Argus-fietsrywedren slegs 47 km

Argieffoto (Cycletour.co.za)

Argieffoto (Cycletour.co.za)

Die organiseerders van die Cape Town Cycle Tour (beter bekend as die Argus-fietsrytoer) het Woensdag aangekondig dat die bekende fietsrywedren vanjaar slegs 47 km lank sal wees as gevolg van die verwoestende brande in Kaapstad.

Die brand woed al steeds Sondag voort nadat dit die oggend net na 02:00 in Muizenberg ontstaan het.

“Om seker te maak dat ons die veiligheid van die 35 000 fietsryers kan verseker, moes ons ʼn besluit neem oor die roete,” het die organiseerders gesê. Die infrastruktuur moet reeds van Donderdag in plek gestel word. “Die besluit was nie ligtelik geneem nie en die besluit was eenparig.”

Die organiseerders het in gesprek getree met die provinsiale regering van die Wes-Kaap, Enteleni en die konsulterende ingenieurs van Chapmanspiek, die stad Kaapstad se gebeurekantoor, die stad Kaapstad se rampbestuureenheid, die provinsiale nooddienste en Kaapstad Verkeer wat betref Ou Kaapseweg, MyCiTi en Mediclinic.

“Die veiligheid van fietsryers kan nie op Chapmanspiekrylaan verseker word nie,” lui die verklaring. “Die ompad deur Ou Kaapseweg moes ook laat vaar word weens roet en as wat steeds op die pad lê weens die brande.” Dit hou ʼn gesondheidsrisiko vir fietsryers in en die situasie sal boonop vererger word indien die wind opsteek.

Na groot oorweging het die organiseerders besluit om ʼn sirkelroete van 47 km in te stel van die gewone wegspringplek by die burgersentrum tot by die M3 en dan dieselfde pad terug om weer in Groenpunt te eindig.

“Die onvoorsiene omstandighede is ongehoord in die 38 jaar van die fietsrywedren. Deelnemers sal Sondag nie die pragtige natuurskoon sien nie, maar eerder die smeulende landskap aanskou as ʼn bron van inspirasie en trots omdat dit die heldhaftigheid van die mans en vroue wat, letterlik, hul lewens op die spel geplaas het om die brande te bestry.”

Die wedren is gewoonlik 109 km lank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.