Aptekers vul groeiende gaping in gesondheidsorg

(Argieffoto: Elaine Krige)

Die tekort aan dokters wat die Suid-Afrikaanse gesondheidsektor onder groot druk plaas, tesame met die uitdagende ekonomiese klimaat, plaas al hoe meer druk op aptekers om ʼn groter rol te speel in die verskaffing van basiese gesondheidsorgdienste.

Tans is die primêre sorg van dokter-tot-pasiënt-verhouding in die land 60 tot elke 100 000 pasiënte, vergeleke met die wêreldgemiddeld van 152 tot 100 000 pasiënte. Suid-Afrika ondervind boonop ook ʼn tekort aan verpleegsters.

Die probleem word vererger deurdat net ʼn gedeelte (17%) van die Suid-Afrikaanse bevolking private mediese sorg kan bekostig – en dit laat miljoene mense sonder eenvoudige toegang tot algemene praktisyns, tandartse en medikasie.

Selfs diegene wat ʼn mediese fonds kan bekostig, moet soms ʼn goedkoper mediesefondsplan oorweeg, met minder voordele.

Nicole Jennings, woordvoerder van Pharma Dynamics, sê hoewel die tekort aan hoogs geskoolde en ervare gesondheidswerkers die land met ʼn gebrek aan fundamentele mediese vaardighede laat, moet aptekers geloof word vir die rol wat hulle speel om die ongelykheid in die sektor te pak.

“Minder as ʼn dekade gelede was aptekers die mees onderbenutte hulpbron in die sektor. Maar hulle ondergaan streng opvoedkundige opleiding soortgelyk aan dié van dokters,” sê Jennings.

(Argieffoto: pixabay)

Aptekers is egter dikwels in ʼn beter posisie om meer tyd aan pasiënte te bestee as dokters.

“Dokters is hoofsaaklik verantwoordelik vir die diagnose van mediese toestande, om medikasie voor te skryf en behandelingsplanne te skep. In die meeste gevalle het hulle beperkte tyd vir elke pasiënt weens die aantal pasiënte wat hulle op ʼn dag moet sien.

“Daarteenoor het aptekers dikwels meer tyd om saam met pasiënte in ʼn apteek deur te bring, vrae te beantwoord en medikasieberading te verskaf. In sommige gevalle kan aptekers in kliniese of hospitaalomgewings ook meer direkte pasiëntinteraksie hê, veral in medikasieterapiebestuursprogramme.”

Onlangse studies wys dat pasiënte gemeenskapsapteke meer gereeld as ʼn dokter besoek. Volgens Jennings is dit danksy die maklike en vinnige toegang tot gesondheidsorgdienste in hierdie apteke.

“Daar was nog nooit ʼn groter behoefte vir mense om toegang tot hoëgehalte-gesondheidsorg in ons land te kry nie. Deur die fokus van die beroep van aptekerswese te verander van hoofsaaklik die verskaffing van medisyne na die verskaffing van dienste wat in pasiëntbehoeftes voorsien, sal aptekers ʼn meer aktiewe rol in die land se mediesesorgstelsel speel, terwyl dit ook koste verlaag en gesondheidsuitkomste optimaal bevorder.”

Jennings sê aptekers speel wêreldwyd ʼn al hoe belangriker rol in gesondheidsorgstelsels deur die verskaffing van:

  • Medikasiebestuur: Aptekers speel ʼn kritieke rol om veilige en doeltreffende medikasiegebruik te verseker. Met die opkoms van chroniese siektes en komplekse behandelingsregimes, help aptekers pasiënte om hul medikasie te bestuur, om nadelige geneesmiddelinteraksies te voorkom en behandelingsuitkomste te optimaliseer. Dit word selfs belangriker wanneer mense uitdagings ondervind om toegang tot mediese fondse en gesondheidsorgdienste te verkry.
  • Pasiëntopvoeding: In die afwesigheid van omvattende mediese versekering kan mense meer staatmaak op selfversorging en oor-die-toonbank-medisyne (OTC). Aptekers is waardevolle bronne van inligting wat pasiënte opvoed oor behoorlike medikasiegebruik, potensiële newe-effekte en beskikbare alternatiewe. Dit bemagtig pasiënte om ingeligte besluite oor hul gesondheid te neem.
  • Primêresorgtoegang: Soos die tekort aan primêresorgdokters voortduur, het aptekers ingespring om basiese gesondheidsorgdienste te verskaf. Hulle kan entstowwe toedien, gesondheidsondersoeke doen, sekere toetse aanbied (soos om suiker- en cholesterolvlakke te meet) en pasiënte na toepaslike gesondheidsorgverskaffers verwys wanneer nodig.
  • Voorkomende sorg: Aptekers kan betrokke raak by gesondheidsbevordering en siektevoorkomingsaktiwiteite. Deur berading oor lewenstylaanpassings (soos dieet en oefening) aan te bied en leiding te verskaf oor byvoorbeeld rookstaking en inentings, dra hulle by tot die vermindering van die las van chroniese siektes.
  • Tele-apteek en afgeleë dienste: Die uitbreiding van virtuele gesondheidsorgdienste stel aptekers in staat om konsultasies en medikasiebestuur op ʼn afstand te verskaf. Dit is veral nuttig om onderbediende bevolkings of mense sonder mediese versekering te bereik.
  • Medikasienakoming: Nienakoming van voorgeskrewe medikasie is ʼn belangrike kwessie in gesondheidsorg. Aptekers werk daaraan om nakoming te verbeter deur medikasieregimes te vereenvoudig en pasiënte se kommer en hindernisse om hul medikasie te neem daadwerklik te pak.
  • Medikasiekostebestuur: In die afwesigheid van ʼn mediese fonds kan pasiënte sukkel om hul medikasie te bekostig. Aptekers kan help deur kostedoeltreffende alternatiewe voor te stel en voorskrifbystandsprogramme te ondersoek.

 

  • Samewerkende sorg: Aptekers word toenemend in interdissiplinêre gesondheidsorgspanne geïntegreer. Hulle werk saam met dokters, verpleegkundiges en ander gesondheidswerkers om gekoördineerde en omvattende pasiëntsorg te verseker, wat veral belangrik is wanneer mediesefondsdekking beperk is.
  • Openbare gesondheid: Aptekers kan bydra tot openbaregesondheidspogings deur aan inentingsveldtogte deel te neem, opvoeding tydens siekte-uitbrekings te verskaf en gesonde gedrag te bevorder.

“Die rol van aptekers brei uit om gapings in toegang tot gesondheidsorg te vul en noodsaaklike dienste te verskaf, veral in die konteks waar mediese versekeringsdekking al hoe minder word. Hul kundigheid in medikasiebestuur, pasiëntopvoeding en voorkomende sorg vestig hulle as waardevolle bondgenote in die bevordering van beter gesondheidsuitkomste vir mense en gemeenskappe in die algemeen,” sê Jennings.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

En hoekom het ons ‘n tekort aan dokters en verpleegsters? Die poste en plekke by universiteite word eerder nie gevul nie as wat ons kinders toegelaat word. Selfs om as veearts te studeer moet ons kinders oorsee gaan. Een van die dae gaan dieselfde met apteekers gebeur. Party plekke het net assistente en dan het hulle nie idee waarvan jy praat nie. Maar hulle eil voort stoomroller met die nasionale gesondheidsorg. In elke geval, dit is belangrik om ‘n goeie verhouding met jou apteker te hê. Ons sin is goud werd.

Debbie ·

As daar n tekort aan verpleegsters is stel die wat hul werk verloor het deur BEE weer aan. Geen stakings nie net produktiwiteit, probleem opgelos

Ronél ·

Ek besoek eerder privaat apteke…..die Clicks’e en Dishem’s jaag net die meerderheid na……..geen insig in kliënte se navrae.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.