Arno Jordaan reageer op kritiek van jagvereniging

Arno Jordaan in 'n skermgreep uit die video vir 'Jagtrip'.

Arno Jordaan in ‘n skermgreep uit die video vir ‘Jagtrip’.

Die Afrikaanse sanger en entrepreneur Arno Jordaan het Donderdag gereageer op ʼn ope brief wat aan hom gerig is deur die Konfederasie van Jagtersverenigings van Suid-Afrika (Chasa) in verband met die musiekvideo vir sy jongste enkelsnit, “Jagtrip”.

Die video, wat ʼn satiriese uitbeelding van ʼn jaguitstappie is, het negatiewe kommentaar uit verskeie oorde ontlok en talle jagters, jagverengings en vuurwapeneienaars is van mening dat Jordaan ʼn onverantwoordelike prentjie van jag skets en dat die video onder meer onwettige jagpraktyke ondersteun.

In die video, wat al bykans 15 000 trefslae op YouTube gekry het, is Jordaan en sy vriende op ʼn jaguitstappie terwyl alkohol vrylik vloei en meisies in bikini’s ook hul verskyning maak. Fatman, wat naam gemaak het as sanger in die M-Net-realiteitsprogram The Voice, sorg vir die komiese afleiding.

“Sedert die onlangse uitreiking van die video-weergawe van ‘Jagtrip’ was daar hewige reaksie rondom die skade wat die video kan aanrig aan die beeld van jag en vuurwapeneienaarskap,” lui Chasa se brief wat per e-pos aan Maroela Media gestuur is.

“Chasa stem tot ʼn groot mate saam met die meerderheid van die kommentaar wat in openbare media gehuldig is, maar neem ook kennis van die feit dat daar ʼn kleiner persentasie plaaslike jagters is wat die video ondersteun en wat van mening is dat die video ʼn humoristiese uitbeelding van ʼn jagtog is.”

In die brief, wat deur Stephen Palos, uitvoerende hoof van Chasa, aan Maroela Media gestuur is na aanleiding van ʼn berig wat in Mei op Maroela Media geplaas is oor dié video, versoek Chasa die sanger om die video oor te skiet.

“Ons twyfel nie daaraan dat hulle [Jordaan en sy span] oor die talent beskik om ʼn soortgelyke humoristiese en lighartige uitbeelding van ʼn jagtog te bewerkstellig nie, maar sonder snitte waarin swak vuurwapenhantering, oormatige drankmisbruik of die uitbeelding van vroue as sekssimbole as deel van ʼn jagtog uitgebeeld word,” lui die brief.

“Die aanslag teen jag en vuurwapenbesit bereik tans ongekende hoogtes en die teenstanders van jag en vuurwapenbesit is duidelik beter toegerus en befonds. Ons moet al ons kragte inspan en alles in ons vermoë doen om sover moontlik enige moontlike negatiewe en selfs die mees onskuldige uitbeelding daarvan te verhoed.”

Volgens die brief sien Chasa nie homself as sensor van die kunste nie, maar versoek die organisasie jagters om nie die video in sy huidige formaat te versprei nie.

Jordaan het aan Maroela Media gesê hoewel hy die video kán oor maak, kan hy nie insien watter verskil dit sal maak nie aangesien die video reeds duisende kere op YouTube gekyk is en ook op ander platforms soos WhatsApp versprei word.

“Indien ek sou besluit om die video oor te maak, gaan mense in elk geval net meer nuuskierig wees oor die oorspronklike video. Dit is net hoe mense is,” het Jordaan gesê.

Hoewel hy volhou dat die video net prettig is en hy net ʼn akteur in die video is, besef Jordaan dat dit ʼn negatiewe beeld van hom as persoon skep. “Daarom oorweeg ek dit tóg om sekere dele van die video te verander.

“Ek is ʼn jagter en is deeglik bewus van al die reëls en regulasies rondom vuurwapens en ammunisie. Al die mans in die video is goeie vriende van my en is ook lede van verskeie jagorganisasies wat ingeburger is in ʼn bestaande gemeenskap. Ons doel was nooit om onverantwoordelik te wees, om jag in ʼn swak lig te stel of om enigiemand skade aan te doen nie.

“Die video is bloot ʼn storie wat vertel word en al my vriende was die akteurs. Net omdat ons ʼn storie grappenderwys vertel beteken dit nie dat ons so in ons alledaagse lewens is nie. Ons is almal pa’s van jong seuns en ons strewe daarna hom hulle te leer dat jag en vuurwapens nie speletjies is nie. Tydens die twee dae wat ons die video geskiet het, het ons nie eens ammunisie byderhand gehad nie en Fatman, wat die dronkaard vertolk, sit in sy private lewe nie sy mond aan drank nie,” het Jordaan bygevoeg.

Arno Jordaan in 'n skermgreep uit die video vir 'Jagtrip'.

Arno Jordaan in ‘n skermgreep uit die video vir ‘Jagtrip’.

“Jagtrip” is Jordaan se jongste enkelsnit in sy nuwe album, Kom ons doen dit weer. Die snit is geskryf deur Johan Oberholzer.

“Johan het die liedjie opsetlik dubbelsinnig geskryf – om ʼn jaguitstappie uit te beeld, maar ook om te sinspeel op enkellopende mans wat ‘jag’ vir ʼn vrou. Hy het geweet ek het ʼn voorliefde vir jag en het my genader om die liedjie op te neem.”

Volgens Jordaan beplan hy om ʼn kennisgewing by die video op YouTube te voeg waarin hy kykers maan dat die video slegs in ʼn ligte luim geneem behoort te word. “Ek neem elke e-pos, klagte en opmerking baie ernstig op. My bedoeling was nooit om die sport of enige iemand skade aan te doen nie, maar bloot om ʼn lekker, tong in die kies-video te maak. Ek vra om verskoning aan enigiemand wat aanstoot geneem het. Ek, en al my vriende in die video, ondersteun veilige en wettige jagtogte.”

Jordaan het ook bevestig dat hy telefonies met Palos gekommunikeer het nadat hy die brief ontvang het. “Na afloop van ons gesprek, en ook my ander gesprekke met verenigings soos die SA Jagters- en Wildbewaringsverenigings, glo ek dat ons tot ʼn vergelyk kon kom en dat hulle nou beter verstaan wat my bedoeling met die video was, terwyl ek van my kant af ook kan insien presies wat hul griewe is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

66 Kommentare

Daan ·

Van wanneer af het ons Suid Afrikaners so fyn gevoellig geword?

Yvonne ·

Nee Daan . dit het niks met fyn gevoelig te doen nie. Dit beeld die blanke Suid Afrikaanse Man as ‘n brandewyn drinkende onverantwooredelike rok jagter uit . Dit is nie veronderstel om so te wees nie. Drank en gewere hoort nie saam nie punt . Ek weet in elke geval nie hoekom vrouens hul self so moet verneder nie. As hulle nie vergelyk word met kos en karre nie is hulle skielik half kaal wild om ‘n watergat . Regtig dames het julle geen trots nie.

Ons baklei so om ons wapens te hou en dan kom iemand soos Arno Jordaan en wys vir sekeres wat ons nou eintlik met ons vuurwapens doen. Hy moes regtig verder gedink het.

Wondernet ·

Hoe moet sy klein seuntjies voel oor so video? Watter indruk skep dit vir hulle?

HM ·

Niemand is beseer nie en geen dier was mishandel nie.. Wat is eintlik die probleem. Almal was net vrolik. Eintlik die titel vervang met girltrip. Ai moet daar mense wees wat altyd die verkeerfe indruk kry.

Sê maar net ·

Oppervlakkige mense sal niks verkeerd hiermee sien nie.
Maar daar word spesifiek na ‘n groep mense verwys en gestereotipeer. En dan is dit boonop swak smaak ook.
Terloops, ek kom uit ‘n familie waar ons as gesin jag. Daar is nooit halfkaal vrouens of mans wat hulself op meer as een manier nie kan beheer nie.
Dit tas elke jagter se beeld aan, maar ook elke man s’n. Dit beeld mans ook as oppervlakkig en maklik uit, om nie eens te praat van die vrouens nie. So ja, wat ‘n teleurstelling.

Deloris ·

Daan Ek stem saam…..
ons SAfrikaaners is mos bekend vir ons sin vir humor… Mense kom aan…… skuif net vir n oomblik die ernstige goed opsy…. Die lewe is ernstige genoeg…

Ruben ·

Wel dis hoe jagtrips is meeste van die tyd…drank,skiet en soms vrouens.Hy sou nie die video so skiet as sy jagtrips nie so was nie.

Pieter De Kock ·

As ek gaan jag is daar altyd meisies in bikini’s!!! Wat’s verkeerd daarmee?

Marius ·

Mense sulke goed gebeur ons almal drink nie tee en skiet met ‘n pellet as ons gaan jag.Wat happens in the jagveld stays in the jagveld.

MB ·

Ek is ‘n jagter en het geen probleem met die video nie. Mens moet besonders suur en humorloos deur die lewe beur om iets meer in die video te lees as humor. So asof voornemende jagters nou die video as opleidingsmaatstaf gaan gebruik vir hul jag!

Oppervlakkige girl..... ·

Ek stem volkome saam met jou MB. Suid Afrikaners het regtig waar baie meer ernstige goed wat aan die gebeur is om wel oor te kla. En n bietjie humor langs die pad kan ons almal goed doen. Regtig waar mense dis net n musiek video, aanvaar dit in die sin wat dit bedoel is. Ek is dan maar oppervlakkig, hoe dinge deesdae in SA gaan het niemand meer iets om oor te lag nie. So bietjie humor kan ons almal net goed doen.

Ek jag nie ·

Jong ek ken vele wat jag en jag plase het. Ek is soos Fatman… Drink glad nie alcohol nie… Realiteit is drank is een van die hoof bestandele van so trip. Fun is ook ‘n groot bestandeel. Girls… Very few and far inbetween. Die musiek video is fun. Hou op om die was voor die bok in te span. Humor… Altyd’ n goeie een om te he.

Lodi ·

Ek kan die humor inni video sien, mar ons almal weet as daar n jagtrip is tussen vriende dan is daar altyd voor of na die jag n gekuier. Die uitbeeld van die dronk persoon met n vuurwapen is nie vanpas inni video so ook die girls inni video., dit was mar seker Arno Jordaan se kant van humor inni video. Soos ons weet gaan drank en vuurwapens glad nie saam nie. Dink dit kan ons Suid Afrikaners in n baie onverantwoordelike posisie plaas. Dalk sal dit beter wees om die video oor teskiet sonder al die drank enni girls

Sê maar net ·

Die video en liedjie doen dit nou glad nie vir my nie. Ongeag die politieke daar agter. Maar sien niks verkeerd en so erg daaraan nie. As mense dit geniet, so be it. Different strokes for different folks.

Kay ·

Ai, dom video. Ek is groot op humor en het n oop kop met mense wat die lewe in n ligte luim wil vertoon…lewe is hard en wreed genoeg. MAAR die een is nie deurdink nie. Doen oor. Net te veel verkeerd hier……

CHAPPIES ·

Ek drink of jag nou gladnie, maar my genade tog,wat is nou fout met so biki terg of humor…enige aap kan mos sien dis n groot gespot!

MCS ·

Het ook gedink dat ek meer van Arno verwag het as om so ‘n video te maak. Hy is altyd so stylvol. Daar is niks met die lied verkeerd maar die video is vir my swak. As dit Snotkop was, was dit te verstane.

Griet ·

Ag,asseblief…!!!
Hier gaan baie erger dinge soos roof, dood en moordslag in dié land aan,tot met parlementslede wat in die openbaar lewendige ammunisie afvuur…ou Arno se jagtrip lyk soos ñ kinderpatytjie!
HEERLIK GELAG,ONS KORT HUMOR !

Andreas ·

En Duke, die skimmelperdjie is die ene bewerasie, elke nou en dan trek dit ‘n spier, die lippe bewe as hy harder op die stang byt, want hy dink hy gaan nou perdevleis raak.

Johann Kriek ·

Die video is swak en stel jag oor die algemeen in ‘n swak lig.

Die rede hoekom hy 15k+ kere gekyk is, is omdat al wat ‘n jagter eers wil kyk watter swak afbeelding van hulle gemaak is.

Lees die komentaar op die video op youtube en maak dan jou eie afleidings.

Wielspore ·

Ek noem hierdie chappie musiek, niks daarmee fout, dit is vir die jong geesdriftige mark bedoel wat so loop loop kou aan ‘n chappie op die ritme van die lied. Jagters is ernstige manne wat nie chappies kou, om raak te skiet moet jy kan asem hou, wat nog van aan ‘n chappie kou. Arno, gaan voort, jou musiek is kwaai, jagters, hou maar die skote terug.
Lekker kou en lekker skiet.

HP ·

Kommin swak snert wat as musiek beskryf word. Jammer om Afrikaans so platvloers te maak.
Baie waardering vir Steve; gelukkig is daar meer goed.

Andreas ·

Kan nie help die hart is sag nie, kan nie help dis hoe ek is nie, kan nie help en voel te veel vir die natuur nie, kan nie help ek is onrealisties om te wil bewaar nie, kan nie help ek huil saam met my hond as hy seergekry het nie, kan nie help dat na my eerste hond dood is ek dit nie kon verwerk en daarna nooit ooit weer deur so iets wou gaan nie, nooit weer ‘n troetel aangeskaf het nie.

Dit was soos om voortydig jou eie kind te begrawe wat jy nooit beskore was om te hê nie.

Maar dit is seker soos die beloop van die lewe is, die een wil bewaar, die ander een wil skiet.

Anoniem ·

Dit is n video gemaak om grappig te wees maar hy het twee kante een is vir mense met n sin van humor en dan vir die met geen humor. Ek persoonlik sien dit glad nie as grappig nie alhoewel ek n sin van humor het. Die video kan en ek glo het al klaar moeilikheid veroorsaak tussen die man wat jag en sy vrou want baie vroue gaan nou dink dat as haar man gaan jag dan is dit n gesuipery en rondslaap met ander vrou. Dus dink aan ander mense ook voordat jy so onsmaaklilkke video maak en dan versprei. Jy kan mense se lewe verwoes en ja ek drink ook my brandewyn maar geniet hom en raak nie n vark nie.

EO ·

Ai, die lewe is deesdae so vol negatiewe dinge wat in ons land gebeur. ‘n Bietjie humor in ‘n musiekvideo doen beslis goed vir mens. Mense, moet tog asb nie sooo ernstig en kleinlik wees nie. Dis net ‘n musiekvideo!! Gelukkig hoef die ou suurknolle nie die musiekvideo te koop nie. Dankie Arno vir jou puik musiek!!

EO ·

Robert, ek stem saam. Daar word in baie videos van meisies in skraps klere gebruik gemaak. Kyk Snotkop se videos ook. Ek kan nie verstaan dat daar sulke ou kranklike kla kouse in die lewe is nie. Mense moet minder so ERNSTIG en met oogklappe deur die lewe gaan.

Petro Potgieter ·

Daar het al soveel ongelukke op jag ekspedisies gebeur as gevolg van dronk jagters.
Gelukkig is daar nog Professionel Jagters wat nie bereid is om met die Suid-Afrikaners te jag nie as gevolg van die feit dat hulle net kom om te drink en nie ernstig is oor diejag nie.

ES ·

Ek dink mense moet ophou om so sensitief, self-gesentreerd en uitgesproke te wees – veral mense wat not nooit gaan jag het of wat geen idee het wat dit behels nie.

Dit is ‘n bespotting (en gekskeer) en omtrent glad nie die werklikheid nie. Party jagtogte is jy amper heel dag in die veld agter die dier aan voordat jy hom plattrek en in die aande drink jy ‘n brandewyntjie en as jy gelukkig is, is die enigste vrou wat daar is die eienaar van die plaas s’n wat seker maak jy het genoeg kos en warm goed.

Terloops, begin die jagseisoen waneer dit amper winter is – so enige vrou in ‘n bikini gaan verkluim.

Leon ·

Ek sien niks verkeerd met die video nie. Ek is ook nie oppervlakkig nie. Die jagvereningings sal in hulle barndewyn en coke stik as hulle moet weet wat op baie jag ekspidiesies gebeur. Drank vloei vrylik en daar is baie onverantwoordelikheid. Hulle lede mag dalk soet wees, maar die res is definitief nie.
Ek is 100% anti-jag. Wild uitdun as dit absoluut moet, maar nie diere vir die pret skiet nie. As jy vleis soek, gaan skiet vir jou ‘n koie of ‘n skaap.
Ek dink Arno se video lig ‘n groot probleem wat on in die RSA het uit.

Anita ·

Wens die lewe kon nie so klomp suurg**** gehad het nie. Met al die drama kan so video vir baie mense bietjie laat glimlag. Dis net ‘n video, net soos flieks op tv net flieks is.. Geniet bietjie die afleiding en moenie altyd met alles fout soek nie.. Lewe bietjie met liefde en vrede en geluk en soek minder vir foute om mense oor uit te haal.. ons lewe net een keer. Lewe dit voluit.

AG ASB ·

Jakkalsgat great kuierplek. Arno great ou. Mooi girls. Nice video lekka boys

Drikus Kotze ·

Suid-afrikaners het so fyn gevoelig geword vandat die volgende die lig gesien het: On Thursday, Gun Owners South Africa (GOSA) said the draft amendment bill to the Firearms Control Act was “released” on Wednesday. … In a statement, GOSA said the draft legislation will take away self-defence as a valid reason for owning a gun, “infringing on every South Africans’ right to life”.Oct 18, 2018

M'Lady ·

Arno Jordaan is self n jagter. So ek neem aan dat hy eerstehandse kennis het van wat op so n “uitstappie” gebeur. Wonder net hoeveel wild word gekwes in die proses. Goeie voorbeeld was waar die PH glasie in die hand jag gemaak het op n olifant.

Andreas ·

EO, MAAR hulle hardloop nie met jaggewere tussen wilde diere in die veld rond nie.

Kobus ·

Hierdie is nie humor nie, dit is ń kort dokumentêre film oor die jagbedryf. Daar was met elke jagtog waarop ek was, al van gehoor het en wat nog beplan word, 24/7 ń gedrinkery, wulpse meisies met en sonder swemklere, mak bokke en nog drank! Wat die video vir my onrealisties maak is dat dit nie wys hoe almal rook nie. Waar is die tonele van diere wat by ń watergat geskiet word? Geen jagtrip-girl wat haar sout werd word ooit sonder ń sigaret en ń dop gesien nie. Waar is die vuisgeveg, die dagga en die dwelms ? Nee wat Arno, ek gaan nie saam met julle vervelige outjies jag nie.

Jepetto ·

Vrou kyk maar mooi as jou man gaan jag dis wat by sommige jagtrips gebeur party trips gaan dit nog wilder

CR ·

Dit lyk na pret vir vele maar swak smaak t.o.v die manier waarop drank gebruik word saam met vuurwapens. Dit terwyl ons ou volkie deurloop en wapens van ons af weg gevat wil word. Kinders sien hierdie tipe dinge raak en glad nie ‘n goeie voorbeeld nie. Om vrouens met min klere aan deel te maak hiervan is nog swakker smaak. Arno is so ‘n oulike ou en hierdie pas glad nie by hom as mens nie. Hierdie video straal die verkeerde beeld uit van ons blanke mans as jagters.

Michelle O. ·

Danksy die video weet ek ook nou wat op jag trips gebeur …

Sandra ·

Ek hou van die liedjie en van die humor! Die mense wat nie van Afrikaanse musiek hou nie, moet maar emigreer. Want Afrikaans is groot. Arno, sny ‘n paar dele uit , wys waar die manne koffie ook drink, en trek vir die meisies bietjie meer klere aan. Mense het misgekyk dat daar ‘n kompetisie was waar die dames aan deelgeneem het. Dit is hoekom hulle daar was. Ons mense is tog maar eng. Mens moet fyn trap om nie aanstoot te gee nie.

Tana ·

Dit is presies wat ek wou aanraak. Ek is n vrou, PH, en natuurliefhebber. Ek probeer elke dag vrouens oorreed om deel te raak by jag en die bewaring van ons natuur en diere. Meeste vrouens dink juis dat n jagtrip net n gesuip en n gemors is. Plaas dat Arno sy familie gebruik het, en n positiewe jagtrip uitgebeeld het. Miskien sou meer vrouens dit dalk dan wou probeer. Daar is nie fout met n drankie om die vuur en n paar grappe nie. Vrouens weet al wanneer hulle die manne alleen moet los om die vuur. Maar gewere en drank werk nie saam. Nie n goeie video nie. Maar net my persoonlike opienie

Tone ·

Ek dink daar word met hierdie video op paar manne se tone getrap! Kom ons wees nou eerlik – daar is sulke “jagtrips”.

Elize ·

Ag SA Jagvereniging, get ‘n life, word groot en leer om die lewe te geniet. Ek dink Arno Jordaan se video is puik en is satiries. Blykbaar herinner dit julle aan die jags trippies en nie die jag trippies nie…..want daar is baie daarvan. Mense hou mos nie daarvan om aan hulle swakhede herinner te word nie.

Baie mans vertel hulle is alleen maar dan gaan leen hulle dames van die nag of ander mans se dames om mee te jag………………………..

Welgedaan Arno, hou so aan.

Marius ·

As julle mooi na video kyk is dit net daai een ou wat verdwyn het na ‘n privaat bikini kompitisie(wat die video eintlik probeer se daar is altyd een ou wat erg dronk word en net girls wil he)Ha Ha

Grens ·

Kan ons asb daai plaas se besonderhede kry. Ek wil daar bespreek vir ‘n jag. Lyk lekker en die rooibokke is mooi vet!!

Devill ·

Hoe kan dit pret wees om diere te jag? Hoe kan dit pret wees om iets dood te skiet?

Nee, dit is ‘n ernstige besigheid!
Maak seker die EERSTE skoot is doodskoot! Niks pret of “fun” om ‘n dier te sien ly nie!

Drank belemmer jou vermoë om 100% te dink, jy begaan oordeels foute en skiet swak, die dier ly, hoe kan dit pret en onskuldig wees.

As julle skiet vir die pot, sure! Maar om dit as pret af te maak is bietjie siek vir my!

Ek voel SLEGS proffesionele jagters, wat geregisteer is vir die doel, mag toegelaat word om te jag!

Johan ·

En Profesionele Jagters kan nie ‘n dier kwes nie? Om ‘n PH In Suid Afrika te word is nie juis moeilik nie. Wat ‘n grap, Devill

Andreas ·

Ja ek stem saam met Chasa, baie werk word ingesit om Jag in SA te bevorder en korrek uit te beeld, die video is regtig swak smaak en afbrekend van etiese jag.

Andreas ·

Terloops, ek het verseker nie my eie naam gekaap nie. Ek stem terloops 100% saam wat jy namens my sê.

Dawie ·

Ag nee wat….ek kan die gekla nie verstaan nie…..ek kan ook nie insien dat jag enigsins benadeel het nie…ek….as ek ‘n dood gewone mens…kan mos nou vir my self dink….hierdie is net ‘n musiek video….waar spot, lag en pret ensovoorts met baie rolspeel ens uitgebeeld word…….as dit ‘n dokumentêre program was oor jag verstaan ek dat mens nie gaan verwag iemand hardloop met glasie en ‘n geweer oor die skouer nie……MAAR ‘n MUSIEK VIDEO………musiek…jag…musiek….jag…. (klop-klop)….”hello”…….”iemand by die huis”………daar is ‘n verskil……ek wonder nou…..as julle so kerm oor ‘n musiek video….wat ons almal weet is net ‘n MUSIEK VIDEO……..hoe kerm julle oor die werklike lewe…..ag nee man……..Wat van al die fiksie – misdaadboeke wat mens lees waar jaggewere gebruik word om MENSE dood te skiet……hoekom kla julle nie ook oor dit nie….(wel ek dink nie julle lees boeke nie….)….wat ek nou wil sê,…. wil ek sê met baie groot respek…….jy kry iemand wat jou iets sê, dalk iets wil afdwing of ‘n mening het…of wat ookal…..en dan terwyl daai persoon wegstap……dan dink jy terwyl jy die persoon agterna kyk………”stupid poeperol”…..dit is presies hoe ek voel oor die onnodige gemor….heng man…..dan lewer julle vereenigings ook nog kommentaar…..(…”regtig”….) toemaar….vergeet wat ek gesê het……ek dink nie julle gaan die prentjie kry wat ek skets nie….Arno….ek like jou song…en die video.

Johan Grobler ·

Die video is net so swak soos die sang. Doen almal ‘n guns en haal altwee van die lug af

Christa ·

Daar Sal Altyd mense wees wat kla. Hulle . Hulle Sal soek met vervrootglas on iets te kry, maar klaar Sal hulle wel

Koeksuster ·

Die oomblik toe die drank in die een hand en die geweer in die andef hand was is dit verkeedd gewees. Ja na die tyd kuier die manne dalk maar beslis nie terwyl hulle met gewere in hulle hande staan nie. Swak smaak en n onverantwoordelike beeld wat uitgestraal word deur onverantwoordelik te jag!

Rudolph van Wyk ·

Die jag en diere(mis)handel bedryf het een van die grootste kulkunse in die geskiedenis reg gekry. Hulle het deur middel van slim, misleidende bemarking van voelende, lewende wesens gevoellose objekte gemaak waarop mense kan teiken skiet ter wille van smaak en vermaak. Geen mens wat vir homself dink en oor ‘n greintjie deurnis of beskaafdheid beskik sal homself deel maak van bedryf nie. Neem kennis, ek is nie ‘n ‘diereliefhebber’ soos sommige my dalk sal wil beskryf nie. Ek vind sommige diere net so irriterend soos sommige mense maar ek glo aan geregtigheid vir mens en dier. Geen mens of dier verdien om te sterf of mishandel te word om ‘n ander mens se drang na smaak of vermaak te bevredig nie.

Anti Jag ·

Myns insiens is jag wreed en onmenslik. Ek het nog nooit gehoor van ‘n jagtog waar daar nie gedrink was nie want dis mos ‘n prestasie as iemand hom sleg gedra het op so ‘n geleentheid, almal lag daaroor tot die wat nie gedrink het nie. Verder is dit ook nie ‘n prestasie om ‘n dier te bekruip en met ‘n jaggeweer oor ‘n lang afstand te skiet skiet nie, dis eintlik moord. Om met ‘n pyl en boog te skiet maak die speelveld bietjie meer gelyk en kan dalk as ‘n sport beskryf word. Dankie Arno jy het dalk per ongeluk die ware beeld van jag blootgestel. Mens het nie meer nodig om vir die pot te skiet nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.