Arbeidshof staan bevel teen Denel toe

Die arbeidshof het Vrydag ’n dringende aansoek wat die vakbond Solidariteit teen Denel gebring het ingevolge ʼn klagte van minagting van die hof, as tussentydse bevel toegestaan.

Die aansoek is as tussentydse bevel met die keerdatum van 3 Desember toegestaan.

Volgens Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by Solidariteit, is die vakbond tans besig om lasbriewe van eksekusie uit te reik.

Dít volg nadat Denel nie sy verpligtinge teenoor werkers ingevolge ʼn hofbevel nagekom het nie.

Die arbeidshof het op 4 Augustus beslis dat Denel uitstaande salarisse wat hy werkers vir Mei, Junie en Julie skuld teen 7 Augustus moes betaal. Die wapenvervaardiger het egter nie aan dié hofbevel gehoor gegee nie en geen betalings is ingevolge die hofbevel gedoen nie.

“Solidariteit het dus geen ander keuse gehad as om die hof te nader om die bevel af te dwing nie,” het Cronjé Vrydag in ʼn verklaring gesê.

“Dit is belaglik dat lojale werknemers, selfs ná ʼn hofbevel in hul guns, steeds vir Denel se misdrywe en wanbestuur van die verlede moet boet. Solidariteit kon dit nie toelaat nie en het die hof genader om die hofbevel te laat afdwing om Denel op dié manier verantwoordelik te hou vir die nakoming van sy verpligtinge. Die uitslag van hierdie saak is ʼn oorwinning vir Solidariteit en al sy lede wat deur Denel se nalatigheid geraak is.”

Maroela Media het vroeër vandag berig die internasionale graderingsagentskap Fitch het Denel se gradering van langtermyneffekte Dinsdag tot vlak CC afgegradeer, terwyl sy korttermyneffekte na C afgegradeer is. ʼn C-gradering is die laagste gradering wat Fitch kan gee. Albei was tevore op vlak B.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stefan ·

Nou ja, mooi, dan kan hierdie denel belastinggeld sinkgat tot ‘n einde kom.
De Balju kan beslag lè op al hul ‘bates’ en dit op ‘n veiling verkoop en die opbrings uitdeel as agterstallige salarisse en die probleem is opgelos.
denel bestaan nie meer nie!

Yvonne ·

Die tipe mens skrik nie meer vir die hof nie…dit lyk of die Reg nou soos n tandlose hond geword het…ministers etc gee nie eers gehoor op n hofbevel nie…..sjo

Realis Thailand ·

Dit gaan al vir jare aan
Die parlement,die anc en al die ander kaders steur hulle nie aan die hofbevele en niemand word vir minagting van die hof aangekla.
Jy kla net een DG aan en laat hom so n maand tronkstraf kry en sien hoe vinnig word hofbevele nagekom
Baie jare gelede in 1965 het daar baie lasriewe vir verkeers oortredings by Brooklyn polisie aangekom en het die sers wie die lasbriewe moes uitvoer die mense gebel en dan het hulel die volgende oggend by die hof aangemeld en R10 boete gekry
Toe begin van die mense die LBriewe ignooreer en ook sy tel oproepe. Hy neem toe die polisie vangwa een Vrydag middag en gaan haal toe die mense in Waterkloof en Lynwood en sluit hulle toe vir die naweek op.Jy kon ook nie borg kry op n Bank lasbrief en die mens moes toe tot maandag sit. Dit was net so tien mense gewees
Die storie het versprei en dit was die einde van sy probleme

Kokerboom ·

Sluit of privatiseer die een trotse instelling. Staat moet pa staan vir wernemers se uitstaande vergoeding. Dis in elk geval Staat wat toegelaat het dat Denel vou!Die vlak van ongeergdheid waarmee Staat bates wat aan inwoners van land behoort hanteer gaan my verstand te bowe

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.