Aros kry nuwe uitvoerende hoof

Aros-SR2015-en-Niclaas

Niclaas Roets, Aros se nuwe uitvoerende hoof (middel) saam met die ondervoorsitter, Heleen Viljoen, en voorsitter, Samantha Kvalsvig, van die instelling se nuwe studenteraad. Foto: Aros.ac.za

Aros se nuwe uitvoerende hoof, Niclaas Roets, is op 22 Julie 2015 ingehuldig. Roets vervul reeds van Januarie 2015 af dié rol. Die inhuldigingsfunksie het by die Gereformeerde kerk, Die Kandelaar, in Waverley plaasgevind en verskeie belanghebbendes in die Moot-gemeenskap het dit bygewoon.

Niclaas Roets was al sedert 2004 betrokke by Aros. Roets het ʼn MCom-graad en 12 jaar ondervinding as geoktrooieerde rekenmeester. Hy het in sy toespraak gesê: “Ek is vanaand ten diepste bewus van dié wat my lewe gerig en gevorm het.” Roets het ook genoem dat dit vir hom ʼn groot voorreg is om Aros te dien.

Aros is ʼn onderwysopleidingsinstansie in Pretoria wat ʼn BEd Grondslagfase-graad aanbied. Dié opleiding is gegrond op ʼn Christelike fondament. Verlede jaar kon Aros met dankbaarheid sy tienjarige bestaan vier.

Vanjaar was vir Aros ʼn geseënde jaar, met die Graad R-onderwysdiploma wat goedgekeur is en van 2016 af in werking gestel word. In Junie het Aros ook ʼn nuwe bedryfsbestuurder, Lukas Hurn, aangestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.