Argitekmoord: ‘Dit wás ʼn sluipmoord’

Francois Roodt. Foto: Verskaf.

Die moord op Francois Roodt (54), die argitek wat verlede Donderdagoggend dood langs sy motor op die R710 tussen Bultfontein en Wesselsbron aangetref is, wás ʼn sluipmoord.

Só sê ʼn goeie vriend van Roodt die afgelope 35 jaar, ook ʼn argitek, wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat het.

Die vriend vertel dat die persoon wat eerste op die toneel gekom het deur Roodt se onlangse oproepe op sy foon gegaan en so by hóm uitgekom het.

Die vriend het bevestig dat Roodt besig was met ʼn projek vir die staat wat die opgradering van ʼn polisiestasie ingesluit het. Hy is oortuig sy werk het iets met sy moord te doen aangesien Roodt op pad was na ʼn vergadering op dié bouperseel.

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê die polisie se ondersoek is in ʼn gevorderde stadium. “Ons volg elke liewe leidraad op wat óf deur middel van die media óf van die gemeenskap af aan die lig kom. Daar kom al hoe meer besonderhede na vore,” het Thakeng gesê.

Die vriend sê hy en Roodt was twee weke gelede nog saam met vakansie.

“Hy was ʼn mens wat omgegee het vir die arm- en sukkelmense in die lewe. Hy het altyd gehelp waar hy kon. Hy het nie op homself gefokus nie. Hy was die soort persoon – as jy die aand met tien mense gepraat het, sou jy hóm onthou. Hy het hierdie energie gehad. Hy was anders, hy het nie ʼn deursneepersoonlikheid gehad nie. Jy sou honderd uiteenlopende reaksies kry as mense hom ontmoet het,” sê hy.

Francois Roodt. Foto: Verskaf.

Roodt was volgens hom ʼn briljante argitek en perfeksionisties in sy werk.

“Soveel mense het my gebel ná sy dood, soveel mense het staatgemaak op sy vriendskap. Hy het in ʼn wêreld geleef waarna hy lank gesoek en die afgelope paar jaar uiteindelik gevind het.”

Dit is vir die vriend veral moeilik en ʼn groot skok omdat Roodt se dood so onverwags was.

Volgens hom is daar nog nie begrafnisreëlings getref nie aangesien die lykskouing eers afgehandel moet word.

Roodt word oorleef deur sy broer, Deon, en ma, Val.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eish ·

Skokkend dat die toenemende risiko om met die staat besigheid te doen nou n nuwe dimensie betree met nie slegs laat betalings vir dienste gelewer nie, maar ook nou hierdie lewensbedreigende omstandighede.

Rynhardt ·

SA kort n behoorlike,opgeleide F.B.I.speurdiens wat spesialiseer in politieke moorde en sogenaamde selfmoorde wat dit behoorlik en volledig kan ondersoek sonder enige inmenging! SA se getransformeerde polisie en Valke voldoen nie tans aan hierdie standaard nie!

SjN ·

So onnodig en tragies, ondersoek maar die persone wat betrokke is by die projek van die staat.

Lana ·

Conrad, gesien in die lig van hierdie berig, sou ek graag wou weet wat jy bedoel.

Casper Labuschagne ·

Dit is nie die eerste so ‘n sluipmoord in die OVS wat verwant is met sakebelange wat met individue as BEE vennote uitgevoer word nie. Gaangogel (google) gerus na hierdie name: Louis Siemens, Wandile Bozwana, Ignatius Mpambani

O aarde ·

Die tweede foto van Francois op die graswal met sy kenmerkende sigaret is hoe hy altyd was. Kan hom nou nog sien met sy potlood en sigaret by ‘n werkbank in die Departement Argitektuur se ateljees by die UV. Sterkte aan almal wat hom geken het.

Marilize ·

Ai… so hartseer om te hoor. Ek het lank terug saam met Francois in Pretoria by argitekte gewerk. Hy was so ‘n awesome mens en my vriend. Sjoe.. my hart sommer seer. Niemand verdien dit nie.?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.