Arbeidshof lewer ‘historiese uitspraak’ oor metaalbedryf

Argieffoto (Foto: MEIBC, Facebook)

Die arbeidshof het Dinsdag uitspraak gelewer oor die vakbond Solidariteit se aansoek om die bedingingsraad vir die metaal- en ingenieursbedryf (MEIBC) onder administrasie te plaas in ʼn poging om die bedingingsraad van bankrotskap te red.

Regter Sean Snyman het dié ingrypende hofbevel, wat as ʼn “historiese beslissing” beskryf word, aan die vakbond toegestaan. Die hofbevel lui dat die MEIBC onder administrasie geplaas moet word. Die hofbevel en aansoek wat Solidariteit gebring het, is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en sal die landskap in die staal- en ingenieursbedryf ingrypend verander.

Marius Croucamp, adjunk-hoofsekretaris van Solidariteit, het dié historiese bevel verwelkom. “Die bevel is ʼn broodnodige stap om te verseker dat die MEIBC van ondergang gered word. Ons glo dat die aanstelling van ʼn administrateur sal verseker dat die MEIBC reggeruk word en finansieel gesond sal word. Die behoud van die raad is kritiek vir die stabiliteit van die staalbedryf wat reeds onder geweldige druk is,” het Croucamp gesê.

Volgens Croucamp sal die administrateur wat aangestel word, groot stappe moet doen om wanbestuur en finansiële ongerymdhede uit te sorteer. “Weens die wanbestuur het die raad in die afgelope tyd tegnies insolvent handel gedryf. Krediteure het aan die deur geklop en gedreig om die raad te likwideer. Belangrike funksies soos dispuutresolusie het maande lank stilgestaan, maar sal nou weer op koers gekry kan word,” het hy verduidelik.

Die departement van arbeid, NUMSA en werkgewersorganisasies het tot die bevel ingestem. “Ons is verheug dat belangrike rolspelers uiteindelik tot die proses van administrasie ingestem het. Die administrasieproses is met ʼn proses van besigheidsredding vergelykbaar wat dikwels in die privaatsektor gebruik word om ʼn besigheid van ondergang te red,” het Croucamp gesê. “Die alternatief was likwidasie, wat nie in die bedingingsraad se belang sou wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Mooi manne. Dankie vir julle insetter. Julle gee my hoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.