Arbeidshof staan verlof tot appèl in SAPD-saak toe

Argieffoto

Argieffoto

Die Arbeidshof het ’n onlangse aansoek om verlof tot appèl van die vakbond Solidariteit toegestaan. Dit volg nadat dié hof op 2 April 2015 in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se guns beslis het aangaande die toepassing van regstellende aksie tydens aanstellings en bevorderings.

Die saak handel oor die regmatigheid van die kollektiewe ooreenkoms (2/2011) wat die SAPD in 2011 met erkende vakbonde gesluit het, met die herinstelling van die ou militêre rangstelsel, wat twee nuwe range tot gevolg gehad het. Die ooreenkoms bepaal dat poste aan die mees senior persone binne hulle spesifieke ras toegeken sal word, en verder is die poste volgens die nasionale rassedemografie tussen die spesifieke groepe verdeel.

“Die praktyk om beskikbare poste volgens die nasionale rassedemografie in te deel is ongrondwetlik en diskriminerend teenoor almal. Meer as driekwart van die lede wat op grond van hulle jare diens op bevordering geregtig is, het nie daarvoor in aanmerking gekom nie bloot op grond van hulle ras. Hierdie praktyke moet voor die hof gedaag word anders sal dit eenvoudig voortduur,” het Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, gesê.

Solidariteit het ’n interdik verkry om 1 634 aanstellings te stop waar die aanstelling slegs op grond van ras gemaak is, en die uitkoms van hierdie hofsaak sal finaliteit aan die aanstellings verleen.

“Ons besef dat daar ’n aantal SAPD-lede is wat wag vir bevordering, maar hierdie saak is een wat ons vertrou regsekerheid oor die beginsel van kwotas sal gee. Talle SAPD-lede het ’n belang by hierdie saak en dit is ons doelwit om in die beste belang van al hierdie lede op te tree,” het Groenewald verduidelik.

Die vakbond Solidariteit het bevestig dat hy die Arbeidsappèlhof sal versoek om ’n moontlike voorkeurhofdatum toe te staan weens die feit dat sekere personeellede wat moontlik op bevordering geregtig is, eersdaags gaan aftree en gevolglik hierdie bevorderingsgeleentheid kan misloop.

Verdere inligting rakende die saak kan hier verkry word. Klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.