Armstes dra swaarste aan korrupsielas in gesondheidsektor

(Foto: CTICC/Facebook)

Die organisasie Corruption Watch sê in ʼn land waar die reg op toegang tot gesondheidsorg in die Grondwet beskerm word, moet daar groot kommer wees dat soveel as 13% van die land se jaarlikse begroting weens korrupsie verlore gaan.

Die organisasie sê die kwessie van korrupsie in die gesondheidsorgsektor behoort voorrang te geniet omdat dit ʼn groot gedeelte van die bevolking toegang tot behoorlike mediese sorg ontsê. Die onaanvaarbare ekonomiese ongelykhede wat steeds in Suid-Afrika bestaan word ook veral in dié sektor blootgelê, sê Corruption Watch.

“So lank as wat korrupsie ongebreideld voortduur, word die land se wette en bepalings ondermyn en diegene wat hoogs afhanklik van die staatsbeursie is, se lewens word geruïneer,” het die organisasie in sy jongste verslag, “X-Ray: The critical state of the health sector in SA”, bevind.

Corruption Watch sê die gevolge van grootskaalse korrupsie is nou, te midde van die Covid-19-pandemie, selfs duideliker terwyl die gesondheidsorgstelsel sukkel om sy oorweldigende probleme te bowe te kom.

Corruption Watch sê hy het sedert 2012 byna 700 berigte van korrupsie in die gesondheidsektor ontvang en in ʼn land waar mense te bang is om korrupsie aan te meld, is dit ʼn noemenswaardige syfer. Die drukgroep sê korrupsie kom na vore in ʼn verskeidenheid gedaantes en wissel van geldverduistering tot verkrygingsongerymdhede wat lei tot tekorte aan medisyne, toerusting wat nie werk nie, of druk om omkoopgeld te betaal vir toegang tot dienste wat ʼn basiese mensereg is.

Die verslag het onder meer bevind:

  • 52% van die bewerings van korrupsie is teen provinsiale regerings gemik.
  • 40% daarvan bewerings is teen die nasionale regering gemik.
  • Die meeste sake (39%) word in Gauteng aangemeld, gevolg deur KwaZulu-Natal (16%) en die Oos-Kaap en Mpumalanga (8%).
  • Hooggeplaaste staatsamptenare in bestuursposte word die meeste beskuldig, gevolg deur administrateurs, dokters en verpleërs, asook maatskappye wat reeds staatstenders het.
  • Dokters gebruik die staat se toerusting en medisyne in hul eie praktyke.
  • Die algemeenste vorm van korrupsie is egter dié wat met indiensneming, verkryging en die wanbesteding van hulpbronne verband hou.

Wat betref indiensneming word dit die duidelikste gesien in werkers wat wegbly, bewerings van nepotisme of bevoordeling en die aanstel van ongeskikte kandidate wat geen aanspreeklikheid vir besluite aanvaar nie.

Voorvalle van indiensnemingskorrupsie is die hoogste in die Noord-Kaap (55%), gevolg deur die Vrystaat (46%) en die Wes-Kaap (28%).

Tenderongerymdhede word ook gereeld aangemeld. Die algemeenste vorm van korrupsie in hierdie opsig is pryse wat sonder enige rede opgejaag word, dokumente wat aangepas of vernietig word om mededingers te pootjie, nepotisme, asook amptenare wat omkoopgeld kry om tenders toe te ken. Fluitjieblasers voer aan omkoopgeld beloop soveel as bykans 10% van die kontrak se waarde en in sommige gevalle word tenders toegeken sonder dat dit ʼn enkele keer êrens geadverteer is.

Die wanbestuur van staatsgeld tot voordeel van staatsdiensamptenare by hospitale en klinieke is ook rede tot groot kommer. Corruption Watch sê dié skelmstreke lei tot tekorte aan medikasie, toerusting wat voete kry of beskadig word, asook onregmatige druk op staatshulpbronne wat tot lewensverlies kan lei.

“Ons grootste kopseer as ʼn land is om skaars hulpbronne toe te wys aan ʼn sukkelende openbare gesondheidsorgstelsel wat nog die nalatenskap van apartheid-Suid-Afrika is,” het Melusi Ncala, skrywer van die verslag, gesê.

“Dit plaas klem op die kommerwekkende werklikheid dat dit die kwesbaarste mense in ons samelewing – bejaardes, vroue en kinders – is wat die spit weens korrupsie moet afbyt.”

“Die misdadigers in die gange, kantore, sale en apteke van ons gesondheidsorgsentrums vererger die probleme wat ons in die gesig staar weens die wegsypeling van geld uit ʼn spaarbus wat begin opdroog, en weens diefstal uit depots wat reeds ʼn tekort aan mediese voorraad het,” het Ncala gesê.

“Uiteindelik word byna 50 miljoen mense se grondwetlike reg op lewe uitgewis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Riaan ·

Die feite is verkeerd. Die armstes verloor niks want hulle het niks bygedra nie. Die belastingbetaler ( die werkende persoon) verloor of dra die swaarste las. Ons moet ophou om alles na die armlastige te herlei. Ons skuld hulle niksz

henndrik ·

Die mense wat die swaarste daaronder lei is die mense wat hulle aan bewind hou, hulle is eenvoudig nie toegerus om te verstaan waarvoor hulle stem nie

samantha ·

Kaas man, die middel man dra die swaarste, hulle praat van “lock down” en “essential” klink vir my meer na “sacrificial”. die middel man betaal nog vir oom taks laksman, net vir die groot oomies om lekker lucky packet te kry. die middel man moet nog skoolfonds betaal moet nog huur betaal, ons het nie ‘n “break” gekry nie. Moenie kom met previously disadvantaged nie. Daai matrass is al vrot gery!

Anel ·

En weer kry apartheid die skul. Wat hulle egtet vergeet is dat hulle ‘n baie gesonde gesondheidsorg gekry het. Hulle het ook nooit vir behandeling betaal nie en het die beste sorg gekry. Maar nou ja, korupsie is due wagwoord hier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.