Aros huldig nuwe rektor amptelik in

Prof. Rikus Fick is tydens ʼn spoggerige geleentheid amptelik as Aros se nuwe rektor ingehuldig. Foto: Verskaf.

Prof. Rikus Fick is vroeër vandeesweek tydens ʼn spoggerige geleentheid amptelik as die Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) se nuwe rektor ingehuldig.

Volgens Nadia Scott, Aros se bemarkingbestuurder, het die private Christelike hoëronderwysinstelling wat grade in onderwys bied ʼn nuwe era betree met die inhuldiging.

“Ons is opgewonde om die toekoms in te stap en aan te pak met hom aan die stuur van sake by die instelling,” het Scott gesê.

Talle bekendes in akademiese kringe het die spesiale geleentheid bygewoon. Onder die gaste was Marthinus Visser, bestuurshoof van Akademia, prof. Gerrit Smit van die AP Akademie, Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging, dr. Dirk Hermann van Solidariteit en dr. Theuns Eloff, voorsitter van onder meer die MOS-inisiatief, was van die gesigte in die hoëronderwyskringe en Afrikaanse taalomgewing wat die geleentheid meegemaak het.

As nuwe rektor bring Fick waardevolle ondervinding van die sekondêre onderwyssektor wat hy opgedoen het in sy vyf jaar as onderwyser in Latyn en Afrikaans by die Potchefstroom Gimnasium in Noordwes.

Terwyl hy met sy teologiese studie besig was, het hy by die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, wat nou as die Noordwes-Universiteit (NWU) bekendstaan, ses jaar lank as lektor in Latyn gedoseer.

aros-inhuldiging-2019-07-01

Foto: Verskaf.

Fick was daarna 17 jaar lank ʼn predikant in die Gereformeerde kerke Komatipoort en Springs.

Vanaf 2007 was hy senior lektor en later professor in Latyn en kerk- en dogmageskiedenis aan die Teologiese Skool Potchefstroom en die Fakulteit Teologie van die NWU waarvan hy twee jaar ook as direkteur van die Skool vir Bybelwetenskappe en Antieke Tale gedien het.

Sedert 2012 was hy studentedekaan en direkteur van studentelewe by die NWU waar hy waardevolle ondervinding in universiteitsbestuur en studentelewe opgedoen het. Hy is steeds deeltyds by die akademie betrokke en het die afgelope jare talle meesters- en doktorsgraadstudente begelei.

Tydens die geleentheid is prof. Michael Heyns, voorheen verbonde aan die NWU, ook amptelik verwelkom. Prof. Heyns het diens by Aros aanvaar op 1 Maart 2019. Prof. Rikus Fick is aangestel as rektor van Aros met ingang 1 Junie 2019.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

lewies ·

Die legkaart oor die onderwyspad as ‘n kultuuropdrag vir die Afrikaanse komponent van SA se samelewing word vir my persoonlik nou al duideliker. Die name wat saam op die gastelys van hierdie geleentheid verskyn, het my weer hoop gegee vir onderwys en opleiding en die invloed wat dit op ons kinders en kleinkinders gaan he. ‘n Unieke opvoedingsfilosofie vir die wat dit verstaan en wat bymekaar hoort. Sterkte vir die invloed wat julle as rentmeesters oor die hele onderwyssituasie in SA kan uitoefen.

Gideon Wentink ·

’n Groot verlies vir die Puk is ’n enorme aanwins vir Aros. Prys die Heer vir instansies soos Aros, die AP Akademie en Akademia. Mag hulle van krag tot krag gaan!

moedertaalonderrig ·

Hierdie “mostersaad-gebeurtenis” moet fyn dopgehou word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.