Arbeidshof sê oor 10111-staking

Die arbeidshof het Donderdag uitspraak gelewer in ʼn aansoek van die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu) om die Suid-Afrikaanse Polisiediens te verhoed om tugstappe te doen teen stakende werkers van die 10111-inbelsentrums.

Die arbeidshof in Johannesburg het Sapu se dringende aansoek vir dié interdik met koste van die hand gewys.

Die hof het bevestig die ooreenkoms wat verlede maand tussen die Veiligheidsektorbedingingsraad (SSSBC), waarvan Popcru die meerderheidsvakbond is, en die polisie onderteken is, is geldig. Hoewel Sapu nie die ooreenkoms onderteken het nie, is die ooreenkoms afdwingbaar en die staking onbeskermd verklaar. Die hof het ook bevind dat die polisie wel die reg het om tugstappe te doen teen werkers wat nie op 29 September teruggekeer het na hul werk nie.

Die polisie het ná die uitspraak die hof se besluit verwelkom. Die polisiebestuur het ʼn beroep op oorblywende stakers landwyd gedoen om terug te keer werk toe.

Volgens die SAPD het die meeste 10111-werkers intussen na aanleiding van die ooreenkoms teruggekeer werk toe, maar sommige werkers weier nog. Die stakende werknemers het vroeër vandeesweek beloof om die staking te verskerp indien daar nie aan hul eise gehoor gegee word nie.

Sapu eis salarisverhogings wat aanbeveel is deur ʼn taakspan wat in 2013 deur die geskorste polisiekommissaris, Riah Phiyega, op die been gebring is. Die vakbond eis dat die SAPD-werkers se salarisse met twee vlakke verhoog word, ʼn geraamde verhoging van R50 000 per jaar.

Lees die vorige berigte oor die 10111-staking op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.