ArcelorMittal-afleggings ‘dalk eerste van vele’

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het Donderdag gewaarsku dat die afleggingskrisis waarin ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) hom tans bevind, dalk slegs die begin van nog vele ander kan wees.

Dit volg nadat Solidariteit ʼn 189A-afleggingskennisgewing ontvang het. Amsa het Woensdag in ʼn handelsverklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, aangekondig dat hy noodgedwonge meer as 2 000 werknemers moet aflê. Dit is sowat ʼn vyfde van die maatskappy se werkmag.

Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, waarsku indien rolspelers in die staalbedryf nie dringend ingryp nie, kan talle ander afleggings volg.

Volgens Croucamp kan afleggings onder andere toegeskryf word aan Eskom se verhoging in kragtariewe en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) wat nie ag geslaan het op die staalreus se hulpkrete nie. “Ons het Nersa gewaarsku dat dié verhoging die industrie gaan vernietig. Tog is daar voortgegaan en moet gewone werkers nou die prys betaal,” sê hy.

Croucamp sê voorts dat selfs die versoekbrief wat Solidariteit op 11 Junie aan die minister van handel en nywerheid gerig het, wat dringend versoek dat die minister rolspelers in die industrie byeen moet roep om die uitdagings te bespreek, op dowe ore geval het.

Volgens Croucamp het die onlangse instelling van die koolstofbelasting die bedryf onder verdere druk geplaas en speel dit ook ʼn groot rol in die afleggings wat Amsa tans in die gesig staar. “Die tydsberekening van dié instelling was heeltemal verkeerd, omrede Suid-Afrika dit nie tans kan bekostig nie. Hoër insetkoste in die staalbedryf, wat reeds onder enorme druk verkeer, het noodwendig werksverliese tot gevolg.”

Hy sê indien Amsa die afleggings deurvoer, Solidariteit in die beste belang van sy lede sal optree. “Solidariteit sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat sy lede wat deur hierdie proses geraak word, die voorgestelde skeidingsvoordele en die nodige steun in hierdie moeilike tyd ontvang,” het hy gesê.

Croucamp voer aan dat in die konteks van die geweldige druk wat die staalbedryf tans beleef, dié aankondiging die spanning vererger. “Indien daar nie dringend deur alle rolspelers ingegryp word nie, sal al hoe meer maatskappye afleggings in die gesig staar. Solidariteit vra die regering om sy pligte na te kom en seker te maak maatskappye kan in Suid-Afrika volhoubaar voortbestaan.  Dit moet gedoen word deur kragtoevoer te verseker en versmorende regulasies te hersien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Wat is die uiteinde van n regering wat alles vernietig en die inwoners van die land afhanklik maak van hulle……… Ek vra net die vraag. Dis seker redelik duidelik. Hulle (die regering van SA) het absoluut geen intensie om SA n beter plek te maak nie, net n meer afhanklike plek.

LouE

As jy pap skep en die lepel krap die bodem raak, dan is die pap amper klaar. Dis wat nou gebeur. Dit het merkwaardig lank gehou.

Leon Pit

2000 Poste wat gaan waai, nee dink mooi.
Dit gaan n rimppel effek meebring daar gaan baie meer as 2000 hul werk kos in die Vaal driehoek .

Clipper

Nog iets wat op die anc se kerfstok kom. Hulle het nie die vermoë om enigiets opbouend te doen nie.

marco polo

Die land raak nou volwaardig gedekolonialiseer. Nou moet daar nog net ontslae geraak word van die nare witmense wat die kos voorsien.