Arbeidshof sê oor 10111-staking

Argieffoto: https://pixabay.com

Die arbeidshof het Vrydag uitspraak gelewer in ʼn die polisiebestuur se aansoek om onwettige optrede deur stakende 10111-operateurs te voorkom.

Genl.maj. Sally de Beer, nasionale polisiewoordvoerder, het Vrydagaand gesê die hof het die aansoek toegestaan en ʼn interdik aan die polisie uitgereik.

“Die interdik verhoed stakende personeel om ander personeel of persone op die polisie se eiendom te teister,” het De Beer gesê. “Hulle mag ook nie ander personeel dreig en intimideer nie en ook nie enige eiendom van die polisie beskadig nie.”

De Beer het gesê stakende werkers mag nie ander polisiepersoneel aanhits en aanmoedig om aan onwettige optrede deel te neem nie en mag nie op enige polisieperseel wees tensy hulle wettig optree nie.

Maroela Media het vroeër berig die polisie het ʼn dringende aansoek teen stakende lede van die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu) ingedien wat buite die 10111-inbelsentrum se hoofkantoor in Midrand betoog.

“Sedert verlede Vrydag het van die stakers sporadies niestakende werkers gedreig en geïntimideer. Donderdag het die situasie vererger en van die stakers het voorwerpe gegooi waartydens ampsvoertuie beskadig is,” het De Beer vroeër gesê.

“Die polisie het ʼn verpligting om optimale diens aan die gemeenskap te lewer en ook ʼn doeltreffende noodreaksiediens te verseker. Die waarnemende nasionale kommissaris gaan intussen verteenwoordigers van Sapu en die polisievakbond Popcru vir ʼn vergadering nooi in ʼn poging om ʼn oplossing vir die staking te vind.”

Sy het gesê gebeurlikheidsplanne is steeds in werking by inbelsentrums “wat nog doeltreffend werk en ʼn minimale uitwerking op dienslewering het”.

Operateurs beweer dat hulle R100 000 per jaar verdien en erg oorwerk is en dat sentrums onderbeman is. Dit beteken dat sommige noodoproepe nie opgevolg word nie omdat werkers skofte van tien tot 12 uur moet werk.

Geskille ten opsigte van betaling en werksomstandighede sloer sedert 2013.

Lees die vorige berigte oor die 10111-staking op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tiger ·

Dit is net ‘n stuk papier met ‘n oulike stempel op.Soos die ingelse se :the proof is in the pudding.Laat ons SIEN wat die polisie uitgerig kry.

Joey ·

Daar buite is baie werkloses. Sekere mense het te veel regte en te min verantwoordelikhede!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.