ArcelorMittal: Nóg afleggings kom

(Argieffoto: MEIBC/Facebook)

ArcelorMittal South Africa (Amsa) gaan nóg werkers aflê, dié keer in Vereeniging en Newcastle. Dit volg nadat die staalreus in November aangekondig het dat hy sy aanleg in Saldanha aan die Weskus gaan sluit en duisende mense dus hul werk sal verloor.

In die jongste verwikkeling lyk dit of sowat 50 betrekkings in Vereeniging, Gauteng, asook 311 in Newcastle, KwaZulu-Natal, geraak word.

“Dit klink dalk na min, maar dit gaan ʼn reuse-invloed hê, aangesien hierdie gemeenskappe redelik klein is en ʼn groot gedeelte van die gemeenskap deur Amsa in diens geneem word,” sê Willie Venter, die vakbond Solidariteit se adjunk-sekretaris-generaal vir die metaal- en ingenieursbedryf.

In ʼn brief aan lede sê die vakbond die veranderings kan nie ligtelik opgeneem word nie en dat dit ʼn geweldige uitwerking op lede gaan hê. “Ons probeer met die maatskappy onderhandel dat van die werkers wat geraak word, in vakante betrekkings aangestel word,” lui die brief.

Venter sê die vakbond vergader ook met amptenare op regeringsvlak om langtermyn-oplossings vir die probleem te vind.

“Ongelukkig het die tyd uitgeloop vir die inwerkingstelling van vinnige oplossings wat onmiddellike verligting vir die probleem sal bring.” Hy sê die afleggings by Amsa is maar net een van die simptome van die groter ekonomiese probleme wat die land tans in die gesig staar.

“Ons praat met maatskappye oor alternatiewe wat afleggings betref, maar wat eintlik moet gebeur, is dat die regering ekonomiese beleidstellings moet verander,” sê Venter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
HOOP

En so maak n man van n ander land wat die besigheid besit ons mense al lank al seer stadig maar seker , of sit ek die pot mis.

Wielspore

Die kapitaal van al die winste oor die jare is veilig in buitelandse bank rekeninge van ‘n paar direkteure wat net mooi niks omgee vir SA en die mense wat vir Mittal staal werk.