
Makhaya Ntini en Graeme Smith vier ’n toetsoorwinning teen Indië. Twee onafhanklike arbiters het Smith onskuldig van enige rassistiese optrede bevind. Foto: Alexander Joe/AFP.
Twee onafhanklike arbiters het bevind dat die bewerings van rassisme teen Graeme Smith geen gewig dra nie.
Die bewerings spruit uit Krieket Suid-Afrika (KSA) se projek vir maatskaplike geregtigheid en nasiebou (SJN) waarin adv. Dumisa Ntsebeza in ’n verslag van 235 bladsye onder meer die optrede van Suid-Afrikaanse krieketlegendes soos Smith, Mark Boucher en AB de Villiers onder ’n rasvergrootglas geplaas het.
Ntsebeza het in sy hoedanigheid as onafhanklike ombudsman aangevoer dat hy nie in ’n posisie is om definitiewe bevindings te maak nie en dat die saak verder gevoer moet word.
KSA het nie op hom laat wag nie en ’n kort rukkie later is daar in ’n amptelike verklaring gesê dat ’n formele ondersoek van stapel gestuur sal word.
Smith, een van Suid-Afrika se beste kapteins nog én die land se eerste direkteur van krieket, het egter die tentatiewe bevindings vir ’n ses geslaan.
Adv. Ngwako Maenetje en adv. Michael Bishop het bevind dat daar geen bewysgrondslag was dat die voormalige openingskolwer homself aan enige rassediskriminasie skuldig gemaak het nie.
Van die bewerings wat teen Smith gemaak is:
- Dat hy om rassistiese redes vir Thami Tsolekile oor die hoof gesien het om die paaltjiewagterhandskoene by Boucher in 2012 oor te neem. Volgens Tsolekile, wat weens wedstrydknoeiery vir 12 jaar uit die spel geskors is en ’n toetskolfgemiddeld van 9,40 gehad het, was dit rassisties toe De Villiers bo hom gekies is om agter die paaltjies diens te doen.
- Dat hy diskriminerend jeens KSA se swart leierskap opgetree het. Daar is onder meer aangevoer dat hy geweier het om saam met Thabang Moroe (KSA se omstrede voormalige uitvoerende hoof) te werk. Die wyse waarop Boucher bó Enoch Nkwe as die nasionale afrigter aangestel is, was ook onder die vergrootglas.

Graeme Smith was een van Suid-Afrika se voorste kapteins. Hier kolf hy met ’n gebreekte hand teen Australië. Foto: Twitter.
“Die wyse waarop hierdie kwessies deur die arbitrasieverrigtinge hanteer en opgelos is, bevestig KSA se verbintenis om die SJN-bevindings met regverdigheid en erns te bejeen,” het die nasionale krieketbeheerliggaam se Lawson Naidoo gesê.
Boonop is KSA – wat maar sukkel om kop bo water te hou – ook vir Smith se regskoste verantwoordelik.
In ’n flouerige verskoning het die land se krieketowerheid gesê dat hy weet dat dit “moeilik” vir Smith was om die ongeregverdigde openbare bekendmaking van sy persoonlike inligting, insluitend sy vergoeding, tydens die SJN-proses te verduur.
“KSA betreur dit en sy beste wense vergesel mnr. Smith.”
Former CSA Director of Cricket, Graeme Smith has been cleared by two independent arbitrators of racism allegations against him, which emanated from CSA’s Social Justice and Nation-Building (SJN) process.
Full details ➡️ https://t.co/bJblhS8v69 pic.twitter.com/eCU9oMxjqW
— Cricket South Africa (@OfficialCSA) April 24, 2022
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
19 Kommentare
Ja nee, dit gaan seker dieselfde wees vir Boucher.
Maar net weer ‘n bewys dat die ANC/EFF nie ‘n benul het wat rassisme beteken nie
Baie bly. Nou kan ons weer vorentoe kyk en suksesvol wees. Glo Boucher sal ook vrygespreek word .
Daar is een probleem en dit IS ANC en KADERS
Onskuldig en gatvol vir KSA se gemors. KSA sê nou net jammer en stel dan hul kandidaat aan, hoe maklik is dit darem nie?