigers van die EFF en Clicks vergader ook Donderdagoggend. Luidens die verklaring is die vergadering vir 10:00 by die EFF se hoofkantoor in Braamfontein in Johannesburg geskeduleer. Die EFF se afvaardiging sal deur Julius Malema, partyleier, gelei word terwyl Vikesh Ramsunder, uitvoerende hoof van Clicks, dié winkelgroep in die vergadering sal verteenwoordig.
Clicks het bevestig dat sy winkels weer Donderdag sal oop wees nadat dit Woensdag gesluit was. Die EFF het gesê betogings buite Clicks-winkels sal voortgaan.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
61 Kommentare
Ai dit is darem jammer dat die stert die hond swaai in hierdie ou landjie van ons.
Dan koop ons maar Tresseme by Checkers of Online.
Ag nee werklik waar en waar gaan die nonsens eindig??? Dis nie die shampoo nie, maar die siening van mense met n minderwaardigheidskompleks
Hierdie hele storie is heeltemal uit verband geruk
Ja nee. Vra hoe hoog om te spring as hulle sê spring. Hoe kinderagtig.