Arbeidshof verwerp SAL-sakeredders se appèl

(Argieffoto)

Die arbeidshof het Donderdag die aansoek van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se sakereddingspraktisyns verwerp teen ʼn beslissing dat hulle nie met die afleggingsproses by die staatsredery kan begin voordat ʼn sakeplan ter tafel gelê is nie.

Die sakereddingspraktisyns, Les Matuson en Siviwe Dongwane, het aangevoer dit is in die openbare belang om duidelikheid oor die kwessie te kry.

Die aansoek kom nadat die hof ʼn dringende aansoek van die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging (Sacca) toegestaan het om afleggings by die ondernemings te stuit.

Die hof het bevind die voorgestelde afleggings is prosedureel onbillik en het die SAL en die sakereddingspan beveel om die kennisgewings wat hulle daaroor uitgereik het, terug te trek. Die kern van die saak was of ʼn maatskappy met werkers oor afleggings besprekings kan voer as daar nog nie ʼn plan voorgelê is nie.

Donderdag se uitspraak gaan weinig beteken vir die sakereddingsplan omdat dit reeds voorgelê is en die SAL se krediteure volgende week daaroor moet stem.

Vakbonde, met die uitsondering van die Suid-Afrikaanse Vlieëniersvereniging (Saapa), het intussen die skeidingspakkette wat die maatskappy aangebied het, aanvaar. Numsa en Sacca was die laaste om in te stem, maar het dit die afgelope week gedoen.

Die vakbonde het gisteraand wel die hofbeslissing verwelkom as belangrik in arbeidsreg, veral omdat talle ondernemings na verwagting werkers gaan aflê weens die skade wat die Covid-19-pandemie en afsonderingstydperk aan die ekonomie aangerig het.

“Hoewel die appèl aangehoor is nadat die sakereddingspraktisyns ten einde laaste ʼn plan bekend gestel het, was dit belangrik vir ons om die beslissing van die arbeidshof te verdedig omdat dit ʼn  verreikende uitwerking op werkers het. Die saak is belangrik vir die daarstel van duidelike riglyne vir sakereddingspraktisyns in die algemeen,” het Numsa en Sacca in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

“Daar is talle maatskappye wat aansoek gedoen het om sakeredding en die Covid-19-pandemie as rede daarvoor aangevoer het. Die uitspraak beteken in wese dat werkgewers nie sakereddingspraktisyns mag gebruik om namens hulle werkers af te lê nie en die uitdagings wat die onderneming se voortbestaan bedreig, moet in die sakereddingsplan vervat word.”

Die afleggingspakket kom teen ʼn koste van R2,2 miljard.

Slegs 1 000 van die redery se nagenoeg 5 000 werkers gaan ná afloop van die proses hul werk behou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.