Aptekersraad bekommerd oor misbruik van medisyne

medies-pille-gesondheid-pyn-pixabay

Foto: Pixabay/Pexels.com

Die Suid-Afrikaanse Aptekersraad (SAAR) het Woensdag gesê hy is bekommerd oor die misbruik en wangebruik van medisyne in Suid-Afrika.

Prof. Mano Chetty, president van die SAAR, het gesê die misbruik van medisyne wat mét of sonder ʼn voorskrif bekom kan word, is die oorsaak van verskeie gesondheidsprobleme, verslawings en die ontwrigting van die sosiale lewens van jonk en oud.

“2% van die respondente in die Suid-Afrikaanse demografiese en gesondheidsopname het aangedui dat hulle medikasie wat kodeïne bevat misbruik,” het Chetty gesê.

Volgens hom lei die onbehoorlike gebruik en misbruik van medisyne tot honderde sterftes en siektes wat teen middels bestand word.

Die SAAR, die regulatoriese liggaam vir die farmaseutiese professie, het ʼn beroep op die publiek gedoen om medisyne wys te gebruik om te verseker dat dit werk soos dit bedoel is om te werk en om komplikasies wat kan voorkom as gevolg van dié misbruik, te vermy.

Tydens die studie het 2% van respondente aangedui dat hulle medisyne wat kodeïne bevat gebruik vir die “die ervaring of gevoel eerder as die medisinale effek”.

Die opname het verder aangedui dat daar meer misbruik was in stedelike gebiede, veral onder vroue van 35 tot 44 jaar oud en dan weer 65 jaar en ouer.

“Dit kan nie net die verslaafde se sosiale en werkslewe ontwrig nie, maar kodeïnverslawing kan ook lei tot stuiptrekkings, lewer- en nierskade, depressie, angstigheid en selfs die dood.”

Chetty het gesê die onbedoelde verslawing aan medisyne wat sonder ʼn voorskrif gekoop kan word kan vermy word as mense met hul aptekers gesels oor die veilige gebruik van medisyne.

Volgens die SAAR kan siektes soos gonorree, tuberkulose en griep wat weerstandig is vir behandeling voorkom as pasiënte nie die voorskrifinstruksies volg nie of wanneer hulle onbehoorlike behandeling toepas.

September is nasionale apteekmaand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nonnie ·

Wat van dr’s wat medikasie voorskryf sonder d nodige kennis oor wat sekere medikasie aan ‘n persoon doen? Ek gaan al meer as 3 jaar deur hel agv meds wat vir my voorgeskryf was vir fibromyalgie. My skoonseun het agv dieselfde medikasie selfmoord gepleeg. Wanneer gaan dr’ s verantwoordelik gehou word vir hul aandadigheid agv die medikasie wat hul voorskryf sonder om pasiente in te lig oor wat die uitwerking op langtermyn gaan wees????

koos1 ·

Nonnie, my opinie is Fibromalagie ‘n naam vir wat dokters vir ‘n toestand gegee het , as hulle nie meer weet wat nie.
My vrou is deur hel en het sowat 33 pille per dag gesluk. Uiteindelik ‘n ander raad gevind. Daar is ‘n natuurlike olie wat vir haar werk, maar die probleem is, dit is onwettig MAAR 100% veilig as dit in olie vorm gebruik word. Ek glo dit word onwetting gehou, want as dit wettig gaan word, is 60% van die pille vervaardigers en apteke bankrot.

Ellisras ·

Familie van my(meer as een) drink pyn pille uit gewoonte uit. Drink dit soos ‘n kind smarties eet. En praat help nie. Gelukkig mors hy nie sy geld op ‘n uittree anuteit nie. Hy sal nie maak nie.

Sieg ·

Groot bog storie, hulle wil net hê die dokters moet meer geld maak.

GELD GELD GELD ·

aaaaaaaaahhhhhhhhhh een wat met my saamstem baie produkte wat NIEMAND doodgemaak het nie moet nou skielik deur ‘n dokter voorgeskryf word sodat die DOKTER sy pond vleis kan vat en ook die APTEKER ‘n fooi daarop kan vra want hy mag nie ‘n fooi op die OTC meds vra nie … GELDWOLWE.

J ·

Die aptekers moet ook verantwoordelik gehou word vir die misbruik van medikasie. Sommige aptekers gee sommer net medikasie in oorvloed. Veral in klein dorpies waar die apteke maar min is en almal mekaar ken kan jy mos sien die persoon misbruik pille. Maar nee, geld is mos alles. Gee nie om of hulle help om ander se lewens te verwoes nie. Die nuwe wetgewing dat jy jou persoonlike informasie moet verskaf vir die aankoop van medikasie met kodeine help net mooi niks. Hulle vra nie eers nie, gee net sommer bokse vol pille.

Apteek Kenner ·

Julle moet asseblief by elke apteek vra om ‘n “Complienz” toets te doen voor hulle die medikasie aan julle toe dien – hetsy dit nou oor die toonbank is of ‘n voorskirf van die dokter af. Hierdie toets bepaal of daar enige interaksie is tussen 2 of meer verskillende pille/stropies. Die apteek sal dan vir jou se bv: Moenie hierdie 2 pille saam neem nie of iets so simpel soos: Jy mag nie Pomelo sap drink as jy “hierdie” medikasie drink nie. Aptekers sal ook die dokters in kennis stel as daar enige van die bestandele teen mekaar werk vir ‘n volgende generies eerder. Asb onthou hierdie: Complienz – dit het al menige mense wat kroniese medikasie gebruik se lewens of verbeter of gespaar.

piper ·

dit is een groot rede waarom koerier medisyne gestop moet word. die gewone apteker het geen idee wat sy klient gebruik nie en kan medikasie gee wat bots met sy koerier medikasie.

BElaglik ·

2%, julle is meer bekommerd oor kodeiene as mense wat tik en ander dwelms gebruik. Ek raak so vies vir mense wat altyd ‘n berg van n molshoop probeer maak,dit gaan maar weer net oor EEN DING, die DOKTER MOET DIT VOORSKRYF so die DOKTER Maak weer sy volle fooi net vir ‘n voorskriffie vir hoofpyn..Dink julle REGTIG ons dink julle gee om oor ons gesondheid en verslawings? Gaan parkeer gerus voor die bottelstoor en kyk dan WAT JY AAN DAARDIE VERSLAWING gaan doen .. min mense pleeg moord as hulle kodeiene gebruik maar baie moorde en verkragtings kom agv DRANK, so dalk moet julle DRANK ook eerder op VOORSKRIF begin uitgee.

LouE ·

Absolute twak. Hulle wil net meer reguleer en pryse opsit. Die ‘inligting’ is nie wetenskaplik nie. Nee ek is nie verslaaf aan enige iets nie behalwe vars lug en kos.

Oosrand Girl ·

Ek het al baie mense in rehabilitasie sentrums help inkom, juis oor voorskrif medikasie verslawing. Wat my stom slaan is dat daar n’ spesifieke apteek is wat enige medisyne selfs skedule 6 pille sonder voorskrif aan die verslaafdes verkoop. Dit is al menigte male aangemeld en was hulle al gevang, maar n’ dag later verkoop hulle weer. Hoekom word dit toegelaat?

Apteker ·

Van wanneer is die Aptekersraad bekommerd? Hulle voel ‘n veer.
Asb moenie alle aptekers afskiet nie. Die Pakistanis verkoop onwettig medikasie maar die Aptekersraad, die Medisyne Beheerraad en die Dept van Gesondheid draai ‘n blinde oog. Almal se verweer is dat dit nie in hulle jurisdiksie val nie en dat ‘n saak by die SAPD oopgemaak moet word.
Wat egter ook in veral townships gebeur met sogenaamde “apteke”, maak my skaam.
Die gesondheidsbedryf het dringend aandag nodig, maar NHI gaan nog meer skade veroorsaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.