Aptekers óók paniekerig oor plasings

medies-pille-gesondheid-pyn-pixabay

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay/Pexels.com)

Terwyl junior dokters feesvier nadat hulle eindelik vir hul diensjaar geplaas is, wag ʼn groep aptekerinterns nog op terugvoer van die departement van gesondheid oor plasings vir hulle verpligte gemeenskapsdiensjaar.

Dié interns is uit die bloute in Oktober in twee groepe verdeel, waar groep een reeds einde Oktober gehoor het waar hulle volgende jaar hul diensjaar sal doen. Die ander groep, wat ʼn onbekende aantal aptekerinterns insluit, is steeds nie geplaas nie.

Al die onsekerheid waarvan die dokters verlede week aan Maroela Media vertel het, word nou deur hierdie interns gesekondeer. Die jong aptekers moet boonop tussen 15 en 20 Desember by die Suid-Afrikaanse Aptekersraad (SAAR) registreer ten einde volgende jaar as apteker te kan werk. Hulle kan egter slegs registreer indien hulle reeds ʼn aanbod vir hulle gemeenskapsdienjaar ontvang het.

“Indien ek nie voor Januarie geplaas word nie, is ek werkloos en gaan ek nêrens anders as ʼn geregistreerde apteker kan werk nie,” het een apteker aan Maroela Media gesê.

Die ongeplaasde intern, wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gesels het, is boonop bekommerd dat sy nie in haar gekose provinsie geplaas sal word nie.

“Ek is bekommerd en gestres oor waar ek geplaas gaan word en hoe ek betyds my reëlings agter mekaar gaan kry indien ek reeds in Januarie moet begin.”

Volgens dié intern lyk dit asof daar growwe miskommunikasie tussen die internskap- en gemeenskapsdiensprogram (ICSP) en SAAR is. Dít het tot hierdie angswekkende situasie gelei.

“Die ICSP het gesê hulle het nog nie die lys van die tweede groep aptekerinterns van SAAR ontvang nie, maar SAAR voer aan dat hulle wel die lys gestuur het en dat die fout eerder by ICSP lê,” sê die apteker.

Luidens berigte sal die SAAR moontlik weer die lyste Woensdag vir ICSP stuur, hoewel dit nie duidelik is wanneer die res van die interns geplaas sal word nie.

Maroela Media het navraag aan SAAR gestuur, maar wag nog op terugvoer in dié verband.

“Ek weet dat vorige aptekers eers laat in Desember ʼn plasing ontvang het, maar dit is wel ʼn nuwe gebeurtenis dat SAAR en ICSP die aptekers in twee groepe verdeel het met die doel om een groep vroeër as die ander te plaas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
casper

Vat die regering hof toe en stop die gekkespul elke jaar !!!

Tino

Ruik ek ‘n rot hier, die name op die 1ste lys geniet voorkeur behandeling en daar word grof gediskrimineer teen die name op die 2de lys.

Dink die regte kanale moet dit ondersoek

Sarel

Word hierdie en ander Studente met opset geboikot