‘Arbeidswette oor stakings moet aangepas word’

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van  Solidariteit Foto: Reint Dykema

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit het vandag gewaarsku dat ’n lang herstelproses voorlê ná Amcu se verlammende staking in die platinumbedryf.

Solidariteit het ook ’n beroep op Mildred Oliphant, die minister van arbeid, gedoen om die huidige arbeidswetgewing dringend te hersien sodat dit, onder meer, voorsiening maak vir vertroulike stakingstemmings deur vakbondlede, soortgelyke destruktiewe stakings aan ’n verpligte arbitrasieproses onderwerp en met die “wenner-kry-alles”-meerderheidsbeginsel wegdoen.

Amcu het gister, ná vyf maande, werkgewers in die bedryf se nuutste loonaanbod aanvaar. Solidariteit het die einde van die staking verwelkom, maar beklemtoon dat die nuwe aanbod eintlik net ’n herverpakking van ’n vorige aanbod is en dat die verliese en skade baie minder kon gewees het as Amcu vroeër ’n einde aan die staking gemaak het.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, was hierdie staking die langste, duurste en mees vernietigende staking in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse mynbedryf.

“Die platinumbedryf gaan nog lank die nagevolge van die staking moet dra. Amcu het waarskynlik net geskik omdat van die werkgewers op die punt was om ’n hofaansoek te bring om die staking wanfunksioneel te laat verklaar weens die ernstige geweld en intimidasie waarmee dit gepaardgegaan het,” sê Du Plessis.

Du Plessis meen ook dat die stakers se vreugde oor die ooreenkoms van korte duur gaan wees omdat hulle nou die gevolge van die beginsel van geen werk, geen betaling, wat tydens die staking gegeld het, sal moet dra.

Talle skagte van die mynmaatskappye wat deur die staking geraak is, se voortbestaan is nou in die weegskaal en grootskaalse afleggings gaan waarskynlik nou volg. Daarbenewens is die mynbousektor se volhoubaarheid benadeel, plaaslike ekonomieë vernietig, beleggers afgeskrik en Suid-Afrika se beeld waarskynlik onherstelbaar beskadig.

“Die stakers sal etlike jare moet werk om die verlies wat hulle weens die staking gely het, in te haal. Amcu het daarin geslaag om sy lede armer te staak en boonop veroorsaak dat ’n groot aantal van sy lede afleggingstatistieke gaan word. Die vakbond het weens sy swak onderhandelingsvaardighede en ideologiese raamwerk sy lede benadeel en duisende niestakende werkers en hul afhanklikes in armoede gedompel omdat die reg om te staak bo die reg om te werk verhef is,” sê Du Plessis.

Solidariteit het ’n beroep op die regering gedoen om die oppergesag van die reg in die platinumgordel te herstel na aanleiding van die twee jaar lange arbeidsonrus en kriminele aktiwiteite wat daarmee gepaargegaan het.

Solidariteit het sy lede ondanks die onsekerheid versoek om alles in hul vermoë te doen om hul maatskappye by te staan sodat die myne so gou moontlik weer ten volle operasioneel kan wees en produksieverliese ingehaal kan word.

“Alle belanghebbendes sal nou kragte moet saamspan om die eens winsgewende platinumbedryf en ekonomie van die Rustenburg-omgewing te herstel,” sê Du Plessis.

Solidariteit het alle individue en organisasies bedank wat ’n bydrae gelewer het om die lot van niestakende werknemers die afgelope vyf maande te verlig. “Ons bedank spesifiek Solidariteit Helpende Hand wat noodleniging van meer as R2 miljoen rand aan niestakende werkers gebied het,” sê Du Plessis.

“Ons wil die publiek versoek om steeds Helpende Hand se voortgesette noodlenigingsprojekte in die gebied te ondersteun om sodoende die langtermyngevolge van die staking op die plaaslike gemeenskap te help verlig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.