‘ArcelorMittal en staalbedryf se probleme hul eie skuld’

Argieffoto

Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika (Neasa) het Dinsdag gesê die potensiële verlies van 2 000 werksgeleenthede by ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) sal ʼn geweldige uitwerking op die werkloosheidskoers van die land hê.

Dit volg ná Amsa verlede week in ʼn handelsverklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, aangekondig het dat die maatskappy noodgedwonge sowat ʼn vyfde van sy werksmag moet aflê.

Maroela Media het berig dat Solidariteit ʼn 189A-afleggingskennisgewing van Amsa ontvang het. Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, het toe gewaarsku dat die afleggingskrisis dalk slegs die begin van nog vele ander kan wees as rolspelers in die staalbedryf nie dringend ingryp nie.

Intussen het die metaalwerkersvakbond Numsa ook bevestig dat hy ʼn kennisgewing van die multinasionale staalvervaardiger oor sy herstruktureringsproses ontvang het.

“Die saak ontvang tans baie aandag in die media en dit is ook geregverdig. Elke verlore werksgeleentheid het ʼn groot negatiewe uitwerking op die individue in Suid-Afrika se sukkelende arbeidsmark,” het Gerhard Papenfus, Neasa se uitvoerende hoof, gesê.

Papenfus meen egter die staalbedryf se verlies van 100 000 werksgeleenthede die afgelope dekade het beslis nie die nodige aandag gekry nie. Hy het gesê daar is nie hierop gefokus nie omdat die verliese geleidelik gebeur het en nasionaal versprei was.

“Die gevolg van die de-industrialiseringsbeleid was nie so skouspelagtig as die verlies van 2 000 werksgeleenthede in een werksplek nie, maar dit was veel meer verwoestend.”

Papenfus het gesê die geleidelike uitwerking was die stadige gif wat die lewe uit Suid-Afrika se klein, medium en mikro-ondernemings (KMMO’s) gewurg het, maar dit was eenvoudig tot dusver net nie nuuswaardig genoeg nie.

Hy het verder gesê die Chinese ekonomie se reusagtige groei het ook ʼn uitwerking op die staalbedryf gehad wat nie geïgnoreer kan word nie. Benewens die wêreldwye verwikkelinge het Suid-Afrika egter sy eie pyne in die bedryf veroorsaak.

“Hoe kan ʼn mens dit anders verduidelik? Terwyl die wêreldwye ru-staalproduksie met 5,4% toegeneem het, het Suid-Afrika se uitset met 10,3% gedaal.

“China se uitset het met 10% toegeneem, Indië met 5,1%, die VSA met 5,4%, Brasilië met 2,9% en Egipte met 19,8%.

“Sommige lande soos Frankryk, Spanje en Turkye het ook ʼn afname in ru-staalproduksie beleef, maar glad nie op die skaal wat Suid-Afrika dit ervaar het nie.”

Papenfus het aangevoer dat Suid-Afrika se staalbedryf ʼn slagoffer is van beleidstellings wat gelei het tot ʼn meedoënlose, verwoestende proses van de-industrialisering en hy glo Amsa, die land se enigste staalprodusent, het hieraan meegedoen.

“Een van die vernaamste skuldiges is Suid-Afrika se bedingingsraadbedeling, wat in die staalbedryf as die Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedryf (MEIBC) bekendstaan. Die MEIBC diskrimineer onbeskaamd teen KMMO’s, veral ten opsigte van diensvoorwaardes.

“Die bepalings in die wet op arbeidsverhoudinge wat die raamwerk van hierdie vernietigende bedeling is, bevestig net dat daar geen politieke waardering of begeerte is om ʼn omgewing te skep waarin kleiner ondernemings kan floreer nie. Hierdie onderneming moet kan floreer as ʼn voorvereiste van industrialisasie.”

Die soort ondernemings is Amsa se kliënte en soos wat hulle ál meer begin sukkel het, het Amsa se mark ook gevolglik begin daal.

“Amsa het in 2015 in hierdie ernstige ekonomiese situasie finaal teen sy eie kliëntebasis gedraai.

“Dit is toe die regering ʼn 180-grade-ommeswaai gemaak het en ʼn 10%-doeanereg ingestel het, gevolg deur ʼn verdere 12%-waarborgreg om Amsa te beskerm teen die invoer van goedkoper staal van beter gehalte.

“Die invloed op die staalprodukte se waardeketting was onmiddellik en ernstig. Staalprodusente laer in die ketting is gedwing om by Amsa te koop omdat hulle nie meer die beste staal teen die beste prys kon koop nie.

“Vir KMMO’s was dit moeilik om te oorleef, wat nog te staan meeding of floreer onder die MEIBC se loonbedeling.”

Papenfus meen die plaaslike staalbedryf is so gereguleer om die 70-jarige Amsa-staalfabriek, wat deur buitelanders besit word, te beskerm.

“Met dié fabriek se verouderde produksiemetodes en elektrisiteitslas – wat 60% hoër is as dié van ʼn moderne staalfabriek – kan dit nie met internasionale mededingers meeding nie, wat die prys én gehalte van staal betref. Kleiner staalprodusente en die Suid-Afrikaanse verbruiker moet nou die las hiervan dra.”

Papenfus het gesê die aflegging van 2 000 werkers sal tydelike verligting vir Amsa bring, maar sonder om die onderliggende faktore wat die vervaardiger se dilemma in die eerste plek veroorsaak stelselmatig aan te pak, sal die geleidelike agteruitgang voortduur.

“As Amsa ernstig is om die Suid-Afrikaanse staalbedryf te red, moet die vervaardiger moeilike operasionele besluite neem terwyl so ʼn reddingspoging indrukwekkende beleidsbesluite van die regering sal vereis,” het hy bygevoeg.

Daar word verwag dat alle partye hierdie week tydens ʼn konsultasieproses sal vergader om alternatiewe maatreëls vir die afleggings by Amsa te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

3 Kommentare

Wielspore ·

Groot winste in die vorm van kapitaal is oor die jare deur senior bestuur aan hulle self toegewys in plaas daarvan om die geld terug te ploeg in modern tegnologie wat koste effektief is. Ek self het 11 jaar vir die maatskappy gewerk wat die beste opleiding aan tegniese mense gegee het. Ongelukkig kan nie dieselfde gesê word van bestuur.
In die 11 jaar by Yskor het ek elke maand betaal aan die sogenaamde ingeneursfonds en die dag toe ek Yskor verlaat het ek niks daarvoor gekry, net ‘n besigheid wat vekeerd bedryf was.

Roger ·

Ek was in vroee tagtigs ingenieurkwekeling by Yskor en na opleiding nog 6 jaar daar gewerk. Opleiding was uitstekend. Probleem was egter al die voormanne, superintendente, leiertegnici, bestuurders,afdelingbestuurders, werkebestuurders ens. Daar was heeltemal te veel bestuurpersoneel asook personeel. Ons het destyds al gespot indien Yskor die helfte van die werknemers laat gaan en die ander net voldag laat werk, dan kon produksie verdubbel word. Die punt iste veel geld is in bestuur geplaas ipv werknemers en nuwe metodes

Johan Swart ·

Die probleem by Yskor was nog altyd dat die een persoon bang is die ander persoon kom agter hy doen niks die hele dag vir sy groot salaris….dis hoe dit hier gegaan het nog altyd…ek het nog nooit so iets gesien waar mense wat by dieselfde plek werk, so afgunstig en jaloers op mekaar is nie…elkeen is bang die ander verklik dat daar niks is om te doen in n dag nie….daar was altyd te veel ambagsmanne en helpers op een perseel,ek weet van ambagsmanne wat inklok en dan daai skof omslaap en weer na 8 ure uitklok en dan hul eie besigheid by die huis verder bedryf….hulle bly net aan vir die medies en pensioen….hartseer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.