Apteke geplunder, medisyne en entstofsentrums verwoes

‘n Vrou glimlag terwyl sy weghardloop van ‘n polisielid wat plunderaars in Katlehong probeer verjaag. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Suid-Afrikaanse aptekers wat die regering met sy Covid-19-entstofprogram help, het Maandag gewaarsku dat die onrus in sommige dele van die land inentings teen die koronavirus gaan vertraag. Suid-Afrika is die Afrikaland wat tot dusver die swaarste deur die virus getref is.

Die Vereniging vir Onafhanklike Gemeenskapsapteke, wat meer as 1 100 apteke verteenwoordig, sê die geweld het apteke geplunder gelaat, terwyl broodnodige medisyne ter waarde van miljoene rande verwoes is.

Met nagenoeg 2,2 miljoen bevestigde koronavirusgevalle kom 37% van alle gevalle op die vasteland in Suid-Afrika voor.

Net meer as 4,2 miljoen mense is tot dusver ingeënt en die regering hoop om eindelik meer as 250 000 inentings per dag te doen.

Die vereniging sê dit gaan nou “onmoontlik word omdat apteke se inentingsentrums verwoes en geplunder is”.

“Dit is met algehele verslaentheid dat ons as onafhanklike apteke, die voorste linie teen Covid-19-infeksie en ʼn primêre rolspeler in inentings, ons in ʼn desperate situasie bevind,” lui ʼn verklaring van die vereniging.

Die organisasie waarsku ook dat die “waansinnige” plundery boonop self moontlike superverspreiderbyeenkomste was.

Die land is reeds die afgelope twee weke in ʼn wurggreep van ʼn dodelike derde vlaag wat hoofsaaklik deur die Delta-variant van die virus aangedryf word.

Die weermag is Maandag ontplooi in KwaZulu-Natal en Gauteng ná die grootskaalse oproer wat aanvanklik gespruit het uit oproepe om oudpres. Jacob Zuma uit die tronk vry te laat.

Ses mense is reeds dood in voorvalle wat met die onrus verband hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

Gelukkig sien beleggers vanaf buiteland hoe “suksesvol” die regering hulle potensiele beleggings kan beskerm.

Moedeloos ·

Dis waar maar op die einde trek ons almal swaar want ons ekonomie is ZERO. Wie gaan betaal vir al hierdie skade. Die belastingbetaler.

Francois Le Cochon ·

Zuma het duidelik groot steun vanuit die kriminele gemeenskap. Soort soek soort.

Sokrates ·

…….maar die vereenvoudigde narratief van “dis armoede se skuld, en julle weet mos, armoede is mos eintlik weer 1652 se skuld….” , word subtiel maar hard gedryf deur die politiek korrektes, soos vanoggend weer op RSG se Praatsaam saam met gespreksgas,, Piet Croukamp………

Martie ·

Daar is video’s van mense wat met luukse motors stop, winkels plunder en items in hulle motors laai en doodluiters wegry. Armoede se agterent…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.